Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Absa MegaBoere’ boer weer ná 2 jaar op kassie

Die kykNET-landbousakeprogram Absa MegaBoere is terug op die kassie ná ’n blaaskans van twee jaar.

Kabous Meiring Foto: Ben van Niekerk

Volgens Christelle Parrott, saam met Wynand Dreyer van Khaki Produksies die reeks se vervaardiger, was daar nie eintlik ’n spesifieke rede vir hoekom die program “gerus” het nie, maar dit was beslis tot hul voordeel.

“Ons kon die inhoud sowel as die visuele proses herbedink en meer interessant maak,” sê sy.

“ ’n Belangrike rede is wel dalk dat kykers verveeld raak met programme wanneer hulle daardeur gebombardeer word. Absa MegaBoere is in sy eie klas.”

Die reeks gaan oudergewoonte die stories van suksesvolle boere in die land vertel. Kykers is in die verlede wel ook aan boere in Suider-Afrika bekend gestel soos Meckie Schneider en Joggie Briedenhann in Namibië, Rudi Lemcke in Botswana, Graham Rae en Mick Selby in Zambië en die Joubert-gesin in Zimbabwe.

Nou, in die reeks se sesde seisoen, gaan die program sy vlerke nog wyer span, dié keer ook na Oos-Afrika.

“In vorige reekse het ons boere in ander SAOG-lande (lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) besoek, maar dis die eerste keer dat ons só ver reis,” sê Dreyer in ’n mediaverklaring oor hul draai in Uganda.

“Afrika sit oorgehaal om die vasteland en die wêreld van kos te voorsien, en hulle is nie skaam om kundigheid elders te gaan soek nie. Finansiële instellings en regerings doen moeite om boere in staat te stel om te produseer.”

Afrika sit oorgehaal om die vasteland en die wêreld van kos te voorsien, en hulle is nie skaam om kundigheid elders te gaan soek nie. Finansiële instellings en regerings doen moeite om boere in staat te stel om te produseer.
Wynand Dreyer

Parrott sê aan Netwerk24 hulle hoop ook om ’n draai by ’n blommeplaas in Kenia te maak, sou die Covid-19-regulasies dit toelaat.

“Min mense besef dat ’n groot deel van die wêreld se blomplase in Kenia is. Absa is ook baie bedrywig in dié deel van Afrika en die stories daar is inspirerend!

“Soos in die verlede probeer ons juis om ook nie-Suid-Afrikaners in ander lande te besoek. Elkeen van die SAOG-lande het ander landbougewoontes, -wette en -regulasies, en ons vind dit interessant om die kyker ’n vinnige blik daarin te gee.

“Die boerdery in Uganda word deur Indiese burgers bedryf en is anders as enigiets wat ons al gesien het.”

Kabous Meiring is weer die aanbieder en gaan kykers deur die loop van die reeks onder meer vertel van ’n ooreenkoms tussen die Makgobastam en die agri-reus ZZ2, asook watter invloed ’n onderneming soos Wildeklawer in Barkly-Wes op die breër gemeenskap het.

Parrott sê die reeks is voor en tydens die pandemie opgeneem.

“Ons vervaardiger het baie streng riglyne gehad wat ons moes volg. Sosiale distansiëring is gehandhaaf, ons koors is gereeld gemeet en aangeteken, en elke spanlid het sy of haar eie gemerkte bottel skoonmaakgoed gehad. Ons het ook gesorg vir ekstra maskers, ensovoorts,” sê sy.

“Op die plase het die boere hul eie maatreëls en dit was maklik om daarby in te val. Covid-19 het ons leer planne maak.”

  • Absa MegaBoere word van 5 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Meer oor:  Barkly-Wes  |  Wildeklawer  |  Makgobastam  |  Boere  |  Boer  |  Makgoba  |  Zz2  |  Meckie Schneider  |  Graham Rae  |  Mick Selby  |  Joggie Briedenhann  |  Rudi Lemcke  |  Kabous Meiring  |  Khaki Produksies  |  Wynand Dreyer  |  Christelle Parrott  |  Tv  |  Absa Megaboere  |  Kyknet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.