Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Afrikaans kraai koning op nuwe ‘The Bachelor’
Marc Buckner
Marc Buckner Foto: Verskaf/M-Net

Die vrygesel Marc Buckner gaan sy Afrikaanse woordeboek moet uitruk vir die Afrikaanse meisies op M-Net se tweede seisoen van The Bachelor SA wat op Donderdag 13 Februarie begin.

Tydens sy eerste mediakonferensie verlede jaar is M-Net se nuwe “Bachelor”, internasionale model en makelaar, Marc Buckner, gepeper met vrae oor die tipe meisie met wie hy moontlik sal afhaak aan die einde van The Bachelor SA. ’n Afrikaanse joernalis van Die Burger het die Rooinek van Durban, wat nou in die Kaap bly, spesifiek gevra of Afrikaanse meisies ’n kans staan.

Buckner het dit duidelik gemaak dat hy beslis ’n sagte plek het vir anderstaliges en ander kulture en dat hy ter voorbereiding solank sy Afrikaanse taalkennis gaan opknap.

Goed so, want ’n paar beeldskone Afrikaanse vroue is deel van die groep van 22 hoopvolles wat Buckner volgende Donderdag om 19:00 op die rooi tapyt gaan ontmoet.

Onder die twee skoonhede tel twee uiteenlopende meisies wie se name albei met ’n A begin: eksotiese Amor Kruger met haar blinkswart hare, groen oë en slimkop rooikop Andeline Weiland.

Amor Kruger
Amor Kruger gaan volgende week op ‘The Bachelor’ bewys sy is veel meer as net ’n prokureur. Foto: Sean Brand

Kruger (25) is ’n gekwalifiseerde prokureur van Pretoria met ’n LLB-graad van Unisa, maar dans is haar groot liefde. Haar balletklasse het al op sesjarige ouderdom begin en sy was later ses jaar lank deel van die Blou Bulle se rasieleiers, die Blue Bulls Babes. Sy is nogal ’n rabbedoe wat op skool mal was daaroor om saam met haar drie broers te kampeer. So reg in Buckner se kraal!

Kruger het ’n ruk lank in Kalifornië en China gewoon en Mandaryns en Spaans leer praat. Vir haar 21ste verjaarsdag het sy saam met drie buitelandse uitruilstudente, wat net geradbraakte Engels gepraat het, deur die Nevada-woestyn na Las Vegas toe getoer. Nog bonuspunte vir die avontuurlustige Marc!

Sy beskryf haar beste kenmerke as haar lojaliteit, eindelose energie en sagte geaardheid. Sy sê wel dat mense haar opregtheid soms verkeerd verstaan en selfs dink sy’s ietwat eksentriek.

Andeline Weiland
Die Namibiër Andeline Weiland is een van die Afrikaanse meisies wat volgende week op M-Net se realiteitsreeks ‘The Bachelor SA’ om Marc Butcher se aandag gaan meeding. Foto: Sean Brand

Student en entrepreneur Andeline Wieland (24) se geboorteland is Namibië, waar sy in 2016 die naaswenner in die Mej. Namibië-kompetisie was. Sy het daarna die Mej Kontinente-kompetisie gewen – een van slegs twee Namibiese wenners nóg. Andeline het ’n borrelende persoonlikheid, maar is ook slim en onafhanklik en is sterk akademies ingestel. Sy studeer tans vir haar derde kwalifikasie aan die Universiteit Stellenbosch. Sy spog reeds met ’n BA Drama en BAHons in Joernalistiek. Sy het ook haar eie onderneming wat matriekmeisies help om pragtig te lyk op hul groot matriekafskeid aand.

Die ander Afrikaanse meisies is (in alfabetiese volgorde) die onkonvensionele 26-jarige ontvangsdame Gillian Seetso van Roodepoort wat in ’n Afrikaanse huis grootgeword het, die spraakterapeut Marisia van Wyk (24) en raakvatter Michaela Liebenberg (24) wat reeds ’n blink loopbaan in die sakewêreld het. M-Net wil nog nie te veel verklap oor dié drie nie, wat ons laat wonder . . .

The Bachelor SA begin op 13 Februarie die aand voor Valentynsdag op M-Net. Dit sal ook op Dstv Catch Up beskikbaar wees. Die hoofborg van die program is LottoStar en daar is 16 episodes in die reeks.

Meer oor:  Marc Buckner  |  The Bachelor Sa  |  Realiteitsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.