Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Hulle sit die spel in speletjie
Prof. Gerhard van Huyssteen Foto: Theana Breugem
Rian van Heerden Foto: Albert Bredenhann

Kan jy spel? Ken jy jou Afrikaanse gesegdes en idiome?

’n Nuwe speletjiesprogram wat mense se taalvaardigheid gaan toets, is binnekort op kykNET te sien.

Ben Heyns, direkteur van Homebrew Films, vervaardigers van die program, het gesê dié speletjiesprogram se titel is Op die spel.

Dit word volgende maand in Stark Studios in Randburg opgeneem.

Volgens Heyns is dit nie op ’n spesifieke speletjiesprogram gegrond nie.

Die idee spruit uit spelkompetisies wat al hoe gewilder raak.

“Ons het verskillende speletjies uitgedink en dit sommer self gespeel om te kyk of dit opwindend is.”

Rian van Heerden bied dit aan.

“Ons kon nie ’n meer perfekte aanbieder kry nie,” het Heyns gesê.

Prof. Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, gaan as beoordelaar optree.

Volgens Heyns gaan die stel baie modern wees met baie chroomafwerking, LED-skerms, perspeks en beligting.

“Ons wou ’n moderne aanslag hê en nie die voorspelbare tikmasjiene en papier nie.”

Oor Van Heerden en Van Huyssteen het hy gesê: “Hulle is glad nie hierdie vaalhaar-professore nie en het ’n baie ligte aanslag.”

Volgens Heyns kan mense nou al begin inskryf om aan die speletjie deel te neem.

Potensiële deelnemers sal eers ’n toets op www.beterafrikaans.co.za moet aflê. Daarna volg ’n telefoniese toets voordat deelnemers gekeur en gekies word vir die verskillende episodes. “Ek het maar nog altyd ’n ding oor spel gehad en Suid-Afrikaners wat nie kan spel nie,” het Van Heerden gesê.

Hy is daarom baie bly om deel te wees van die nuwe program.

“Ek wou ook nog altyd graag ’n speletjiesprogram gedoen het.”

Volgens hom gaan dié een daaroor om ook speel-speel meer oor die Afrikaanse taal te leer – hy het al self ’n paar goed geleer.

“Daar is baie terme wat ons glad nie gebruik nie of ons gebruik dit verkeerd.

“En daar is so baie goed wat humoristies is in Afrikaans en die hele idee van die program is om weer pret te hê met die taal.

“Nou wil ons net aan die speel en spel kom!”

 Die program word op 14 Julie 20:00 vir die eerste keer uitgesaai.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.