Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Verrassende produksies van die jaar was nie in teaters

Teater is nie beperk tot ’n spesifieke lokaal nie.

Ook met produksies in Gauteng vanjaar was dit die geval.

En teatervervaardigers verras ’n mens telkens.

Of dit nou in ’n bewegende motor of in ’n woonhuis in verskillende vertrekke met slegs een speler en een gehoorlid plaasvind.

Jannes Erasmus in Swem, een van die solostukke in DEURnis. Foto: Henque Heymans

DEURnis is ’n teaterervaring wat in Capital Park, Pretoria, in ’n woonhuis deur Theatrerocket Productions aangebied is.

Met een speler teenoor een gehoorlid kon teatergangers die geleentheid kry om op een aand drie solostukke van ongeveer 20 minute elk direk na mekaar te sien – in verskillende vertrekke in ’n woonhuis.

Dit is ’n teaterkonsep wat al in ander lande gebruik is.

Herman Vorster in bRENT.

bRENT was van ’n ander aard.

Dié produksie, ’n riller wat in ’n motor afspeel en aangebied deur VNA Produksies, was die derde in die Mobile Thriller-reeks. Dit het ná optredes in Kaapstad en Grahamstad ook in Centurion plaasgevind.

Herman Vorster, die teksskrywer en die hoofkarakter, Brent, is die bestuurder van die motor en die gehoorlede, op die meeste drie op ’n slag, is die passasiers. Vianney Henry Farmer, ook die vervaardiger, was die ander akteur, met Quintin Wils as die regisseur. Dit volg op ONSkuld en aLEXA, wat ook in motors afgespeel het.

Op ’n stadium in bRENT, wanneer die gehoorlede besef wat eintlik aan die gang is, is dit onafwendbaar dat hulle wil help en gebeure probeer stop.

Op die internasionale front is die ontslape Amerikaanse dramaturg Lorraine Hansberry se toneelstuk A Raisin in the Sun in die John Kani-teater in die Markteater opgevoer.

James Ngcobo was die regisseur. Hansberry se drama was die eerste van ’n swart vrou wat op Broadway opgevoer is. Dit vertel die verhaal van ’n gesin in Chicago se daaglikse stryd om oorlewing in ’n arm buurt.

In Johannesburg het Afrikaanse teater ook kers vasgehou by die aanbod van verlede jaar.

Willem Botha in Altyd in my drome.

Kosie Smit en die Kosie House of Theatre het in samewerking met Pieter Toerien ’n vyf maande lange Afrikaanse seisoen in die Studioteater by Montecasino aangebied. Dit het bestaan uit die musiekspel Altyd in my drome, Die Kaap is weer Holms (met Marion Holm), Oskar en die pienk tannie (met Sandra Prinsloo), Dop (met André Odendaal en Wilhelm van der Walt) en Casper de Vries – Alive.

Altyd in my drome was ’n nuwe musiekspel wat ’n verwerking was van die gelyknamige rolprent van 1952 van Pierre de Wet met Al Debbo en Frederik Burgers.

In Dop, die debuutdrama van Retief Scholtz, sit Frank (Odendaal) op sy verjaarsdag alleen in ’n kroeg, soos hy ook maar in sy lewe was, met die kroegman (Van der Walt) as sy enigste geselskap. Dit was die regisseur Sylvaine Strike se eerste Afrikaanse produksie.

Pierre van Pletzen in sy solostuk Voël innie hand. Foto: Edzard Meyberg

In Pretoria het die akteur Pierre van Pletzen vir die eerste keer in sy loopbaan van 46 jaar in ’n solostuk opgetree.

Voël innie hand is in Oktober in die Pierneefteater in Pretoria opgevoer. Later was dit in die Centurionteater, waarna dit na die Wes-Kaap is.

Die teaterregisseur Marthinus Basson het met A Cock & Bull Story die eerste keer ’n produksie by Montecasino aangebied. Dié toneelstuk van die Britse skrywers Richard Zajdlic en Richard Crowe (met Dean-John Smith en Edwin van der Walt) oor ’n bokser en sy vriend wat hom afrig, bied ’n ernstige blik op vriendskap. Die produksie was 60% Afrikaans en 40% Engels.

Hartklop van Jan Groenewald het ’n speelvak in die Markteater gehad en was deel van die Foxwood-kunstefees.

Christo Davids en Tessa Denton was te sien in dié produksie gegrond op ’n ware verhaal wat die hartchirurg dr. Susan Vosloo aan Groenewald vertel het van ’n pasiënt wie se enigste kans op oorlewing ’n nuwe hart was.

Soos met Hartklop het die werklikheid ook vir vele ander produksies as inspirasie gedien.

In If We Dig in die Markteater het Fiona Ramsay onder regie van Megan Willson ’n stem gegee aan die skrywer, sosiale historikus en aktivis Luli Callinicos, wat gebeure van die verlede belig. Buiten vir Engels het Ramsay ook Afrikaans, Zoeloe, Grieks en Frans gepraat in dié stuk waarin vertel word van mense wat Johannesburg geskep en gevorm het.

Denise Newman in Cold Case: Revisiting Dulcie September.

Denise Newman en Basil Appollis het met A Class of One (twee solostukke) in die Markteater hulde aan twee geskiedkundige politieke figure gebring.

Newman het die rol van die aktivis Dulcie September in Cold Case: Revisiting Dulcie September vertolk, en Appollis het in die skoene van die skrywer en aktivis Richard Rive in My Word! Redesigning Buckingham Palace gestaan.

Albei stukke is deur Sylvia Vollenhoven geskryf.

September is in 1988 in Parys, Frankryk, dood in ’n sluipmoordaanval. Rive is in 1989 by sy huis in Kaapstad doodgesteek. Dit was kort nadat hy sy laaste roman, Emergency Continued, voltooi het.

Die tweede grootste menseslagting naas die Joodse volksmoord is die fokus van die toneelstuk Cheers to Sarajevo, wat vanjaar in die Theatre on the Square in Sandton op die planke was. Oorlog en geweld is breedweg die onderwerp in dié teks van Aimee Goldsmith en Lidija Marelic. Dit speel af in Desember 1991. Weens die verskillende streke se gevegte om onafhanklikheid staan Joego-Slawië op die drumpel van ’n burgeroorlog. Sarajewo is die hoofstad van Bosnië-Herzegowina.

Die gebeure word deur die oë van ’n Suid-Afrikaanse fotograaf waargeneem.

Die dramaturg Paul Slabolepszy het met sy nuwe toneelstuk, Suddenly the Storm, self die manlike hoofrol teenoor Charmaine Weir-Smith en Renate Stuurman vertolk. Die produksie, met Bobby Heaney as regisseur, het sy debuut in die Markteater gehad en was later vanjaar ook in die Theatre on the Square te sien.

Die datum 16 Junie 1976 is van deurslaggewende belang in dié toneelstuk, maar om ander redes as wat die teaterganger sou dink. Dit speel af aan die Oos-Rand waar Dwayne en sy veel jonger vrou, Shanell, woon. Hulle het ’n wanfunksionele verhouding. Dan daag Namhla Gumede by hulle op, en hulle weet nie wat sy wil hê nie.

Die jaar het verskeie komedies opgelewer, waaronder Hashtag Marc Lottering en The Ceri Dupree Show (waarin hy vele bekendes naboots).

Musiek en sang het in produksies soos Singin’ in the Rain (Teatro), Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat (Pieter Toerien) en Liewe Heksie: Power Flower (Brooklynteater) opgeklink.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.