Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Victoriaanse aktrise inspireer nuwe Nataniël-vertoning

Die lewensverhaal van ’n onkonvensionele aktrise uit die Victoriaanse tydperk het Nataniël se nuwe konsert geïnspireer.

“Meer as dit gaan ek nie verklap nie. Om hierdie storie te hoor, moet iemand ’n kaartjie koop,” sê hy oor Lily Refuses to Listen, sy nuwe produksie wat volgende week in die Atterburyteater in Pretoria as deel van Optog! begin.

Nataniël

Hy verwys na die aktrise Lily Elsie.

Sy konsert, met verhale in Engels en Afrikaans, musiek en nuwe kostuums volg aan die einde van ’n jaar waarin mense aan slegte nuus blootgestel is. Dit maak hom egter nie sinies nie.

“Ek is net uiters teleurgesteld in die mensdom. Hoe meer tegniese vordering daar is, hoe meer intellektuele agteruitgang vind plaas, of so lyk dit. Oppervlakkigheid is ’n mode en ’n gebrek aan konsentrasie of fokus is aan die orde van die dag,” sê hy.

“Finansies, politiek, korrupsie, onsekerheid en misdaad sorg dat ons moet leef met bomenslike vlakke van spanning, dit maak mense siek en benoud. Ek moet elke dag moeite doen om die nodige hoeveelheid positiwiteit te beleef en te deel.”

Hy tree saam met die Charl du Plessis Trio op.

Sy vertellings ontstaan in Afrikaans sowel as Engels.

“Engels is ook ’n spreektaal in ons familie, ek werk met baie Engelssprekendes en ek lees baie in Engels. Die onderwerp, styl of tydperk waarin ’n storie plaasvind bepaal die taal wat ek gebruik, ek dink nie veel daaroor nie.”

Nataniël nooi almal uit na die konsert mits hulle geen selfoon gebruik of kortbroek tydens die vertoning dra nie.

“Daar is niks meer ontstellend as mense wat by ’n teater opdaag met kortbroeke of plakkies nie, dis ’n gebrek aan respek, vir die kunstenaars, die mense om jou, asook jouself. My ouma het gesê as ’n grootmens by ’n plek opdaag in kinderklere, kan jy maar weet daar is iewers fout. Kortbroeke hoort by die huis of op die strand of op die sportgrond, nie in ’n teater nie.”

Hoewel hy gereeld in die teater optree, verlaat hy selde sy huis. Hy was boonop 11 jaar laas in ’n rolprentteater en besit nie ’n televisie nie.

“Ek is ’n boekwurm, daaglikse leser en versamelaar van boeke. Ek lees soveel as moontlik, dis my ding. Dit en kuier met my paar goeie vriende. My groot helde is skrywers. Om te skryf en te publiseer is heerlik en ek is dankbaar en trots dat ek op my manier deel kan wees van die boekewêreld.”

* Vertonings is 3 tot 7 Desember om 20:00 en op 8 Desember om 15:00. Kaartjies kos R260 tot R280. Bespreek by iTickets. Die konsert duur 90 minute. Dit het ’n ouderdomsbeperking van 15.

* Die Charl du Plessis Trio bestaan uit Du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (dromme). Floris Louw ontwerp Nataniël se kostuums. Die Kaalkop Kersfeeswinkel is in die portaal.

Meer oor:  Nataniël  |  Atterburyteater  |  Pretoria  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.