Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Visuele ‘Fotostaatmasjien’ intellektueel prikkelend én laf

Bibi Slippers het verlede jaar al wat poësieprys is gewen vir haar debuutbundel Fotostaatmasjien. Reeds met sy eiergeel omslag al eis die bundel die aandag op. Dit het lesers gewen wat bra sku is vir digkuns en ook beleë resensente ingekatrol.

Anna-Mart van der Merwe is een van die spelers in Fotostaatmasjien. Agter is die digter Bibi Slippers te sien op wie se debuutbundel die produksie gegrond is.. Foto: Sven Kristian

In die skerpsinnige en verbeeldingryke woordkuns-produksie Fotostaatmasjien hier op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees word daar oor die aard van kreatiwiteit en kunstenaarskap besin. Slippers staan self voor die gehoor. Eers ongemaklik in hoëhakskoene – wat sy sê iemand anders se idee was – dan sommer net kaalvoet in swart jannas en met ’n reusestrik om die nek. Sy lê haarself as digter en skrywer bloot voor ’n eksterne eksaminator wat streng en akademies met die jong digter se kreatiewe uitset omgaan.

Op die verhoog word van Slippers se gedigte uitgespeel as “verheldering” vir die eksaminator deur ’n vyftal akteurs: Anna-Mart van der Merwe, Schalk Bezuidenhout, Emma Kotze, Len Barry Simons en Kathleen Stephens. Hul “interpretasies’’ ontgin die digter se werk, gee opnuut lewe en ander invalshoeke daarop. Die gehoor vorm ook hul eie indrukke. Hierdie is ’n hoogs visuele ervaring, dit is intellektueel prikkelend en soms net lekker gek en laf. Al die akteurs is nommerpas geplaas, brei hul liggame behoorlik soos klei en lok met hul voorstellings die gehoor uit om te dink en te besin.

Fotostaatmasjien dui treffend aan dat ware kunstenaarskap uit ander fonteine ontspring en nie uitgetrapte paadjies bewandel nie. Dit verg ’n wapenuitrusing van veral dapperheid en ’n skeut domastrantheid om jou eie stem te vind en te behou. Anders is alles tog net eggo’s en kopieë. Wessel Pretorius, regisseur, en Slippers is ’n gedugte span. Dit blyk dat hulle mekaar se sinne kan voltooi. Nicole Holm se stemkuns as die eksaminator is kolskoot geplaas.

Fotostaatmasjien mag wel sê daar is niks nuuts onder die son nie, maar dié feit word uitlokkend gekommunikeer met die gehoor. Jy is heeltyd denkend betrokke. Dit werk ook op ’n persoonlike vlak en wys dat ’n mens inderdaad durf moet hê om jouself te wees in ’n wêreld van bloudrukke en klone.

Meer oor:  Kknk  |  Bibi Slippers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.