Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Vroulike ‘Lear’ dra kroon by Kannas

Soos die gevierde aktrise Glenda Jackson op Broadway in New York en vroeër aan die Westend in Londen brul as King Lear, tier Suid-Afrika se eie Antoinette Kellermann as ’n vroulike Koningin Lear in die Vlaamse dramaturg Tom Lanoye se Koningin Lear.

Antoinette Kellermann
Antoinette Kellermann as ma Lear in Koningin Lear. Foto: Nardus Engelbrecht

Haar skittervertolking in dié gehalte-produksie op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees onder spelleiding van Marthinus Basson het haar gisteraand ’n Kanna vir beste aktrise besorg – een van agt Kannas wat Koningin Lear gewen het. Só het dié stuk skoonskip gemaak op ’n swierige toekenningsaand in Soutrivier, Kaapstad.

Die Kannas beloon prestasie op die KKNK, wat in Maartmaand op Oudtshoorn aangebied is.

Vanjaar het die Karoofees sy 25ste jaar gevier.

Die digter Antjie Krog het die Kanna vir uitnemende literêre bydrae vir haar vertaling van Lanoye se teks ontvang, dit is aangewys as die beste teateraanbieding op die fees en as die beste debuutwerk het Basson boonop die regieprys gewen. Sy ontwerp van die drama, wat afspeel in die genadelose, moderne sakewêreld, het ook ’n Kanna verower.

Kellermann vertolk die rol van ’n bejaarde sakevrou wat die leisels oorgee aan haar seuns, met verreikende gevolge vir almal. Dit is ’n fel aanklag teen kapitalisme en moderne sakepraktyk wat ’n mens in ’n sleurstroom het. Krog se teks het die konteks slim na Suid-Afrika verskuif.

Voeg daarby in Koningin Lear se aandeleportefeulje ’n Kanna vir Anna-Mart van der Merwe as beste vroulike byspeler en ’n Kanna vir Edwin van der Walt as beste manlike byspeler vir hul onderskeie vertolkings in die stuk.

Die Engelse akteur Craig Morris is aangewys as die beste akteur vir sy vertolking in Johnny Boskak voel ’n bietjie… Dis ’n eenmanstuk van Greig Coetzee waarin Morris sy bedrewe fisieke toneelspel wys. Dit handel oor ’n ryloper, deur die hinterland van Suid-Afrika, wat sy hart verloor op ’n vrou wat hom van koers stuur.

Die Kanna vir die beste opkomende kunstenaar is toegeken aan Devonecia Swartz, ’n student aan die Universiteit Stellenbosch, vir haar spel as die geslepe jakkals in die kinderproduksie Jakkals en Wolf Onbeperk.

Rudi van der Merwe, ’n kunstenaar oorspronklik van Calvinia wat deesdae heeltyds in Switserland woon, is vereer met die Herrie-prys vir sy outobiografiese multi­mediastuk Lov­ers, Dogs and Rainbows. Daarin belig hy sy grootword­jare op Calvinia asook die Calvinia van vandag – ’n kwarteeu ná die eerste demokratiese verkiesing.

Sima Mashazi
Sima Mashazi is vereer vir My Miriam Makeba Story.

’n Huldigingsprogram oor Mama Afrika, My Miriam Makeba Story, van Sima Mashazi is as beste musiekproduksie aangewys. Mashazi het in 2016 en 2017 die jonger Makeba gespeel in ’n musiekspel wat van Kaapstad tot op verhoë in New York en St. Louis opgevoer is.

Imagining Tomorrow, ’n gesamentlike uitstalling van Donald Wasswa van Uganda en Onyis Martin van Kenia (albei merietewenners in 2016 se Absa L’Atelier-kompetisie) en onder kuratorskap van Paul Bayliss en Thabo Seshoka, is bekroon vir die beste bydrae tot visuele kuns. Dit belig die planeet nadat die mens dit verwoes het en hoe ons as spesie in ’n nuwe wêreld moet aanpas – gevoelens van woede, verlies en vrees word uitgebeeld.

Jaco Conradie het die Kanna gekry vir tegniese uitnemendheid vir die uitmuntende tegniese ondersteuning wat hy jaarliks aan produksies by die fees verleen, en Daleen Witbooi is met ’n spesiale Kanna vir diens aan die KKNK vereer. Witbooi werk al 20 jaar by die KKNK en Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, het genoem dat haar werksetiek, onbaatsugtige diens en lojaliteit ’n voorbeeld vir almal is.

Madelaine Miles is met ’n spesiale Kanna vereer vir haar ReWOLusie-projek wat sy vir KKNK25 aangepak het. Verskeie inwoners het gebrei en werke geskep waarmee die hele Oudtshoorn gedurende die fees getooi en opgevrolik is – van skoenlappers tot volstruise is uit breiwerk geskep en aan heinings en bome vasgemaak. Mi­les het die projek begin om samehorigheid, kreatiwiteit en betrokkenheid te bevorder en is van plan om dit vir volgende jaar se fees verder uit te brei.

Op die toekenningsaand het die fees ook die nuwe KKNK­poësieprojek aangekondig. Dit is ter nagedagtenis van Santie de Jager, een van die hoeksteenleggers van die KKNK, wie se liefde vir poësie as inspirasie vir die projek gedien het. Dit sal bestuur word deur Theart en Eureka Barnard, bestuurshoof en projek­bestuurder van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev) in Kaapstad.

Die wenners ontvang elkeen ’n beeldhouwerk van Marieke Prinsloo-Rowe en prysgeld.

Vanjaar se Kanna-paneel het bestaan uit Mareli Stolp (sameroeper), Diane de Beer, Rafiek Mammom, Tracey Saunders, Wayne Muller, Alby Michaels, Lizabé Lambrechts en Gary Naidoo.

Die Kanna-pryse word geborg deur Absa, die ATKV, Media24, Castle Lager, Huisgenoot, Sarie, Kunste Onbeperk en Ton en Anet Vosloo. 2020 se KKNK-fees vind plaas vanaf Dinsdag 24 Maart tot Sondag 29 Maart.

) Beleef die uitblinkproduksie My Miriam Makeba Story op 29 April van 20:15 tot 21:30 in die Kunstekaap-teater in Kaapstad as deel van die Suidoosterfees. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

’n Kaapse speelvak vir Koningin Lear word nog beding.

Meer oor:  Toekennings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.