Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Gaping tussen arm en ryk Brecht se ‘Threepenny Opera’

Kapitalisme en die groot gaping tussen die armes en rykes is die gegewe in die Duitse dramaturg Bertolt Brecht se toneelstuk The Threepenny Opera, wat volgende week in die Witsteater in Braamfontein in Johannesburg op die planke is.

Die aktrise Fiona Ramsay, wat ook aan Wits doseer, is die regisseur van die produksie waarin die studente aan karakters soos die misdadiger McHeath en gesellin Jenny gestalte gee.

Fiona Ramsay

“Brecht (wat in 1956 dood is) is die stem van die armes. As ’n mens na die wêreld kyk, is daar hierdie geweldige gaping tussen arm en ryk,” sê Ramsay oor dié “toneelstuk met musiek” waarvoor Kurt Weill die oorspronklike lirieke geskryf het.

Dit is in 1928 vir die eerste keer in Duitsland opgevoer.

“En daar is eintlik ’n tekort aan sorg of omgee,” sê Ramsay. “Mense is onverbiddelik. Daarom is dit so ’n goeie uitdaging vir die studente om hierin op te tree en die produksie aan mekaar te slaan. Tog is daar ’n onmiddellike toegang en resonansie. Die eerste bedryf speel steeds in Londen in die Victoriaanse tydperk af, terwyl die tweede bedryf na die hedendaagse Suid-Afrika verplaas is. In die oorspronklike teks kom die kroning van koningin Victoria voor, maar in ons produksie is dit die inhuldiging van Paul Kruger, voormalige president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR).”

Die studente het ook die kostuums en die dekor behartig.

Die akteur Clint Lesch, bekend om musiekspele soos West Side Story en Saturday Night Fever, is die musiekregisseur, met Kashifa Sithole as mede-regisseur.

Clint Lesch

Ramsay het in 1981 in ’n produksie van The Threepenny Opera in die Markteater in Johannesburg gespeel, onder regie van die akteur Richard E. Grant, wat later in Brittanje opslae gemaak het en vanjaar onder meer ’n Oscar-benoeming as beste manlike byspeler vir sy rol in die fliek Can You Ever Forgive Me? ontvang het.

“In 1981 het dit natuurlik op ’n baie andersoortige manier geresoneer as vandag,” sê Ramsay.

“Ek het die rol van Jenny vertolk en ook die kostuums ontwerp. Ek het ’n gedeelte van daardie produksie vir Wits s’n gebruik. In Suid-Afrika is die onderwerp net so geldig, daar is soveel werkloosheid. Brecht het byvoorbeeld ’n karakter geskep wat ’n bedel-franchise gestig het, wat letterlik mense na die strate gestuur het om te bedel. En dit is iets wat ’n mens in Suid-Afrika teëkom. Dit is ’n baie treffende stuk, maar dit is oplaas ietwat onthutsend, want dit is wat Brecht doen.”

*The Threepenny Opera word van Dinsdag tot 12 Mei opgevoer. Vertonings is van 6 tot 12 Mei om 19:30 en op 12 Mei om 14:30. Kaartjies kos R60 tot R85. Bespreek by Webtickets.

Meer oor:  Teater  |  Wits
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.