Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Waar water kosbaarder as geld en goud word

Die bekroonde tragikomedie Swerfgoed word tans in die Baxter-ateljee opgevoer. Mariana Malan ken vier sterre aan die produksie toe.

Die saadjie wat by verlede jaar se Teksmark geplant is, staan nou in volle blom op die verhoog.

Bauke Snyman se Swerfgoed het op die KKNK gedebuteer en het daar reeds met drie Kanna-pryse weggestap – beste nuwe teks en Nicole Holm en Richard September as beste byspelers.

Anna-Mart van der Merwe, Andrew Laubscher, Nicole Holm en Richard September in ’n toneel uit Swerfgoed. Foto: Conrad Bronman

In die Baxter-ateljee is die hele ruimte omgeswaai en aangepas om jou midde-in moedverloor se vlakte te plaas. Die Motel Stillewater se blou liggies lok jou om in te kom en te skuil teen ’n woedende oorlog buite en om jou dors te les met soet water uit ’n geheime bron.

Dis waar Esther (Anna-Mart van der Merwe) een nag bebloed en verskrik aankom. Aristea (Nicole Holm) laat haar teen haar eie beswil toe om te bly.

In die loop van die stuk daag verskillende karakters met donker motiewe op. Almal soek na die geheimsinnige klein kissie met ’n skat daarin. Hulle stuit nie vir moord, verraad, offers of gewete om dit in die hande te kry nie.

Saam met die twee vroue is daar ook twee mans (Richard September en Andrew Laubscher) op die verhoog. Tel jy die karakters, is hulle saam sowat tien mense wat ’n hele familie en sommer nog ’n olie-sjeik verteenwoordig.

Hulle glip moeiteloos in die een ná die ander vel, met een wat sommer nog vir ekstra effek ’n Barney-pak (met ’n swiepende stert) dra.

Die groep mense is ’n vrot spulletjie. Jy lag saam met hulle en vir hulle. Hulle stoot jou af en hulle vermaak jou in dieselfde oomblik.

Aan verbeelding op die verhoog en verbeeldingsvlugte van gehoorlede ontbreek dit nie.

Jy word gekonfronteer met waterbottels as wapens en jy kan self besluit hoe vreesaanjaend ’n vyfliterbottel kan wees en hoe subtiel dodelik ’n 500 ml-bottel kan word.

Die motel self roep beelde op van ’n stowwerige vlakte wat gepas sou kon wees in ’n land waar karakters uit rolprente soos Mad Max en Waterworld sou kon aandoen.

As jy ’n paar maande gelede die stormloop na watertenks en die moontlikheid van in ’n koppie bad beleef het, is hierdie verhaal nie vergesog nie. ’n Mens kan nie help om te dink aan die moontlikheid van ’n wêreld waar water kosbaarder as geld en goud kan word nie.

Dit laat jou ook ongemaklik rondskuif met die idee dat mense monsters is. Hoewel dit hier as ’n tragikomedie uitspeel, moet jy maar bedekte waarskuwings in die oë kyk.

In die Baxter-ateljee tot 22 September. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Anna-Mart Van Der Merwe  |  Nicole Holm  |  Bauke Snyman  |  Baxter-Ateljee  |  Swerfgoed  |  Teksmark  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.