Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Tot siens ‘7de Laan’, hallo Bloemfontein
Chris Vorster as Ryno Lategan in sy boekwinkel op die stel van 7de Laan.

“EK was 30 toe ek by 7de Laan begin het en in die afgelope 14 jaar het my kinders grootgeword, my huwelik gehou en het ek omtrent 30 toneelstukke geskryf,” sê Chris Vorster, alias Ryno Lategan, terwyl hy wag om vir die volgende toneel op die stel van die gewildste Afrikaanse TV-sepie geroep te word.

Hy glo egter die tyd het aangebreek om na die akademie terug te keer wat in die vorm van die “ideale pos” as dosent in filmmaakpraktyk en -teorie in die Universiteit van die Vrystaat se splinternuwe filmskool gekom het.

Die akademie is nie vir Vorster onbekende terrein nie.

“Ek het in die 1990’s klasgegee aan die Universiteit van Stellenbosch terwyl ek vir my meestersgraad in drama gestudeer het en is mal oor werk met studente. Jy kan heerlik eksperimenteer en nuwe konsepte uitdink. Ek het toe gesê ek sal weer wil klasgee; dit het net baie langer geneem as wat ek beoog het.”

Vorster se 7de Laan-loopbaan het in 2000 as ’n akteur begin. Later het hy ook regie gedoen en met storieontwikkeling gehelp.

Ryno, skrywer en boekwinkeleienaar, se TV-huwelike is ’n lewendige gesprekspunt. Hy sê spottend “ek noem myself Four Weddings and a Funeral” na aanleiding van die vier vrouens met wie hy getroud was en een wat hy aan die dood afgestaan het.

Vir die oorblywende vroue van Die Laan wat hul oog op dié aantreklike, goedgeaarde en enkellopende karakter het, is dit dus neusie verby. Of dalk nie, want Vorster sê hy weet nie of hy uit die storie geskryf gaan word en of Ryno nou en dan nog ’n kameeverskyning sal maak nie.

Vorster se veelsydigheid sal waardevol wees vir die nagraadse filmkursus aan die UV waarop hy beskeie sê: “Niemand weet ooit alles nie, maar ek het seker ’n bietjie meer agtergrond as ander en is gewillig om nog te leer.”

Wat hom geesdriftig maak oor die kursus is dat elke student omvattend toegerus kan word – “in alle style in teater, TV, film en visuele media. ’n Mens sal net moet seker maak jy hou tred met die tegnologie wat in dié bedryf geweldig vinnig verander.”

Vorster glo die studente wat die nuwe kursus deurloop, sal die standaard van veral Afrikaanse rolprente verhoog. “Die bedryf bestaan meestal uit swak musiekprente, maar dit is ’n fase en het darem die afgelope twee, drie jaar stadigaan afgeneem.”

Om 30 toneelstukke te skryf terwyl jy heeltyds by ’n TV-sepie betrokke is, beteken net een ding: Jy is ’n harde toegewyde werker.

Vorster beaam dit. “Ek is nie ’n sosiale ou nie. Ek kan nie ’n week lank op die stoep sit en bier drink nie. Ek weet, want ek het al probeer. Teater, skryf en regie is so deel van my lewe, ek kan nie daarsonder nie.”

Dié gewilde TV-akteur het twee jaar van sy laerskoolloopbaan saam met sy ouers in Bloemfontein gewoon en sy diensplig by Tempe gedoen. Drie maande gelede het sy vrou, Lize, en seuns, Eben (17) en Le Roux (15), hul intrek in die Rosestad geneem en in die tyd het hy byna elke naweek kom kuier.

“Bloemfontein is soos ’n dorp met ’n goeie infrastruktuur en ’n vibe waarvan ek hou, ” sê hy.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.