SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Teater
Vrolikheid neem vinnige wending
Herman Verster, die skrywer van en hoofspeler in bRENT.

bRENT

Eldo-kleinteater, Centurion

*****

Dis ’n verrassende wending wat jy eintlik verwag het.

As passasier in hierdie teaterproduksie wat in ’n motor afspeel, het jy immers geweet, iewers gaan die vrolikheid taan.

En die spanning intree.

Jy as teaterganger vra jouself af of jy deels verantwoordelik is vir hierdie ongelukkige gebeurtenis.

Jy is nou hierby ingesleep, wetend of nie.

Vooraf het die resensent effe getwyfel oor dié teaterproduksie wat in ’n motor afspeel.

Nie oor die gehalte nie, maar oor die inhoud.

Wat sou hierdie rit inhou? ’n Akteur wat bestuur en die drie passasiers, die gehoorlede, deur die strate van Centurion neem.

Wanneer die motorrit begin, is daar egter kalmte en word jy op jou gemak geplaas.

Wanneer sou die gety egter draai?

Die feit dat bRENT, aangebied deur VNA Produksies, die derde aflewering is in die Mobile Thriller-reeks verklap tog reeds dat die aand nie net ligsinnig sal wees nie.

Hoogstens drie passasiers (gehoorlede) maak die rit mee.

Herman Vorster, ook die teksskrywer, vertolk die hoofkarakter, Brent, wat babbel en borrel. Sagkens gestel.

Hy is die opwinding self en hy maak van die passasiers gebruik om sy storie te vertel. Die motor is op pad na ’n partytjie.

En as die gehoorlid wil

terugspeel, soveel te beter.

Een moet ’n nommer op Brent se selfoon bel om die adres uit te vind.

Die volgende persoon moet die einste adres dan op die GPS invoeg.

Dan wil sy motor nie weer vat nadat hy stilgehou het nie en twee van die drie passasiers moet so ’n bietjie hand bysit om die motor weer te laat loop.

Dis veilig om te sê teen hierdie tyd is die gehoorlede meer op hul gemak, maar sekerlik wag die ontnugtering.

En kan jy as gehoorlid betrokke raak of bly?

Het jy miskien reeds te veel aangevang?

Opvallend is dat die groot skok kom wanneer die storie nie in die motor afspeel nie, maar in die huis waarheen Brent die gehoorlede geneem het.

Sy vertellings is vol humor en opwinding en hy vra die gehoorlede oor ’n paar goed uit. By die partytjie is ’n man en Brent (wat gay is) se ma het vir hom ’n afspraak met dié man gereël.

Vianney Henry Farmer (ook die vervaardiger) vertolk die karakter wat ons inwag by die adres waar die partytjie plaasvind.

Aanvanklik is die vrolikheid nog daar.

Dán verander alles.

Die produksie voel eintlik baie vinniger as wat dit duur, want in ’n stadium gebeur alles teen ’n spoed. Jy vind gedurende hierdie tyd baie van Brent uit, en net genoeg dat jy meer vrae wil vrae, meer voorstelle wil maak.

Afhangend van wie in die gehoor is, kan hierdie storie nogal ’n gevoelige senuwee of twee aanraak. Beslis nie ’n ontoepaslike onderwerp nie. En ook nie iets wat net in die verbeelding bestaan nie.

Dit voel of jy regtig in daardie krisis gedompel is en die gehoorlede begin naderhand self onder mekaar reken wat hulle moet doen om te probeer keer wat nou aan die gebeur is.

As wát hier gebeur regtig was (hoewel dit vrek baie so voel), sou die storie ook langer geduur het, aangesien Brent se verhaal tog sekerlik nie eindig waar die gehoorlede van hom afskeid neem nie.

Dit is ’n heel ander teaterervaring deurdat jy midde-in die gebeure is.

En was dit ’n ware gegewe, sou die storie ook nie met die gepaste vraagteken geëindig het nie. ’n Vraagteken wat dalk net vir die produksiespan ’n vierde aflewering in die Mobile Thriller-reeks sal meebring.

Tot 19 November.

Meer oor:  Verhoogstuk  |  Akteurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.