Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Afrikaans, Kaaps en sommer net lekker’

Arendsvlei se storie het as kortverhaal begin. Theltom Masimila was 19 jaar oud toe hy dit geskryf het. Sewe jaar lank het hy elke nou en dan aan die storie gewerk en dit ’n bietjie vir bietjie uitgebrei.

Nou gaan hierdie skoolverhaal van 156 episodes ’n jaar lank op televisie te sien wees.

Theltom Masimila

Masimila (25) het ernstig begin skryf nadat hy kursusse by die Breytenbach-sentrum bygewoon het. Toe hy 22 jaar oud was, het hy vir 7deLaan begin skryf en daarna was hy in die span skrywers vir die sepie Suidooster. Hierdie groep het vroeër vanjaar ’n Safta gewen vir die beste teks vir ’n sepie of telenovelle.

Die storie van Arendsvlei lê na aan sy hart.

“Daar is so baie onderwysers in my familie en almal van ons ken skooldae met sy lief en leed, onderwysers en medeleerlinge.”

Dis egter meer as net ’n skoolstorie, voeg Roberta Durrant (kreatiewe vervaardiger) by.

“Dit gaan oor ’n gemeenskap met die matriarg Aunty Gertie (Celeste Mathews), die ouer geslag, die jonges en die skool wat die saambindende faktor is.”

Roberta Durrant

Die reeks word tans verfilm in ’n tegniese skool in die omgewing van Eersterivier en Kuilsrivier waar die skooldae in ’n vleuel verfilm word. Die res word in huise en in ’n ateljee verfilm.

Die verhaal word vertel van Beatrice (Joelene Martin) wat ’n semiprivaatskool begin waar leerlinge die voordele van ’n tradisionele, dog bekostigbare privaat skool het.

“Ons wys die regte lewe in ’n Afrikaanse skool van vandag,” sê Misimila. “Ons sien meestal hierdie soort verhaal in Engels. Dis die eerste keer in ’n lang tyd wat ’n lekker Afrikaanse storie vertel word. Dis Afrikaans, Kaaps en sommer net lekker.”

Die telenovelle volg die regte skoolkalender. Kykers sal alles meemaak van vakansie, tot die matriekeksamen, Kersfees en die begin van die nuwe skooljaar.

“Dit maak alles nog meer realisties,” sê Masimila.

Nog ’n interessante aspek van die verhaal is dat daar sterk vroue in die kollig staan.

“Die protagonis én antagonis is vroue. Ons wil nie te veel verklap nie, maar daar is ook ’n storie van wraak, ’n liefdesverhouding en verhoudings in die algemeen.”

Die skrywers wat vir Arendsvlei skryf is Durrant, Masimila, Wilmien Rossouw, Margaret Goldsmith, Quanita Adams, Johan Davids, Henry Cloete, Retief Scholtz en

Ilse Oppelt.

Die akteurs wissel van die room van akteurs tot jonges wat hul buiging op die televisieskerm maak.

Volgens Durrant is almal baie opgewonde om deel te wees van die produksie, al beteken dit vir baie om weer ’n skooluniform aan te trek.

Vir Masimila is dit belangrik om positiewe stories te vertel.

“ ’n Mens kan natuurlik nie wegkom van negatiewe dinge wat gebeur nie, maar die mense wat ons wys is mense met geleerdheid, wat suksesvol is en wat drome het. Die storie is universeel en dit draai nie om misdaad nie.”

Van die akteurs wat te sien sal wees is Oscar Petersen, Jody Abrahams, Crystal-Donna Roberts, Rehane Abrahams,

Celeste Matthews en Joseph Mitchell.

Arendsvlei sal van Maandag tot Woensdag om 20:00 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) te sien wees. Die reeks loop tot in September 2019.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.