Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Vat 5: Dít moet jy op Nasionale Kunstefees sien

As jy kopkrap oor watter vertonings jy by vanjaar se Nasionale Kunstefees op Makhanda moet bywoon, is jy nie alleen nie. Met meer as 500 verskillende uitstekende produksies, is dit beslis nie maklik om te kies waar jy moet vat en wat jy moet los nie.

Die teaterskepper Jemma Kahn is in Cellist with Rabies te sien. Foto: www.nationalartsfestival.co.za

Ons het raad! Hier is vyf produksies waarvoor jy gerus op die fees se eerste naweek kan uitkyk.

1. Cellist with Rabies

Die bekroonde teaterskeppers Jaco Bouwer en Jemma Kahn het die Japanse storievertelvorm “kamishibai” in Cellist with Rabies gebruik. Die stuk volg ’n viroloog wat op die rand van ’n groot navorsingsdeurbraak is, maar haar dag neem ’n aardige wending wanneer die virus wat sy onder ’n mikroskoop bestudeer met haar begin praat.

Bouwer en Kahn is albei voormalige teaterwenners in Standard Bank se Jong Kunstenaar-kompetisie. Dit is hul eerste samewerking, in dié geval as onderskeidelik regisseur en draaiboekskrywer.

* Cellist with Rabies word op 28 en 30 Junie en ook op 1 Julie om 11:00 by die Graeme College uitgevoer. Kaartjies kos R80 en die afslagprys is R75. Die ouderdomsperk is 16 jaar.

2. DEURnis/Uzwelo

’n Ervaring soos min wag op teatergangers in DEURnis/ Uzwelo. Die bekroonde produksie bestaan uit 12 kort opvoerings wat een ná die ander vir net een gehoorlid op ’n slag opgevoer word. ’n Kaartjie gee jou toegang tot drie van dié kort opvoerings, wat elk sowat 20 minute lank is en in verskillende vertrekke in die PJ Olivier-gebou opgevoer word.

Die bekroonde produksie het al talle pryse gewen, onder meer ’n kykNET Fiësta (2018), ’n ATKV-Woordveertjie (2017), en die prys as beste produksie op 2018 se Vrystaat Kunstefees.

* DEURnis/Uzwelo word van 27 Junie tot 1 Julie om 11:00, 15:00 en 16:30 in die PJ Olivier-gebou opgevoer. Kaartjies kos R80 en die afslagprys is R75. Die ouderdomsperk is 16 jaar.

Dit is die komediant Rob van Vuuren se 25ste jaar by die Nasionale Kunstefees in Makhanda. Hy is vanjaar in onder meer Rob van Vuuren: AGAIN! op die fees te sien. Foto: www.nationalartsfestival.co.za

3. Rob van Vuuren: AGAIN!

Kan jy glo dit is die grapkas Rob van Vuuren se 25ste jaar by die Nasionale Kunstefees? In Rob van Vuuren: AGAIN! takel die komediant onderwerpe soos tarentale, popmusieklirieke en openbare vervoer. Hy mag dalk ook tydens die vertoning sy dansskoene aantrek!

Om ’n kwarteeu van vermaak by die fees te vier, is Van Vuuren ook vanjaar te sien in twee kinderproduksies, The Great Pangolin Mystery en The Sugarbush Mouse.

* Rob van Vuuren: AGAIN! word op 29 Junie om 19:00, 30 Junie om 18:30, 2 Julie om 15:30, 3 Julie om 20:30, 4 Julie om 11:30 en 5 Julie om 17:30 in die Drill Hall uitgevoer. Kaartjies kos R120 en die afslagprys is R115. Die ouderdomsperk is 10 jaar.

4. Going Back to the Truth of Space

Die balletdanseres en choreograaf Kitty Phetla, wat in 2018 die danswenner in die Standard Bank-kompetisie was, sprei haar vlerke in Going Back to the Truth of Space. In dié dansproduksie gaan Phetla haar danstalent uitstal op die maat van musiek deur die komponis Nduduzo Makhathini, wat in 2015 die jazzwenner in die Standard Bank-kompetisie was.

* Going Back to the Truth of Space word op 28 Junie om 15:00 en 19:00 en op 29 Junie om 12:00 en 16:00 in die Great Hall uitgevoer. Kaartjies kos R70 en die afslagprys is R65. Daar is geen ouderdomsperk nie.

Die balletdanseres en choreograaf Kitty Phetla span kragte saam met die komponis Nduduzo Makhathini in Going Back to the Truth of Space. Foto: www.nationalartsfestival.co.za

5. This song is for ...

Die bekroonde visuele kunstenaar Gabrielle Goliath – in 2018 die wenner in die Standard Bank-kompetisie se afdeling vir visuele kuns – gaan ’n uitstalling op Makhanda aanbied. In This song is for ... gaan gehore na ’n video-installasie kyk wat ses liedjies in die kollig plaas – elke liedjie is deur iemand gekies wat verkrag is. Die liedjies is deur ’n vroue-ensemble opgeneem, maar die musiek sal by tye verwring word om trauma en pyn te simboliseer.

* Die uitstalling is gratis en kan elke dag van 09:00 tot 17:00 by die Monument-galery besigtig word. Óf Goliath óf ’n kunskurator sal op 28 Junie om 16:00, 30 Junie om 16:00 en 3 Julie om 10:00 by die uitstalling teenwoordig wees.

Meer oor:  Makhanda  |  Komedie  |  Nasionale Kunstefees  |  Vermaak  |  Rob Van Vuuren
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.