Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Vermaak op Oujaarsaand

As jy nog nie planne vir Oujaarsaand het nie, dan is daar ’n paar teaters waar jy lekker vermaak sal vind.

Kurt Darren Foto: Christiaan Cloete

* Jy kan op die Nuwejaar-supersokkie in Carnival City in Sun Park in Brakpan aan die Oos-Rand die sekondes na 2019 aftel. Dié musiek-opskop word vanjaar vir die vierde keer deur die Afrikaanse pop-koning Kurt Darren aangebied.

Darren en kunstenaars soos Ricus Nel, Ray Dylan, Leah, Pieter Koen en Jan Bloukaas sing van hul gewildste treffers.

Die konsert begin om 21:00 en die deur open om 20:00.

Kaartjies kos R150. Bespreek by Computicket.

Marc Lottering as Aunty Merle.

* In die Baxter-teatersentrum in Kaapstad word drie konserte aangebied en ná die tyd sal daar in die voorportaal partytjie gehou word totdat die nuwe jaar aanbreek.

Een van die vertonings is Marc Lottering se groot treffer Aunty Merle, the Musical.

Nick Rabinowitz se jongste komedie, Dry White, is ook te sien en is nog tot 12 Januarie op die planke, en Real Art Wednesday se Raw-fees is nog tot 5 Januarie aan die gang.

As deel van die Raw-fees gee kunstenaars sedert die middel van Desember saans in die Golden Arrow Studio kort, energieke vertonings. Die kunstenaars wat nog gesien kan word, is Gabi du Plessis (31 Desember), Keanu Harker (2 Januarie), Officially Mo (3 Januarie), Swakhile (4 Januarie) en Jesse Julies (5 Januarie).

Optredes op Oujaarsaand begin later en kaartjiepryse sluit toegang tot die partytjie en ’n gratis glas vonkelwyn of sap in. ’n Orkes en platejoggies sal musiek verskaf. Lottering se produksie is vir die derde speelvak in die Baxter-teater.

Bespreek by Webtickets by 086 111 0005 of aanlyn by www.webtickets.co.za

’n Toneel uit The Play That Goes Wrong.

* In Montecasino in Fourways, Johannesburg, kan jy skater vir die manewales van die karakters in die Suid-Afrikaanse weergawe van The Play That Goes Wrong.

Dié klug deur Henry Lewis, Jonathan Sayer en Henry Shields, waarvan die Britse produksie voorheen met ’n Laurence Olivier-teaterprys bekroon is, duur tot Sondag in die Pieter Toerien-teater. Dit is die tweede speelvak in Montecasino.

Dit is die beste medisyne vir neerslagtigheid. Die regisseur is Alan Committie met onder andere Louis Viljoen, Craig Jackson, Roberto Pombo en Russel Savadier in die rolverdeling. Dit handel oor ’n groep amateurs wat ’n riller opvoer, maar alles loop skeef. Kaartjies kos R100 tot R240. Bespreek by Computicket.

Petrus de Beer, Stanislav Anguelov en Schalk Joubert voer Vivaldi se “Vier Seisoene” op Oujaarsaand uit.

* Op die maat van Antonio Vivaldi se gewilde “Vier Seisoene“ tree die World Café Trio op 31 Desember in die Brooklyn-teater in Pretoria se agtste Oujaarsaandkonsert op.

Dié trio bestaan uit Stanislav Angelov op trekklavier, Petrus de Beer op viool en Schalk Joubert op baskitaar. Die oorspronklike musiek is geskryf vir strykers, kerkorrel en soloviolis. Dié vier vioolkonserte is in 1723 gekomponeer en in 1725 in Amsterdam uitgegee. Tot op hede is dit een van die Italianer Vivaldi se gewildste werke. Die trio het die musiek in 2016 op die RSG-kunstefees uitgevoer. Dit is opgeneem en in 2017 op CD uitgereik. Dié album is ook in die Brooklyn-teater se musiekwinkel beskikbaar. Die konsert begin om 22:30 en kaartjies kos R400. Besoek ticketspace.co.za om te bespreek.

Meer oor:  Kurt Darren  |  Marc Lottering  |  Montecasino  |  Baxter-Teater  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.