Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Wilson Dunster: Einde van ‘tweeman’, maar ‘ek is nog hier’

Die akteur Wilson Dunster het met die dood van sy vrou, die aktrise Elize Cawood, nie net sy sielsgenoot verloor nie, maar die mediese kostes en ’n tekort aan werk weens die Covid-19-pandemie het die gesin ook in skuld gedompel. ’n Paar weldoeners het die Elize Cawood-fonds gestig en Dunster vertel aan AJ Opperman hoe mense se welwillendheid hom oorweldig het. 

Wilson Dunster fokus op vandag.

“Ek kan nog nie aan môre dink nie.”

Op die dag van ons gesprek is dit 12 weke sedert sy vrou, die aktrise Elize Cawood, aan longkanker dood is.

Wilson Dunster

“Ek is nog nie gereed om te intiem oor die afgelope paar maande te praat nie,” sê hy.

“Ek weet nie wanneer dit sal wees nie. Dalk volgende jaar?”

Hy praat met groot dankbaarheid oor die Elize Cawood-fonds wat weldoeners begin het om die Dunsters geldelik by te staan. Dit is gestig toe Cawood nog geleef het.

Weens ’n gebrek aan werkgeleenthede in die tyd van inperking het hulle geen inkomste verdien nie.

“My suster is drie jaar gelede dood en dit was vreeslik. Ek het ook my ouers en grootouers aan die dood afgestaan, maar dié verlies is iets anders. Ek dink wanneer jou sielsgenoot sterf, gebeur iets wat jy nie kan beskryf nie.”

“Die ondersteuning van soveel mense – baie van hulle anoniem – is totaal oorweldigend,” sê Dunster.

“En ek kan nie genoeg dankie sê aan Jenna (hul dogter) vir al haar bystand nie.

“Daar was ’n ontploffing op Facebook en in die koerante. Elize het ’n geweldige klomp aanhangers gehad. Sy was geliefd. Mense het haar gerespekteer.”

Wilson Dunster en Elize Cawood het dikwels saam in tweemanstukke opgetree.

Dunster het verskeie koerante in sy huis, maar hy het nog nie die moed gehad om daarna te kyk nie.

“Ek weet die tyd sal kom en ek sal knipsels maak en dit bêre. Daar was ’n tyd toe die voordeurklokkie die heel tyd gelui het, boodskappe die heel tyd ingestroom het en blomme afgelewer is.

“Ons wou nie hierdie probleem aan die groot klok hang nie.”

Hulle is in kennis gestel dat so ’n fonds gestig is.

Die eerste drie weke ná Cawood se dood kan hy beswaarlik onthou.

Longkanker is in November by haar gediagnoseer.

Dit was in die tyd toe Dunster en Cawood in die Afrikaans is Groot-konsert opgetree het.

Elize Cawood is op 18 Julie dood. Foto: Deon van Wyk

“Op daardie tydstip het Elize ook aan (die kykNET-sepie) Binnelanders gewerk en sy het haar eerste chemo-behandeling gekry. Haar energievlakke was laag, maar sy het steeds gewerk tot die span by Binnelanders vir haar gesê het sy moenie meer werk nie. Hulle het haar steeds ten volle betaal.”

Hulle sou in nege Afrikaans is Groot-konserte optree.

“Ons het die eerste een gedoen. Die tweede een was oor middagete. En tussen daardie vertoning en die een in die aand het haar koors tot 39 °C gestyg en sy het longontsteking opgedoen. Sy is die volgende oggend in die hospitaal opgeneem. Afrikaans is Groot het ons ten volle betaal, hoewel ons net twee konserte kon doen.”

Dit was die laaste keer dat Cawood en Dunster saam op die verhoog was.

Elize Cawood en Wilson Dunster in 'Narkose'.

Die akteurspaar, wat mekaar 41 jaar geken het, het deur die jare gereeld saam in tweemanstukke opgetree.

“My suster is drie jaar gelede dood en dit was vreeslik. Ek het ook my ouers en grootouers aan die dood afgestaan, maar dié verlies is iets anders. Ek dink wanneer jou sielsgenoot sterf, gebeur iets wat jy nie kan beskryf nie.”

Hy wil nie hê mense moet hom jammer kry nie.

“Dit gebeur met baie mense en hulle moet dit hanteer. Dit is wat ek ook nou probeer doen.

“Hulle sê die een goeie ding van kanker is dat dit jou genoeg tyd gee om totsiens te sê, maar daardie tyd is nooit genoeg nie.”

Hy praat oor die dag van Cawood se diagnose.

Wilson Dunster is bekend om flieks soos 'There’s a Zulu on My Stoep' en reekse soos 'Konings' en 'Torings'.

Die onkoloog wou graag ’n paar oomblikke alleen met haar praat.

“Hy het haar gevra wat haar die meeste pla. En sy het geantwoord: ‘Die skuld.’ ” Dunster lag.

“Nou dít is Elize. Dis pragtig en dis aaklig.”

“Ek het ’n deel van my verloor, maar nie my verstand nie. Ek het die helfte van my verloor, waarmee ek my moet versoen, maar ek is nog hier.”

Dunster kan verstaan waarom die volk so lief vir haar was.

“Sy was ’n wonderlike mens. En sy het mense uit verskillende walks of life aangetrek. Sy het ’n sjarme gehad. Sy was classy.”

Die 41 jaar wat hulle mekaar geken het, het begin met ’n eerste oogopslag in die Baxter-teater in Kaapstad.

