Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
12 akteurs pak SAUK in hof oor gelde
Hans Strydom as At Koster in Binnelanders.Foto: Argief

Twaalf akteurs, onder andere Paul Slabolepszy, Amor Tredoux en Sylvaine Strike, gaan die SAUK vandeesweek in die hof vir klein eise in Hillbrow, Johannesburg, pak oor meer as R200 000 wat die uitsaaier hulle glo skuld.

Altesaam 25 dagvaardings is reeds einde Junie op die SAUK beteken oor sogenaamde herhalingsgelde. Dit is betaling waarop akteurs in ’n hoofrol in ’n TV-program geregtig is elke keer wanneer die program as ’n herhaling uitgesaai word.

Die hof vir klein eise sal die 12 akteurs se eise in twee sarsies op 17 en 18 Julie in die Hillbrow-landdroshof aanhoor.

Hans Strydom, akteur en medestigter van die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (Saga), sê genoeg is genoeg. Hy het die papierwerk namens die 12 akteurs behartig en sal ook in die hof teenwoordig wees.

“Die SAUK het altyd simpel verskonings wanneer hulle herhalingsgelde moet betaal,” sê hy. “Ons praat al so lank met hulle maar niks kom daarvan nie. Nou wil ons ’n duidelike boodskap in die hof stel: Julle het ’n kontrak met die akteurs wat julle moet nakom. Julle kan nie aanhou verskonings uitdink om nie te betaal nie!”

Die SAUK moet begin leer dat akteurs nie die papbroeke is wat hulle dink nie.
Hans Strydom, akteur

Volgens Strydom betaal die SAUK nie outomaties herhalingsgelde aan die akteurs nie; hulle moet elke keer by die uitsaaier daarvoor aansoek doen.

Die SAUK betaal 25% van die akteur se oorspronklike geld as die herhaling in spitstyd is, en 15% as die program op enige ander tyd herhaal word.

“Die probleem is reekse soos Koöperasiestories is al meer as 30 jaar oud,” sê Strydom. “Akteurs het nie meer hul kontrakte nie; die enigste manier om te bewys wat sy of haar oorspronklike betaling was, is deur middel van ’n beëdigde verklaring. Die SAUK het sulke beëdigde verklarings bykans 20 jaar lank aanvaar, maar het skielik daarteen besluit.

“Ons sê jy kan nie ’n beëdigde verklaring van die hand wys nie; dit is wettige getuienis. Die SAUK behoort buitendien van alle kontrakte boek te gehou het maar het dit duidelik nooit geliasseer nie en wil die akteurs nou daarvoor penaliseer.”

Die aktrise Sylvaine Strike het ook by die SAUK aangeklop vir haar geld ná heruitsendings van die komedie Suburban Bliss.Foto: Argief

Strydom het die SAUK 18 jaar gelede ook in die hof vir klein eise gedaag toe die reeks Die Manakwalanners heruitgesaai is en die uitsaaier “uit onnoselheid” nie die herhalingsgelde wou betaal nie.

“Die oggend van die hofsaak sê hulle toe hulle sal betaal, maar selfs al gooi hulle hierdie keer weer tou op, wil ek hê dit moet ’n bevel van die hof wees sodat die balju beslag kan lê op die SAUK se besittings wanneer hulle nie betaal nie. Die SAUK moet begin leer dat akteurs nie die papbroeke is wat hulle dink nie.”

Talle vervaardigers, akteurs en skrywers het hulle oor die jare tot Strydom, wat 12 jaar by die department van justisie as aanklaer en landdros werksaam was, vir bystand oor hul herhalingsgelde gewend. Hy hou tans boek van ongeveer 400 kunstenaars se SAUK-kontrakte en hul programme se heruitsendings, onder andere akteurs soos Louis van Niekerk, Liane Heyl, Willie Esterhuizen, Magda van Biljon, Helene Truter, Frank Opperman, Elize Cawood, Terence Bridgett, Elma Postma, Warren Masemola, Thuli Thabethe en Gabisile Tshabalala.

Van Niekerk wag reeds sedert 2014 vir betaling nadat Geraamtes in die kas op SABC3 heruitgesaai is.

“Die hof vir klein eise se jurisdiksie strek tot R20 000,” sê Strydom. “Die SAUK skuld Louis, byvoorbeeld, meer as R20 000; daarom kan sy saak nie in die hof vir klein eise aangehoor word nie. As ons dié hangende sake wen, gaan ons ons tot ’n hoër hof wend om al die ander se gelde ook te verhaal.”

Die akteur Paul Slabolepszy wag vir sy geld nadat die SAUK Konsternasie oppie stasie in 2018 heruitgesaai het. Foto: Denzil Maregele

Strydom sê hy is hoopvol oor ’n positiewe uitslag in die hof, selfs al besef hy en die eisers dat hulle weens die SAUK se finansiële verknorsing nie hul geld gou sal sien nie.

“Soos ek vir die eisers sê: Dit gaan nie net oor die geld nie. Dit gaan hier om vir die SAUK te wys dat hy nie met ons kan mors nie. Ons weet wat ons regte is. Hou op met onnosele vertragingstaktiek en onwettige redes hoekom die eise nie betaal word nie. Ons sal jou weer hof toe vat.”

Aobakwe Sekwati, die SAUK se administrateur van herhalingsgelde, het bevestig dat hy namens die uitsaaier in die hof vir klein eise gaan wees.

“Ek gaan egter net in die hof kommentaar hieroor lewer,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.