Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Wenners van RSG se radiodrama-kompetisie aangewys

’n Arbeidskonsultant van Malmesbury is Vrydag as die algehele wenner van RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetise aangewys.

Adelle van Wyk Foto: Verskaf

Adelle van Wyk (47) het die eerste plek en daarmee saam R70 000 vir haar weninskrywing, die misdaaddrama Makkie onthou, ontvang. Dit is slegs haar tweede radiodrama nadat sy verlede met haar debuut ’n finalis in dié jaarlikse kompetisie was.

Dié drama fokus op Makkie Ghall, wat ’n lyk in ’n swembad ontdek. Twintig jaar later krap twee jong mense kop oor Makkie se eienaardige gedrag – en dan begin die waarheid vorendag kom.

Die beoordelaars het Van Wyk se eindproduk as “epies” beskryf.

“Dit is ’n sterk, karaktergedrewe radiodrama met radiomatige dialoog,” lui ’n mediaverklaring.

“Die karakters is fassinerend en die skrywer verhef met die taalgebruik die vertelling na dié van ’n literêre werk. Die verhaal boei uit die staanspoor en laat ’n mens tot en met die laaste toneel kopkrap. Voorwaar ’n uitstekende teks en waardige wenner.”

Hendie Grobbelaar Foto: Verskaf
Philip Nolte Foto: Verskaf

Daar is vanjaar 385 inskrywings ontvang – die meeste nóg in die kompetisie se geskiedenis van 24 jaar.

Twintig finaliste is aangewys, wat elk ’n geskenkpak ontvang het en twee meesterklasse kon bywoon, voordat hulle hul inskrywings afgerond het en dit vir ’n tweede keer anoniem beoordeel is.

Hendie Grobbelaar (55), ’n kommunikasie- en skakelwesekonsultant van Gouritsmond, het die tweede prys van R35 000 met haar romantiese komedie Sterrereën gewen.

Philip Nolte (32), ’n skrywer, regisseur en inhoudsvervaardiger in die TV- en rolprentbedryf, het die derde plek met sy post-Covid-drama Morgenster behaal en R25 000 ontvang.

Die prys vir ’n skrywer jonger as 30 jaar oud is aan die 21-jarige Adriaan Havenga toegeken, wat drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hy het R15 000 vir sy debuut, Hulle noem hom Mamba, ontvang.

Adriaan Havenga Foto: Verskaf
Isabel Martinson Foto: Verskaf

Die beoordelaars het ook vir die eerste keer ’n merieteprys van R10 000 aan Isabel Martinson vir die drama Pap en kaviaar toegeken. Dié prys dien as

aansporing vir ’n inskrywing wat ’n hoë gemiddelde punt ontvang het.

Al die wendramas sal vanaf April volgende jaar in RSG se eerste Radioteater-seisoen gehoor word.

Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, sê in ’n mediaverklaring die oorweldigende belangstelling in vanjaar se kompetisie is in pas met die groot toename in luisteraars wat RSG sedert die staat van inperking gewerf het.

“Selfs die potgooisyfers van Radioteater laat deesdae die rekords spat en dui op die passie wat luisteraars vir stories in klank het. So, op die vooraand van die kompetisie se kwarteeuviering dui dit op ’n dramagenre wat aanhou vernuwe en terselfdertyd nuwe stemme lok.”

Meer oor:  Kobus Burger  |  Sanlam  |  Universiteit Stellenbosch  |  Vermaak  |  Rsg  |  Radio  |  Radiodrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.