Net dit, maar daar wás ’n oomblik.

Hulle het later in Bloemfontein saam in die toneelstuk Drie susters deur Anton Tsjechof opgetree.

“Daar is hy,” sê Wilson terwyl hy na ’n skildery van Drie Susters teen die muur in sy sitkamer wys.

Egoli: Plek van goud
Wilson Dunster in 'n toneel in die destyds M-Net sepie 'Egoli: Plek van Goud' teenoor Sandra Prinsloo en die Britse aktrise Joan Collins.

Aan die ander kant van die buffet hang nog ’n skildery met ’n ander deel uit Drie Susters.

Cawood was lid van die streekraad Sukovs in Bloemfontein, en Dunster het van Kaapstad af gekom om in die stuk op te tree.

“Sy het op ’n dag na my gestap en aan my hande gevat. Onthou, ek ken nie die vrou nie. En sy sê: ‘Lanolene Milk. Jy het handeroom nodig.’ En sy het my hande laat los. Die volgende dag het sy weer na my gekom, aan my hande gevat en gesê: ‘Ja, dit werk.’ Steeds was daar nie sprake van liefde nie. Sy het immers ’n ander kêrel gehad.”

Op die afskeidspartytjie ná die produksie het Dunster haar gevra om te dans.

“En ons dans toe op Gerry Rafferty.”

Elize Cawood
Elize Cawood en Wilson Dunster in 'Dinner for One'.

Dunster is terug Kaap toe.

Hulle het later saam beland op die stel van die fliek Wat jy saai, wat in Waterval Boven geskiet is.

“Dis waar ons ’n hegte vriendskap gesmee het, nie ’n verhouding nie. Ons het tafeltennis gespeel. Ons het gelag en gelag. I used to cheat her out game after game.

“En daardie humorsin – mense merk dit nie dadelik by my op nie, maar met Elize kon mense dit dadelik agterkom.”

Cawood het in daardie stadium steeds in Bloemfontein gewoon.

Toe sy later na Johannesburg verhuis, het sy Dunster gebel om kaartjies te vra vir die toneelstuk El Grande de Coca Cola waarin hy opgetree het.

“Ek het gevra hoeveel en sy het gesê een. Ek het haar gevra of sy daarna saam met my sal gaan koffie drink. Binne weke het ons saamgewoon.”

Elize Cawood en Wilson Dunster op hul troudag op 11 Desember 1982.

Hulle is op 11 Desember 1982 getroud.

“En regdeur ons huwelik het ek altyd gesê ons is op die 12de getroud en Elize sou my korrigeer.

‘Dis nie die 12de nie, dis die 11de.’ Ek het altyd gedink dis die 12de. Ek hou van die syfer 12. Dit was nog altyd vir my ’n gelukkige nommer. Byna 38 jaar getroud. Dis ’n leeftyd.”

Hulle het twee kinders, Jenna en Luke.

Konings
Wilson Dunster as Sid Keyser in 'Konings'.

Dunster het in die fliek There’s a Zulu on My Stoep en in reekse soos Konings, Torings, Onder Engele, Meester, Vlug na Egipte en Terug na Egipte verskyn.

Hy was in teaterproduksies waarmee drie teaters geopen is.

Hy was deel van die rolverdeling van die eerste ses maande van die SABC 3-sepie Isidingo en hy was die booswig Spider in die destydse M-Net-sepie Egoli: Plek van Goud.

Hy word ook vir sy rol as Sid Keyser in Konings en Torings in die 1990’s onthou.

Wilson Dunster en Sean Taylor

“Hy was Joods Afrikaans. Alles begin met ’n goeie teks. Ek was gelukkig om met goeie mense te werk. Elize ook. Ek kan nie dink dat Elize ooit swak in iets was nie. Sy het selde ’n klein rol vertolk.”

Cawood het veral naam gemaak as Pop le Roux in Manie van Rensburg se reeks Verspeelde Lente, wat op Johannes van Melle se gelyknamige roman gegrond is.

“Dit sal nou vir my moeilik wees om ’n two hander te doen, juis omdat ek en Elize dit soveel jare saam gedoen het. Maar die moontlikheid is nie uitgesluit nie.”

Wilson Dunster in ’n produksie van Sam Shepard se toneelstuk 'Buried Child' in die Markteater.

Art of Charf, deur Paul Slabolepszy, is die eerste tweemanstuk wat hulle saam gedoen het.

Narkose was hul laaste. Dit is verlede jaar opgevoer.

“As Elize nog hier was, sou ons dit waarskynlik weer opgevoer het.”

Daar lê nie werkgeleenthede voor nie.

Kort ná Cawood se dood het hy wel aan ’n loodsepisode gewerk van ’n reeks wat Gray Hofmeyr vir volgende jaar beplan.

“Ek het eers gesukkel om te fokus toe ek die draaiboek bestudeer het, maar uiteindelik kon ek. En ek het twee fantastiese dae op stel gehad. So ek weet ek is in staat om te werk. Ek wil nie krepeer nie. ’n Mens weet nie wat lê voor nie.

“Ek het ’n deel van my verloor, maar nie my verstand nie. Ek het die helfte van my verloor, waarmee ek my moet versoen, maar ek is nog hier.”

• Besoek https://pay.yoco.com/Help-Elize-Cawood-Fonds indien jy die gesin finansieel wil ondersteun.

Meer oor:  Elize Cawood  |  Wilson Dusnter  |  Longkanker  |  Fonds  |  Akteurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.