Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Wees flink uit die vere vir RSG-vieringe
Fanus Rautenbach

Fanus Rautenbach en die oggendprogram Flink uit die vere was 13 jaar lank volksbesit. Van 1961 tot 1974 het dié kwistige omroeper die ganse Afrikaanse radiogemeenskap op weekdae van 07:00 tot 08:30 ingelig en vermaak.

RSG-luisteraars wat dié nostalgie weer wil beleef, moet op Vrydag 27 Oktober om 05:00 inskakel wanneer die Afrikaanse radiodiens sy 80ste verjaardagviering met dié hoogtepunt inlui.

Die res van die dag sal gewy word aan uittreksels uit die SAUK se klankargief wat herinneringe aan programme, geskiedkundige hoogtepunte en bekende omroepers van die verlede sal oproep.

Kobus Burger, RSG se uitvoerende dramavervaardiger, sê vir hom is die opvallendste verskil van destyds en nou die streng formaliteit van vroeëre uitsendings teenoor die moderne loslit-benadering en ’n veel groter verskeidenheid in klank en taal.

Louise Jooste, die bemarkingsbestuurder, is getref deur die ondernemingsgees van vroeëre radiopersoneel. In die 1940’s is buite-uitsendings al gedoen soos dié oor die herdenking van die Ossewatrek, sê sy.

Die Afrikaanse radiodiens het op 27 Oktober 1937 op die lug gegaan. Enkele mylpale daarna is die versoekprogram U eie keuse, wat op 24 Oktober 1945 begin het, steeds uitgesaai word en die oudste program op Suid-Afrikaanse radio is.

In 1986 is die Afrikaanse en Engelse dienste vervang met twee nuwe dienste, Radio Suid-Afrika en Radio South Africa. In die tyd is die eerste advertensies, tot groot ontsteltenis van luisteraars, op die Afrikaanse diens uitgesaai. Vandag is dié inkomste onontbeerlik.

Die opbou na die amptelike verjaardagviering op 27 Oktober het in Julie met die dramareeks Staal Burger begin. Vandeesweek kan elke dag na kort argiefuittreksels geluister word, onder meer in die oggendprogram Monitor.

So lyk Vrydag se programme:

* 05:00:Flink uit die vere

* 08:00:Praat saam sal historiese oomblikke uit die eerste vyf dekades van Afrikaanse radio bevat. Die aanbieder, Chris Swanepoel, het nuuswaardige gebeure van 1938 tot 1976 opgediep waaroor gaste in die ateljee sal gesels.

*

09:00: In Oggend op RSG word ’n spesiale Vrouerubriek uitgesaai, die program wat vir die 20ste verjaardag opgeneem is waarin talle omroepers en medewerkers van destyds oor hul bydraes gesels. Onder die bekendste stemme is dié van die omroeper Monica Breedt en die skrywer Audrey Blignault.

Bekendes wat in die Kaapse ateljee sal wees om oor hul betrokkenheid by Afrikaanse radio te gesels, is onder andere Dawid van Lill wat talle vasvraprogramme aangebied het, Marius du Plooy, aanbieder van Uitspan op die Hollandse werf en Monitor, en Susan Voormolen, aanbieder van Siembamba.

* 12:00: Die stasiebestuurder Magdaleen Krüger sal net ná die 12:00-nuus ’n boodskap lewer, waarna een van die skatte van die verlede, Stadig oor die klippe, uitgesaai word. Dié episode is ’n hoorbeeld oor Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap en is deurspek met komiese oomblikke. Gelukwensinge van bekendes wat spesiaal vir RSG gestuur is, sal in die loop van die middag gehoor word. Luisteraars kan ook boodskappe stuur deur Twitter (@zarsg #80Jaar), SMS’e na 45770 (teen R1,50 per SMS), of regstreeks na die ateljee op www.rsg.co.za.

*

20:30: Argiefmateriaal van Saterdagspieël sal in die progam Oppiradio uitgesaai word. Hierin gesels Fanus Rautenbach met die sanger Rudi Neitz en sy vrou oor die lewe van ’n kunstenaar en hoe dit sy familie en persoonlike lewe beïnvloed het.

’n Kompetisie waarin vier luisteraars ’n wegbreeknaweek kan wen, is ook deel van die verjaardagviering en sluit op 3 November om 12:00. Kry meer inligting op www.rsg.co.za.

Meer oor:  Rsg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.