Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Boksemdais
Dié programme laat jou tred hou met die tye

Van selfone, rekenaars en die iPad tot die iPod en alles tussenin – tegnologie regeer ons lewe.

Dis ook nie altyd ’n slegte ding nie. Ja, verkieslik moet jy jou nuwe Samsung Galaxy S5 eerder in jou handsak los tydens ete, maar nuwe tegnologiese uitvindsels kan jou lewe in ’n japtrap geriefliker en beter maak.

’n App soos Duolingo kan jou byvoorbeeld help om ’n nuwe taal te bemeester, terwyl iets soos MyFitnessPal tred hou met hoeveel jy al vandag geëet het.

As jy nie die ontstaan van wat dalk die volgende Facebook of Twitter is, wil misloop nie, moet jy inskakel vir dié programme:


Die nuutste is . . . 

The Tech Report het pas hul 150ste episode gevier. Dit is ’n trots Suid-Afrikaanse produksie en hou jou op die hoogte van tegnologie wat vinniger kan verander as die Kaapse weer.

Die veldaanbieders – onder meer Juliet McGuire, Seth Rotherham, Jason Greer en Grant Hinds – pak weekliks stories aan wat die leser op die voorpunt hou. Die program reik dikwels wyer as ’n eng definisie van tegnologie. Dit dek alles van hoe om jou huis groen te maak en nuwe produkte tot die ontwerp van ’n paniekknoppie op jou selfoon en splinternuwe elektroniese betaalwyses wat maak dat jy nie meer ’n beursie nodig het nie.

As jy daarvan moet weet, sal The Tech Report jou vertel. – Donderdag om 21:30, eNCA (kanaal 403).


Quest is op koers

Nie almal is aanhangers van Richard Quest nie, maar as ’n veteraan-joernalis van CNN vra hy minstens die regte en dikwels moeilike vra. Quest, wat bekend geword het vir sy program Quest Means Business, verander nou sy aanslag om die sakewêreld uit ’n tegnologiese oogpunt te beskou.

Tomorrow Transformed het verlede maand op CNN begin as deel van Quest Means Business. Dit is ’n tweeweeklikse insetsel wat ondersoek instel na hoe innovasie en die invloed van tegnologie die samelewing en die sakewêreld verander en wat dit dan vir die toekoms beteken.

Dit is baie insiggewend en ’n goeie rigtingwyser as jy sommer goedkoop raad soek.

Dit is nou mits jy Quest se dreunerige stem kan uitstaan. – Weeksaande om 22:00, CNN (kanaal 401).


‘Who you gonna call?’

Tech Busters is kolskoot-kennis. Op dié program hoor jy die jongste nuus uit die mond van werklike kenners.

Twee plaaslike tegnologie-verslaggewers, Aki Anastasiou en Toby Shapshak, span kragte saam as aanbieders en doen dit boonop op ’n manier wat selfs die grootste tegnologiese leek sal verstaan. Dit is pitkos vir tegnologievrate. – Maandae om 21:30, CNBC Africa (kanaal 410).

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.