Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
VS teatergroep wen 1ste prys op internasionale fees

Die Vrystaatse teatergroep Vukallective en die sanger Liv Die (verhoognaam) het op ’n internasionale fees vir eksperimentele teater in Kaïro met die inperking as tema die eerste prys losgeslaan. Net drie pryse is toegeken, eerste, tweede en derde prys.

Die sanger Liv Die in die gelyknamige eksperimentele teaterstuk wat met die eerste prys in ’n internasionale kompetisie bekroon is. Foto: Verskaf

Mark Dobson, danser-akteur, choreograaf en regisseur, is die skepper van Liv Diex Vukallective.

Dobson is oorstelp oor die nuus. “Om ’n prys te wen is die laaste ding wat ons verwag het en dan nog die eerste prys.”

Hy het met die Suid-Afrikaanse ambassade gereël om die prys te ontvang en sal dan eers weet of dit geld insluit.

In ’n breedvoerige resensie tref dr. Nasme Salem vergelykings met T.S. Eliot se werk The Wasteland oor ’n verwronge siel van die moderne mens wat te doen kry met ’n lewensbedreigende virus wat die ganse wêreld verander.

Sy noem ook ooreenkomste met Shakespeare se 18de sonnet wat handel oor die gebrek aan durende skoonheid en ’n stabiele lewe.

Sy skryf voorts: “Teen die einde van die vertoning merk ’n mens iets soortgelyks aan Virginia Woolf se pogings om die mooi oomblikke in haar roman To the Lighthouse vas te vang. Soos Mrs. Ramsay in die verhaal, troetel die heldin in Liv Die ook ’n verminkte man sonder ’n kop en sing vir hom sodat sy sy teenwoordigheid kan voel. Dit is ’n meesterlike toneel wat die verhaal opsom: Die mens moet hoop behou dat hy uit enige katastrofe kan ontsnap, selfs uit die kloue van ’n dodelike pandemie. Volg jou drome, red die woesteny.”

Dobson sê die video bestaan uit agt liedjies waarvan die lirieke deur beelde van onder meer digkuns, sang, dans en bewegingskuns weerspieël word.

Sommige liedjies word abstrak weergegee en ander deur realistiese beelde. Die merkwaardige van die video is dat die liedjies ná 40 minute ’n volledige narratief vorm.

Die musiek vir die video is uitgevoer deur Liv Die, Jaco Heinrich de Wet en Chedda Kay. Michael Garbett het die beligting ontwerp.

Dobson is besig om Liv Die as ’n kabaret vir die verhoog aan te pas wat op die Vrystaat Kunstefees te sien sal wees.

’n Dansgroep van Brasilië het die tweede prys verower met ’n vertoning getitel All That Is en ’n Britse teatergroep met Unhoused wat oor haweloses handel.

Die fees in Kaïro is vanjaar die 27ste keer aangebied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.