Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Vlak 4 gooi ook Zip Zap-sirkus van balans af

Die Zip Zap-sirkus in Kaapstad moet nou weens die vlak 4-inperking noodgedwonge sy jaarlikse vertoning in die Julie-skoolvakansie afstel.

Die sirkus was van plan om Slapstick, ’n tradisionele sirkusvertoning met ’n 1930’s-kinkel en ’n sprankie komedie, aan te bied om sy leë geldkoffer aan te vul, maar ná pres. Cyril Ramphosa se aankondiging op 27 Junie is dit van die baan.

Dit is die soveelste terugslag vir die sirkus, wat verlede jaar ook weens die Covid-19-pandemie slegs een produksie, A Circus Picnic, kon aanbied. Boonop is die speelvak weens die tweede vlaag ook van tien tot slegs vier vertonings verminder.

Roxy Mitchell, die bemarkingsbestuurder, sê hierdie terugslae het ’n geweldige uitwerking op die sirkus se geldsake.

“Regstreekse vertonings dra 40% by tot die inkomste waarmee ons ons opleidingsprogramme aan die gang hou en gratis vir die jeug kan aanbied.

“Ons het probeer om die verlies te versag deur een van ons vertonings, Moya, in ’n akrobatiese kunsfilm te omskep. Dit kan tans aanlyn as deel van die Brighton-randfees gekyk word en sal ook van 6 tot 30 Augustus aanlyn as deel van die Edinburg-randfees gestroom kan word.”

Moya se verfilming volg op nog een van die sirkus se rolprente, Once Upon a Circus, wat verlede jaar as deel van die Nasionale Kunstefees se aanlyn program uitgesaai is en eindelik twee Standard Bank Ovation-pryse gewen het.

Ook drie ander vertonings is opgeneem en aanlyn gestroom om hul inkomste aan te vul.

’n Skermgreep uit die Zip Zap-sirkus se kunsfilm ‘Moya’, wat aanlyn as deel van die Brighton-randfees en binnekort ook die Edinburg-randfees gestroom word. Foto: Verskaf

Die sirkus se bestuur moes ook al die jeug- en gemeenskapsprogramme tydelik weens die vlak 4-inperking staak. Dit raak 1 807 jong mense.

Die sirkus het as gevolg daarvan videotutoriale, bekend as Boredom Busters, op sy sosialemediaplatforms uitgereik om hul studente “fisiek fiks en geestelik gesond” te hou.

“Ons reik die video’s weekliks via WhatsApp aan elke deelnemer van ons jeugprogramme uit op dieselfde dag en tyd wat hulle veronderstel was om in lewende lywe sirkusopleiding te ontvang,” sê Mitchell.

“Ons hoop om met hierdie video’s voort te gaan vir so lank as wat die inperkingsregulasies kontaksport en groot saamtrekke verbied. Enigiemand wat ons op sosiale media volg, word ook aangemoedig om die aktiwiteite (in die video’s) by die huis te probeer.”

Sy sê hulle doen ’n hernude beroep op die publiek om hulle op enige manier moontlik te steun, hetsy met die koop van ’n kaartjie vir hul aanlyn vertonings en rolprente of om op www.zip-zap.co.za/donate ’n maandelikse of eenmalige skenker van die sirkus te word.

Hulle is ook tans op soek na ou of nuwe naai- en/of omkapmasjiene sodat hul kostuumontwerper kan voortgaan om al die Zip Zap-kunstenaars se uitrustings te ontwerp en te maak. Die masjiene sal ook gebruik word om van die sirkus se studente in die maak van hul eie kostuums touwys te maak.

Stuur ’n e-pos na donors@zip-zap.co.za om te help.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Naf  |  Nasionale Kunstefees  |  Cyril Ramaphosa  |  Teater  |  Sirkus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.