Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Akteursgilde sit stryd oor tantième voort

Die Suid-Afrikaanse Akteursgilde (Saga) het wéér ’n voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Voordraers by die parlement ingedien.

Jack Devnarain Foto: Argief

Die voorlegging, wat die gilde ook beplan om in Augustus mondelings te lewer, is vergesel van ’n petisie met sowat 1 500 handtekeninge wat die bekragtiging van dié wysigingswetsontwerp steun.

Dit is die gilde se soveelste voorlegging oor die kwessie sedert hulle in 2012 begin het om luidkeels aan te dring op dít waarop hulle glo akteurs in die land geregtig is.

Netwerk24 het vroeër berig dat die wysigingswetsontwerp akteurs in die land sal toelaat om tantième te eis en ’n passiewe inkomste te verdien wanneer uitsaaiers en vervaardigers hul werk heruitsaai, aan ander lande lisensieer, of op aanlyn platforms beskikbaar stel. Die huidige Wet op die Beskerming van Voordraers 11 van 1967 laat dit nog nié toe nie – akteurs kry daarom nie ’n sent wanneer uitsaaiers herhaaldelik geld uit ’n rolprent of TV-reeks verdien nie.

Die wysigingswetsontwerp is in 2017 saam met die omstrede Wysigingswetsontwerp op Outeursreg geskep en is in 2019 deur die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur.

Dit het daarna vir sowat 15 maande op pres. Cyril Ramaphosa se lessenaar gelê, voordat hy dit in Junie verlede jaar op grond van onder meer sy twyfel oor sekere aspekte in die wysigingswetsontwerpe se grondwetlikheid na die parlement terugverwys het.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid het eindelik op 12 Mei vanjaar Ramaphosa gelyk gegee en ook beveel dat die wetsontwerpe herbekyk moet word.

Dit is dié besluit wat Saga genoop het om weer ’n voorlegging oor die wysigingswetsontwerpe in te dien sodat hy weer sy stem oor die kwessie dik maak.

Volgens die akteur Jack Devnarain, ook Saga se president, het Ramaphosa en die portefeuljekomitee se beslissing effektief twee jaar se harde werk om die wysigingswetsontwerpe bekragtig te kry, uitgewis.

“Ons is vandag verder weg van tantième vir akteurs as wat ons was toe die hele parlementêre proses in 2017 begin het,” sê hy.

Daar is intense pogings om die ontwerp van die wetsontwerpe weer by nul te begin. Suid-Afrikaanse akteurs sal alle hoop verloor om die kreatiewe sektor te transformeer, sou dit gebeur. Ons sal basies geen verandering in ons leeftyd sien nie.
Jack Devnarain

Devnarain sê hy en die gilde is daarmee saam “ernstig besorg” oor bewerings in ’n Politico-artikel dat Amerika en die Europese Unie “druk” op Ramaphosa uitgeoefen het om die bekragtiging van die wetsontwerpe vir hul eie gewin uit te stel. Een van Ramaphosa se besware oor die wetsontwerpe was juis dat hy nie seker is watter impak die bekragtiging daarvan op internasionale verdrae sal hê nie.

“Ironies genoeg het Amerikaanse en Europese akteurs ’n stewige kombinasie van wetlike en kollektiewe bedingingsregte, terwyl Suid-Afrikaanse akteurs nie een van die twee het nie,” sê Devnarain.

“Daar is intense pogings om die ontwerp van die wetsontwerpe weer by nul te begin. Suid-Afrikaanse akteurs sal alle hoop verloor om die kreatiewe sektor te transformeer, sou dit gebeur. Ons sal basies geen verandering in ons leeftyd sien nie.”

Devnarain sê dit is ook betreurenswaardig dat dit blyk dat daar spesifiek oor tantième groter steun vir Suid-Afrikaanse akteurs vanuit die buiteland kom, as op eie bodem.

Saga het in die verlede briewe van organisasies gekry wat hulle steun in hul tog om die wetsontwerpe bekragtig te kry. Dié organisasies sluit onder meer die Internasionale Federasie van Akteurs (FIA) in België, die UNI Global Union in Switserland, SAG-Aftra (wat jaarliks die Screen Actors Guild-pryse in Amerika uitdeel), die Kanadese Alliansie van Rolprent-, TV- en Radio-kunstenaars (Actra), die Media-, Vermaak- en Kunste-alliansie (MEAA) in Australië en Nieu-Seeland, en die Deense Akteursvereniging (DSF) in.

“Hul briewe, wat (in die verlede) amptelik aan die Suid-Afrikaanse regering en parlementêre leiers oorhandig is, sit uiteen hoekom dit (kritiek belangrik) is dat wetgewers die wetsontwerpe bekragtig,” sê Devnarain.

“Daar is wêreldwyd konsensus dat Suid-Afrika slegs sy plek tussen die wêreld se voorste lande wat rolprente en TV vervaardig, kan inneem as die wetgewende raamwerk hervorm en gemoderniseer word.

“Dít is vir Saga ook wat die wysigingswetsontwerpe verteenwoordig.”

• Die Vereniging van Rolprent- en TV-kunstenaars (Cintaa) in Indië, die oudste vereniging van sy soort in dié land, het ook onlangs sy steun aan Saga toegesê.

Amit Behl, Cintaa se sekretaris en voorsitter, skryf in ’n brief aan Saga dat akteurs se tantième ononderhandelbaar is – en dat geen toegewings gemaak moet word wanneer onderhandelinge oor dié tantième gevoer word nie.

Behl skryf ook sy “hart het gebreek” toe hy in Junie van die aktrise Shaleen Surtie-Richards (66) se dood verneem het.

Saga het Surtie-Richards se naam by ’n lang lys van akteurs – onder andere Henry Cele, Mary Twala, Elize Cawood, Joe Mafela, Allen Booi en Nomhle Nkonyeni – gevoeg wat ’n passiewe inkomste uit tantième kon verdien het.

Devnarain het voorheen aan Netwerk24 gesê dit is ’n reuse-onreg dat dié legendes nie die tantième verdien het nie en van hulle daarom brandarm oorlede is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.