Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
West End, Broadway glo deure heropen eers in 2021

Die aard van teater is die samekoms van mense in ’n bepaalde ruimte – op die verhoog, agter die verhoog en in die ouditorium. Aangesien groot groepe die eerste taboe is as jy uit die pad van die koronavirus wil bly, is teaters die laaste wat hul deure ná die pandemie sal kan open. Elretha Britz het vasgestel wat die toekoms ná die Covid-19-pandemie vir Londen se West End en Broadway in New York inhou.

Broadway in New York.Foto: Getty Images

Aanvanklik het teaterbase in Londen se West End gereken hulle sal van 7 Junie af weer vertonings kan aanbied. Die jongste aankondiging lui dat dit nié 7 Junie sal wees nie en dat dit weens die onsekerheid oor die uitwerking van die Covid-19-pandemie onmoontlik is om ’n nuwe datum te bepaal.

Die musiekspelmeester Andrew Lloyd Webber het sy verwerking van Cinderella na Oktober geskuif, maar sê hy glo nie teaters sal voor volgende jaar weer kan oopmaak nie. Cameron Mackintosh, eienaar van verskeie teaters en vervaardiger van groot aanbiedings soos Hamilton, Les Misérables en The Phantom of the Opera, stem saam.

“Dit is onmoontlik om die heropening van teaters te beplan voordat sosiale distansiëring nie afgeskaf is nie. Daarna sal dit nog vier tot vyf maande duur voordat produksies op die planke gebring kan word,” sê Mackintosh.

Vroeër vandeesweek het die bestuur van die National Theatre aangekondig dat die teater 75% van sy inkomste verloor het en dat 30% van sy personeel hul werk gaan verloor.

Londen Indoors noem enkele vertonings wat reeds tot volgende jaar uitgestel is: Sunday in the Park with George met Jake Gyllenhaal, Whoopi Goldberg se terugkeer na Sister Act, die ganse somerseisoen van die Regentpark-buitelugteater wat ’n nuwe musiekspelweergawe van 101 Dalmations en die herlewing van Rodgers en Hammerstein se Carousel sou insluit.

“Oorlewing het vir verskeie teaters ’n werklikheid geword. Terwyl sommige teaters geldinsamelings begin het om aan die lewe te bly, is die Nuffield Southampton-teaters onder administrasie geplaas en op soek na ’n koper,” berig London Indoors.

Van die Britse teaters is bo van links die Shakespeare Globe, die Barbican, die TRP en Donmar.

Volgens The Stage voorspel teaterorganisasies dat die bedryf “kolossale” skade gaan ly en talle teaters sal moet sluit. Die Shakespeare Globe en die Edinburgh Festival Fringe Society het in antwoord op navrae deur die regering gesê “katastrofiese gevolge sal die teaterbedryf nog tot diep in 2021 knou. Gegewe werksverliese, die sluiting van teaters, kleiner gehore wanneer teaters wel mag open, die beperkings van sosiale distansiëring, en ’n enorme getal mense wat tydelik uit werk gestel is, kan dit jare neem om te herstel.”

Talle teaters en organisasies sê sonder regeringsteun is hul toekoms gedoem. Die geldelike verlies van teaters in Londen tot middel-Junie word reeds op £630 miljoen beraam.

Lloyd Webber se internasionale maatskappy The Really Useful Group het in ’n voorlegging aan die regering gesê dit sal wys wees om Suid-Korea se heropeningsprosedure te volg.

“Meer toetse en die opspoor van moontlik besmette mense het meegebring dat van die Suid-Koreaanse teaters selfs gedurende die pandemie hul deure kon oophou,” sê hy.

Die Britse dramaturg James Graham dink ’n “aggressiewe reddingsboei van die regering” is nodig om die Britse teaters van die gevolge van die pandemie te red.

“Al die reserwes sal ná enkele maande uitgeput wees. Ek weet nie of die teater- en rolprentbedryf hierna herkenbaar sal wees nie.”

Die geldelike verlies van teaters in Londen tot middel-Junie word reeds op £630 miljoen beraam.

In teenstelling met Londense teaterbase is daar in die Skotse Hoogland ’n vrou wat nie net bakhand staan nie. Elizabeth Newman, artistieke direkteur van die Pitlochry-teaterfees in Skotland, het ná die uitstel van hul somerfees ingespring en aktiwiteite vir die akteurs gereël. Hulle voer gesprekke met eensame inwoners, plaas drie keer per dag “strale van lig, hoop en vreugde” op sosiale media en die kunssinniges het 50 kunswerke van die Tayrivier in Skotland geskep om te verkoop. Sy het ook met die BBC gereël dat een van die feesvertonings vir die radio verwerk word.

