Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Binnelanders: 'Sasha' sorg vir sappige storielyn

Sepiekykers kan ’n lekker nuwe storielyn verwag wanneer Sasha Ruiters (gespeel deur die Chantal Stanfield) Woensdag haar eerste verskyning op die kykNET-sepie Binnelanders maak.

Sy is die eksmeisie van Danny Jantjies (gespeel deur Bradley Olivier) wat kom help met die nuwe kroeg se elektrisiteit. Danny se meisie Chanel raak ongemaklik met hul vriendskap en ’n heerlike liefdesdriehoek volg, maar meer wil die vervaardigers nie uitlap nie.

Chantal Stanfield soos sy as die elektriese ingenieur Sasha in Binnelanders lyk. Foto: Verskaf

Stanfield is ’n ou bekende in die sepiebedryf. Haar eerste rol was 15 jaar gelede in Sewende Laan as Cecile Whittaker. Sedertdien het sy ook ’n draai op die Getroud met rugby-stel gemaak.

“Ek het seker al tien of 15 keer vir rolle in Binnelanders oudisies afgelê en ek was nooit suksesvol nie. Dit wys jou nou net, ’n mens moenie moed opgee nie en aanhou probeer. Dis die ding van ons bedryf, as jy vir tien rolle ’n oudisie aflê sal jy miskien twee daarvan kry. Dis glad nie ’n weerspieëling van jou talent nie,” sê sy.

Stanfield, ’n boorling van die Kaap, bly nou al agt jaar lank in Johannesburg, in die voorstad Killarney saam met haar man RJ Benjamin en hul eenjarige dogtertjie.

“Ek is mal oor Sasha, die rol wat ek in Binnelanders vertolk. Sy is baie meer van ’n ekstrovert as ek. Sy kuier saam met die hele wêreld. Ek hou van my eie ruimte en bring my vrye tyd veel eerder saam met my man en familie deur,” sê sy.

Benewens haar toneelspel sing sy ook en haar liedjies “Walk It Off” en “Nothing There” speel gereeld op radiostasies soos Kaya FM en Metro.

Die inperkingstyd was tot dusver genadig teenoor haar en haar man. Sy is die eerste nuwe aktrise wat op die Binnelanders-stel begin werk het sedert vlak 3 aangekondig is.

“Ek kon darem tussendeur ook stemwerk doen en my man maak musiek van die huis af,” sê sy.

Om ’n eenjarige voltyds in die huis te hou is wel vir hulle ’n uitdaging. Sy sê sy mis die tye toe hulle net sorgeloos buite kon gaan stap en normaal leef.

“Van alles mis ek die teater die meeste. Om na ’n vertoning te kyk of om in een te kan speel. Ek mis ons vryheid. Maar ons doen wat ons kan en ons weet dinge gaan weer eendag normaal wees, dis maar net ’n kwessie van tyd."

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.