Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Watermeid’ vind haar pad na verhoog
Rehane AbrahamsFoto: Nardus Engelbrecht

Amee Lekas meen sy gaan binnekort baie besig raak. Verlede jaar is haar idee en kort uittreksel vir die toneelstuk Die dans van die watermeid by Kunste Onbeperk se eerste teksmark in Kaapstad gekies om tot ’n volwaardige produksie ontwikkel te word. Dit is uit 14 stukke gekies en word eersdaags in die Baxter opgevoer.

Die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Baxter-teater het met die ontwikkeling gehelp.

Lekas het die teks onder mentorskap van die bekroonde dramaturg Saartjie Botha voltooi.

“Saartjie het my ontsettend baie gehelp om my denke oor skryfwerk te verander. Sy het baie van my vrae oor baie dinge, sommer dinge oor die lewe ook, beantwoord,” sê Lekas.

’n Mediaverklaring sê die stuk het “aangegryp met die beeldskone taalgebruik, die hartverskeurende verhaal wat Lekas vertel en die unieke blik op die mense uit haar grootwordwêreld in die skilderagtige Willowmore-streek in die dorre Klein-Karoo”.

“Ek het omtrent ’n jaar lank gewerk en geskaaf aan die teks. Dit het mettertyd baie ontwikkel en groter geword, die karakters het meer lewe gekry.”

Die uitgelese rolverdeling sluit in Rehane Abrahams, Abduragman Adams, Elton Landrew, Ephraim Gordon, Gretchen Ramsden, Celeste Matthews en Deidre Jantjies. Die bekroonde ontwerpers Birrie le Roux en Patrick Curtis is onderskeidelik verantwoordelik vir die ontwerp van die kostuums, en die stel en beligting.

Die regisseur is Jason Jacobs (wat onlangs vereer is met Kunste Onbeperk se Nuwe Stem-prys) onder die mentorskap van Lara Foot, artistieke en uitvoerende hoof van die Baxter-teatersentrum.

Lekas het reeds ’n leessessie van die stuk bygewoon.

Amy Lekas in die omgewing waar die verhaal van die meerminagtige, mitologiese watermeid ontstaan het.

“Dit was wonderlik om te hoor hoe die karakters klink. Ek was so beïndruk met die respek wat hulle vir die karakters betoon het.”

Die dans van die watermeid raak sosiale kwessies aan, soos jong mense wat vandag ’n stryd voer sonder die vooruitsig van werk of ’n beter lewe en die dinge wat gemeenskappe onder die mat invee. Dít alles onder die neus van die kerk. Intussen weerklink die ritme van die dans van die watermeid wat die jong meisies kom verlos wanneer die reën kom.

Die speelvak val saam met die tweede teksmark wat Kunste Onbeperk aanbied met die ondersteuning van NATi en die Baxter-teatersentrum. Dit word van 1 tot 25 November in die Baxter-ateljee opgevoer.

Uit die eerste teksmark is reeds vyf tekste verder ontwikkel. Die tweede teksmark vind op 7 en 8 November in die Baxtersentrum plaas.

Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.