“Ons probeer om ons taak as kunsvervaardiger voort te sit. Intussen werk ons kliphard aan planne om vertonings binne die beperkings van sosiale distansiëring aan te bied,” sê sy.

“Ons moet wyer dink en programme ontwikkel wat in die buitelug opgevoer kan word – verskillende soorte opvoerings, geleenthede en sosiale aanbiedinge sonder om mense se lewe in gevaar te stel. Maar al het ons planne, is afleggings onvermydelik, wat swaar op my gemoed druk.”

Broadway

Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan hang ’n donker wolk ook oor Broadway-teaters. Tot minstens 6 September sal die ligte in die gewilde teaterdistrik gedoof wees, het Charlotte St. Martin, die president van die Broadway League, bekend gemaak. Dié handelsgroep verteenwoordig teatereienaars en vervaardigers.

Die sakewebwerf MarketWatch noem drie groot uitdagings wat die heropening van teaters in die wiele kan ry. Eerstens is 16% van Broadway-teatergangers ouer as 65 jaar en “as jy die toeriste uit die groep verwyder, is die gemiddelde ouderdom nog hoër”.

Tweedens het mense buite New York 65% van die teaterkaartjies in die 2018-2019-seisoen gekoop. Hiervan was een uit vyf oorsese toeriste.

Derdens word die ouderdom van die teaters self geopper. “Talle teaters is ouer as 100 jaar en het dus smal gangetjies, sitplekke is teenaan mekaar en die kleedkamers is besonder klein.”

Om sosiale distansiëring van 2 m tussen teatergangers, die akteurs en die tegniese spanne te verseker is onmoontlik. Buitendien kan geen vertoning geldelik die pyp rook as sosiale distansiëring gehandhaaf word nie, sê St. Martin.

Benewens die drie faktore is daar ook die belemmering van toeriste wat op enige gegewe dag ’n groot deel van teaters vol sit. Die teaters is dus afhanklik van New York se toeristesektor om weer ten volle in bedryf te wees voordat deure kan heropen.

“As die verlede ’n aanduiding is, kan dit lank duur. Die Covid-19-situasie verskil hemelsbreed van die 9/11-terreuraanval. Toe het dit vier jaar geneem voordat internasionale toerisme weer die vlakke voor 11 September 2001 bereik het,” sê Gregg Arst, president van die konsultasiefirma Tanna.

Sy groot kommer is vertonings met lang speelvakke soos Wicked en Chicago. Die New Yorkers wat dit wou sien, het al. Sodanige vertonings is geweldig afhanklik van buitelandse besoekers, terwyl dit nie so moeilik is om kaartjies vir nuwe vertonings aan plaaslike teatergangers te verkoop nie.

Mense se ouderdom speel ’n wesenlike rol in die Broadway-teaterwêreld. ’n Onlangse peiling onder die stad New York se teatergangers het getoon dat 23% van mense ouer as 55 sê dis onwaarskynlik dat hulle weer teater toe sal gaan, 45% sê hulle sal ses maande wag nadat teaters geopen het voordat hulle sal terugkeer en 21% het aangedui dat hulle miskien in die komende seisoen teater toe sal gaan.

St. Martin het hierop gesê hoewel ouer mense ’n belangrike deel van teatergangers uitmaak, sal die heropening van teaters op grond van alle groepe geneem word omdat almal die gevaar loop om met die virus besmet te word.

Volgens CBC News is 31 produksies reeds in Maart opgeskort, waaronder die gewilde Frozen, asook Hadestown, Dear Evan Hansen en Hamilton. ’n Rolprentweergawe van Hamilton sal wel in Julie gestroom word.

Ook New York se Metropolitan-operahuis is gesluit. Op sy webwerf word geen moontlike datum vir heropening verstrek nie. ’n Beroep word egter op die publiek gedoen om tot sy geldinsamelingsfonds by te dra “sodat die instansie voortaan weer ongeëwenaarde produksies kan aanbied”.

  • Bronne: Standard.com, London Indoors, The Stage, Backstage, MarketWatch, CBC News, metopera.org.
Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Teater  |  Broadway  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.