Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
14-jarige skoolseun skitter as sepiekarakter

Terwyl gewone hoërskoolseuns dalk net sport en skoolwerk het om hulle oor te bekommer, moet die 14-jarige Vian Singleton van die Helpmekaar Kollege in Johannesburg tussen die skool en die stel van ’n bekende Afrikaanse sepie rondhardloop.

Vian het verlede jaar in die sepie 7de Laan begin speel as die karakter Thomas Fouché, wat onlangs van die skerms moes verdwyn sodat Vian eksamen kon skryf.

Vian Singleton sê op Instagram hy geniet dit ook om te draf, en is hier in sy oefenklere te sien.Foto: Instagram

“Die rol as Thomas is ’n tipiese tienerrol,” sê Vian, wat nou in gr. 8 is.

“Ek kan nie te veel verklap nie, maar Thomas gaan binnekort oor die positiewe (en negatiewe) aspekte van sosiale media leer,” sê hy.

Vian geniet dit om in 7de Laan te speel, want volgens hom lei die ander, meer senior akteurs hom in die regte rigting, hy sien almal geniet wat hulle doen.

Hy sê sy droom is om nog groot treë te gee in sy loopbaan as akteur, onder meer om saam met die Amerikaanse akteur Dwayne Johnson (ook bekend as “The Rock”) te werk.

Maar Vian sê op die oomblik wil hy “net op die rol in 7de Laan fokus”.

Dié 14-jarige uitblinker se loopbaan as akteur het reeds op die ouderdom van nege begin toe sy ouers in 2015 oor die radio gehoor het van ’n Amerikaanse talentagentskap wat oudisies hou vir plaaslike talent om aan ’n kompetisie in die skilderagtige Los Angeles deel te neem.

Hulle het hom ingeskryf en hy het met twee pryse van Amerika teruggekeer, dié van junior akteur en junior model van die jaar. Hy het toe ’n rol in ’n Sunfoil-advertensie gekry waarin hy saam met Protea-krieketspelers verskyn het.

Hy is egter nie net bekend vir sy akteursvermoë nie, maar is ook ’n kranige sportman. Hy was al deel van die Cravenweek-rugbyspan en het SA kleure in atletiek.

Vian Singleton ná ’n redenaarskompetisie waaraan hy deelgeneem het.Foto: Instagram

Vian sê dit is ’n uitdaging om die druk van sepie-akteur te hanteer en boonop met sy skoolwerk op datum te bly.

Sy rol in 7de Laan het hom geleer om sy tyd beter te bestuur, sê Vian.

Sy 7de Laan-karakter, Thomas, is Esti (Reandi Grey) se seun. Hy sê dié aktrise is een van sy gunsteling-kollegas.

Hulle het saam oudisies gedoen vir hul onderskeie rolle. Sy voel vir hom soos ’n tweede ma, sê hy.

In sy vrye tyd hou Vian van visvang, want dit is ’n manier om sy kop skoon te hou.

’n Ander gunsteling-kollega op die 7de Laan-stel is Francois Lensley (Marko Greyling). Hulle deel vele belangstellings, onder meer om langs die viswaters te staan.

Hy stel ook belang in ingenieurswese en oorweeg dit as ’n studierigting ná skool.

Vian is ook te sien as Benjamin Komoetie in die teaterstuk Fiela se kind wat gegrond is op die gelyknamige boek deur Dalene Matthee.

Meer oor:  Helpmekaar Kollege  |  Johannesburg  |  Tv  |  Skoolseun  |  7De Laan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.