Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Zietsman dis weer koue kos op

Elzabé Zietsman is vandeesweek terug op die planke met haar gewilde solostuk Dis koue kos, skat.

Elzabé Zietsman in Dis koue kos, skat. Foto: Kosie House of Theatre

Zietsman vertolk die rol van die briefskrywer Clara Brand van Donderdag tot Sondag in die Popart-teater in Maboneng, Johannesburg.

Dié stuk is gegrond op Marita van der Vyver se gelyknamige roman wat in 2010 verskyn het. Dit is ’n briefroman wat oor tien jaar afspeel met Clara wat wil wraak neem nadat haar man haar vir ’n (jonger) vriendin gelos het.

Alexa Strachan het die verhoogverwerking gedoen en André Odendaal is die regisseur.

“Dit bly ’n storie wat almal ken,” sê Zietsman.

“Ek hou daarvan, want met die manier waarop die boek geskryf is, word ’n ou tema weer nuut. Die storie is slim aanmekaar geweef met die briewe wat Clara skryf. Die meeste mense kan hulle daarmee vereenselwig. As jy nog nie self deur ’n heartbreak is nie, ken jy iemand wat is.”

Elzabé Zietsman vertolk die rol van Clara Brand. Foto: Kosie House of Theatre

Zietsman het ook in Etienne Fourie se rolprentweergawe van Dis koue kos, skat verskyn. Dit is in 2016 uitgereik met Anna-Mart van der Merwe in die rol van Clara. Zietsman het toe die rol van haar vriendin Minette vertolk.

Hoewel Zietsman soos Clara graag in die kombuis aan’t kos voorberei is, voel sy eintlik nader aan Minette.

“Minette se lewe is eintlik baie nader aan my eie. Ek was eintlik jaloers, want toe ek die eenvrouvertoning begin doen het, kon ek niks van die lekker goed sê wat Minette kwytraak nie,” sê Zietsman.

“Dit was vir my so lekker om haar in die fliek te kon speel.”

Zietsman moes weer inspring om die woorde te leer sedert die vorige optrede van meer as ’n jaar gelede in Namibië.

“Die muscle memory is nog daar. Dit kom vinnig terug, maar nie outomaties nie. Jy moet maar fokus. Ek het gewoond geraak aan alleen op die verhoog wees. Ek geniet dit om eenvrouvertonings te doen,” sê sy.

“Die teks is nog soos Alexa dit vir die verhoog verwerk het, buiten twee reëls wat ek spontaan in Namibië bygevoeg het. Ek het toe gewonder, maar hoekom het ek nie lankal daaraan gedink nie? Dit het net so reg geklink, heel per ongeluk.”

* Vertonings is Donderdag tot Saterdag om 20:00 en Sondag om 15:30. Kaartjies kos R120 aanlyn en R140 by die deur. Besoek popartcentre.co.za/theatre/book-tickets/ om te bespreek. 

Meer oor:  Marita Van Der Vyver  |  Maboneng  |  Skat  |  Teater  |  Dis Koue Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.