Die akteur Dean Smith glo ’n mens moenie net onthou waar jy vandaan kom nie, maar ook die mense wat jou gehelp om te kom waar jy vandag is.
Daarom het hy in die tweede episode van die VIA-reeks Die koevert besluit om R10 000 aan Delia September, sy ouers se huiswerker, te gee.

Dean Smith en Delia September Foto: VIA
In elke episode word ’n koevert met R10 000 aan ’n gemeenskapslid gegee. Daar is ook ’n tweede koevert wat die gemeenskapslid dan aan ’n ander weldoener moet gee en so gaan dit aan.
“Toe ek van hierdie konsep hoor, het ek dadelik aan auntie Delie gedink,” sê Smith, bekend om verskeie toneelstukke en sy rol in die kykNET-sepie Suidooster.
“Omrede, ek word 27 hierdie jaar en sy is ongeveer 25 jaar deel van ons huishouding. Sy het my basies help grootmaak. Ek het ’n sagte plek in my hart vir haar.”

Delia September Foto: VIA
Smith se ouers woon in Malmesbury en hy kon met die verfilming van die episode weer sy ouers sien.
Die episode is midde-in die staat van inperking geskiet, maar Suidooster se verfilming is reeds hervat toe die reeks oor Smith se pad kom.
“Ek het die mense by Suidooster mooi gevra en ek kon die oggend afkry om in die episode te verskyn. Hulle kon sien dit beteken baie vir my.”
Hy beskou September as deel van die familie.
“Sy is iemand wat heeltyd na mense omsien. Sy het soveel trots. Op ’n Sondag kry jy haar nêrens anders nie as in die kerk – met ’n groot hoed. Aunty Delie is een van die mense wat my gehelp om te kom waar ek vandag is.”
Volgens Smith is sy beskeie.
“Sy sal dit altyd kleiner praat as wat dit is, maar sy is vir my ’n ma-figuur, nog iemand wat jy kan vertrou. Dit was lekker om hierdie koevert aan haar te oorhandig.”

Anna Pieters Foto: VIA
Smith het ook ’n tweede koevert met R10 000 aan haar oorhandig, wat sy aan ’n weldoener of gemeenskapslid van haar keuse kan oorhandig.
Sy het dit aan Anna Pieters oorhandig, wat dit glad nie verwag het nie.
Met die oorhandiging het Pieters selfs geskerts: “Gaan ek bioscope toe?” Sy was oorstelp toe sy die bedrag sien.

Liaan Pieterse Foto: VIA
Ook Pieters het ’n tweede koevert gekry, wat sy op haar beurt aan Liaan Pieterse, ’n laerskoolonderwyser en ’n lekeprediker oorhandig het.
• Die koevert word Donderdae om 18:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Dit word in samewerking met Netwerk24 aangebied. Besoek die artikel op Netwerk24 en benoem ’n persoon of organisasie wat ’n verskil in die gemeenskap maak in die kommentaarafdeling. So staan u die kans om R2 000 aan hulle te skenk.

Dean Smith Foto: VIA