Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
KYK: 3de reeks van ‘The Voice SA’ op kassie

Die derde reeks van The Voice SA begin Sondag op M-Net met ’n paar nuwe gesigte en ’n verandering hier en daar, maar die fokus is steeds die sanger met die beste stem.

Die nuwe reeks is onlangs by Gold Reef City, suid van Johannesburg, bekend gestel.

The Voice SA
Francois van Coke, Lira, Riana Nel en Riky Rick - die afritgters in die derde seisoen van The Voice SA.

Die radiopersoonlikheid Anele Mdoda is die nuwe aanbieder wat saam met die vier stemafrigters die geleentheid bygewoon het.

Die sangeres Lira, wat sedert die eerste reeks betrokke is, die sangeres Riana Nel, die kletsrymer Riky Rick en die rocker Francois van Coke gaan die deelnemers onder hul vlerk neem.

Die afrigters het tydens die bekendstelling die vertrek binnegestap en met hul rûe na die gehoor gaan sit.

Dit is soortgelyk aan dié werklikheidsreeks se formaat.

Elke deelnemer lê ’n “blinde oudisie” af waartydens hulle die afrigters met hul stem moet beïndruk.

Indien ’n afrigter van ’n deelnemer hou, sal sy of hy omdraai en motiveer hoekom die deelnemer haar of hom as afrigter moet kies.

Dít was ook die media se voorland tydens die bekendstelling.

Hulle moes sing en met die eerste lied het nie een van die vier afrigters omgedraai nie en met die tweede lied het elke afrigter buiten Lira omgedraai.

Lira was van mening dat die media nie energiek genoeg gesing het nie.

Wanneer nie een van die afrigters in die reeks omdraai nie, verlaat die deelnemer die stel sonder dat die afrigters hulle ooit sien.

In dié opsig het die formaat van die program in die derde reeks verander.

In die vorige reekse het die afrigters met die deelnemers gepraat, al het niemand hulle gekies nie.

“Dit is vir my baie erg,” sê Lira.

“Jy wil vir hulle opbouende kritiek gee. Jy wil vir hulle vertel wat hulle benodig. Ons kan nie die volledige pakket soos die kyker of die gehoor sien nie. Ons hoor net die stem. En dis vreeslik, want almal wat aan die program deelneem, kan eintlik sing. Maar jy het diversiteit in jou span nodig. Jy wil nie ’n groep mense hê met soortgelyke spanne nie.”

Volgens Darren Hayward, vervaardiger van The Voice SA, kan net 48 uit die 100 deelnemers gekies word.

“Elke afrigter se span mag net uit 12 deelnemers bestaan. Hul besluite word ook geneem ten opsigte van strategie. Ons sê nie wanneer die afrigters moet omdraai nie. Dis ’n wêreldwye besluit dat die afrigters nie met ’n onsuksesvolle kandidaat op die program praat nie. Want nou moet die afrigters op die mooiste manier verduidelik waarom hulle nie wou omdraai nie. En dit maak dalk die oomblik net nog erger vir die deelnemer. Hulle neem dan ook nie iets in nie. Dit voel tragies dat die afrigters nou nie omdraai nie, maar nou word die mislukking nie uitgerek nie.”

The Voice SA
Francois van Coke, Lira, Riana Nel en Riky Rick op die stel van The Voice SA.

Nog ’n verandering is die volgorde van die rondes ná die blinde oudisies. In die nuwe reeks word die uitkloprondes eers gehou waarna die gevegrondes aan die beurt kom. In die vorige reekse was dit andersom.

In die uitkloprondes moet twee lede van ’n span saamsing en in die gevegrondes moet lede van ’n span agtereenvolgens individueel optree.

In die reeks word die deelnemers se agtergrondstories vertel. Baie van die deelnemers tree reeds gereeld op en beoefen musiek.

“Ons wil ’n positiewe program aanbied,” sê Hayward.

“Ons moedig onsuksesvolle deelnemers aan om terug te kom. Die program definieer jou nie as ’n musikant nie, dit bevorder net geleenthede.”

Richard Stirton was die wenner van die eerste en Craig Lucas die wenner van die tweede reeks.

* The Voice SA word Sondae om 17:30 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.

Meer oor:  M-Net  |  Anele Mdoda  |  Riky Rick  |  Riana Nel  |  Francois Van Coke  |  Lira  |  The Voice Sa  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.