Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Akteur veg om sy lewe in staatshospitaal
Cobus Visser
Cobus Visser

Die akteur Cobus Visser veg om sy lewe in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria, waar hy Saterdag weens hartversaking opgeneem is.

Visser (70) vertolk die rol van Brand Louw, ’n inwoner van ’n ouetehuis in die televisiereeks Huis Lelieveld, wat onlangs op kykNET begin het.

Sy suster, Louise Viljoen, by wie Visser in Pretoria bly, sê van sy kollegas, onder andere die aktrise Lizz Meiring, het hom Vrydag in die hospitaal besoek.

“Hulle het vir hom ’n klomp verversings gebring en seker gemaak dat hy gemaklik is.

“Hy veg om sy lewe. Ons weet nie of hy dit gaan maak nie,” sê Viljoen.

Cobus Visser (heel regs) saam met die rolverdeling van ‘Huis Lelieveld’. Van links is Willie Esterhuizen, Lizz Meiring, Reginald Hufkie, Lara Lourens, Elma Potgieter, Matt Stern, Hélène Truter, Wynand van Vollenstee, Karin van der Laag, Yvonne Schoeman en Visser. Foto: Verskaf

Willie Esterhuizen, wat Huis Lelieveld geskryf en vervaardig het, het by navraag behoorlik mond uitgespoel oor die omstandighede by dié staatshospitaal. Hy beweer die hospitaal is vuil en dat daar te min beddens vir pasiënte daar is.

Viljoen sê daar was wel aan die begin probleme met die aantal beddens toe Visser in die ongevalle-eenheid opgeneem is. Hy is intussen egter na ’n saal verskuif en die personeel kyk sedertdien goed na hom, sê sy.

Die hospitaal het nie Vrydag op navrae oor die beweringe gereageer nie.

Visser het nie ’n mediese fonds nie en kan nie bekostig om in ’n private hospitaal opgeneem te word nie.

“Om ’n akteur te word is die loopbaan wat ons kies,” sê Esterhuizen.

“Tog is akteurs steeds beter af as die meeste ander Suid-Afrikaners wat daagliks van staatshospitale gebruik moet maak,” sê hy.

Hy het sy rol in Huis Lelieveld d*nn*rs goed vertolk.

Esterhuizen sê die Teaterbystandsfonds (TBF), wat gestig is om na behoeftige bejaardes om te sien wat in die kunstebedryf gewerk het, het nie genoeg geld om te betaal dat Visser in ’n private hospitaal opgeneem word nie.

“Private hospitale vra R30 000 net sodat ’n mens daar kan k*k. Ek moedig akteurs aan om geld weg te sit vir hul oudag of om ’n hospitaalplan te kry,” het ’n emosionele Esterhuizen gesê.

Volgens Esterhuizen is Visser deurmekaar en sukkel hy met tye om sy eie naam te onthou.

“Hy het sy rol in Huis Lelieveld d*nn*rs goed vertolk,” sê hy.

Visser werk sedert hy sy drama-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal het in die vermaaklikheidsbedryf.

Viljoen sê Visser het gereeld oorklankwerk vir die SAUK voor die aanbreek van demokrasie gedoen en het ook rolle in Afrikaanse produksies soos Fiela se kind vertolk.

“Hy is bekend in Pretoria waar ons bly. Dikwels wanneer hy by die winkelsentrum of die apteek inloop, vra mense vir sy handtekening. Hy is altyd vriendelik en tegemoetkomend,” sê sy.

Meer oor:  Huis Lelieveld  |  Cobus Visser  |  Pretoria  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.