Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Aktrise opgewonde om in SA te kan werk

Suid-Afrika sal altyd haar huis bly en wanneer Anel Alexander die geleentheid kry om hier te kom werk, gryp sy dit met albei hande aan. Sy is binnekort in M-Net se nuwe dramareeks Inconceivable te sien wat in September uitgesaai gaan word, en het met Terésa Coetzee gesels. 

Anel Alexander

Dis Saterdagmiddag laat toe ek vir Anel Alexander telefonies in die hande kry.

Sy kom pas van die televisiestel af waar hulle besig is om aan die nuwe M-Net reeks Inconceivable te verfilm, maar sy is so vrolik en opgewek dat niemand sal kan raai dat sy ’n dag se harde werk agter die blad het nie.

Die afgelope klompie maande werk hulle ses dae ’n week, 14 uur per dag en tog vertel sy regdeur ons gesprek hoe bevoorreg en gelukkig sy voel om dit te kan doen.

“Ons het more af en ek skiet nie soos die ander tot vanaand agtuur nie, so ek het baie om oor vrolik te wees. Dit voel amper soos langnaweek!” sê sy.

Sy en haar man James bly nou al die afgelope vier jaar in Los Angeles in Amerika en sy het spesiaal vir die verfilming Suid-Afrika toe gekom.

“Dinge het alles so gou gebeur, ek het middel Februarie gehoor ek het die rol gekry en binne twee weke het ek Suid-Afrika toe gekom om te begin skiet.

“Ek het 1 Maart hier aangekom en op 2 Maart het ons al begin werk. Ons het presies twee weke lank verfilm voor die pandemie toegeslaan het en toe is alles op ys gesit. Ek en James was op twee verskillende kontinente en dit was nogal ’n interessante uitdaging om weer bymekaar uit te kom,” vertel sy laggend. Die twee het darem intussen herenig en James is op die oomblik saam met haar hier in Suid-Afrika.

Ons het soveel talent in ons land, hier is van die beste crew in die wêreld en ons het wonderlike plekke om films in te maak.

Voordat M-Net haar vir die hoofrol in Inconceivable genader het, het Anel lanklaas as aktrise gewerk en sy het die geleentheid dadelik aangegryp.

“Ek is altyd opgewonde om in Suid-Afrika te kom werk, veral om saam met my vriende te werk en die Suid-Afrikaanse filmspanne is mos maar net anders. Dis ons mense. My en James se harte is vir seker nog net so deel van die Suid-Afrikaanse filmindustrie as ooit tevore,” sê sy.

Hulle is nog lank nie Amerikaners nie! Die rede waarom hulle Amerika toe is was bloot omdat hulle albei gevoel het hulle het ’n plato hier bereik en hulle kon soveel meer in Amerika gaan leer.

“Om ’n vervaardiger en aktrise te wees is nou maar eenmaal nie volhoubaar hier in Suid-Afrika nie. Ek en James probeer albei baie hard om brûe te bou tussen Suid-Afrika en Los Angeles en om Suid-Afrikaners by die filmbedryf van Los Angeles uit te kry en ook om Los Angeles hier in Suid-Afrika te kry.

“Ons het soveel talent in ons land, hier is van die beste crew in die wêreld en ons het wonderlike plekke om films in te maak. Bowenal is hier die mooiste stories. Ons het net die regte kanale nodig om in Hollywood ’n deurbraak te maak,” sê Anel.

Dis wie jy ken

Volgens haar is die werk heeltemal anders in Amerika as hier in Suid-Afrika.

“Hollywood bly nou maar eenmaal die Mekka van films in die wêreld. Voor ons soontoe is het ek en James verwag dit gaan moeilik wees, maar ons het glad nie besef presies hóé moeilik nie. Dit is regtig ’n verskriklike moeilike veld om in te breek.

“Ek het gedink ek sal kan aangaan met my produksiewerk, maar selfs dit was net so moeilik soos om as ’n akteur werk te kry.

“Die sisteem daar is baie geslote, die een se ma werk by hierdie program en die ander een se tannie by ’n ander program. Omdat die meeste mense saam studeer het, het hulle almal iewers vriende en glo my, dit help om die regte mense te ken,” sê Anel.

Volgens haar besef Suid-Afrikaanse akteurs nie hoe gelukkig hulle is om so baie werk te kry hier nie.

Haar man James het baie goeie verteenwoordigers en agente en hy was gelukkig om al ’n paar lekker rolle te kon kry.

“Dit het regtig goed met James begin gaan, maar ja, toe gebeur die pandemie,” sê sy.

Maar soms moet ons maar net lag ook. Ons sal byvoorbeeld ’n hele toneel skiet en dan later agterkom iemand doer agter het sy masker aan vergeet!

Die rol in ‘Inconceivable’.

In Inconceivable speel Anel die rol van die ginekoloog Marieke Meyer – sy is byna soos die morele kompas van die reeks.

“Dis ’n ongelooflike uitdagende karakter om te speel. Aan die einde van elke episode word kykers met allerhande morele vrae gekonfronteer.”

Sy vertel opgewonde dat die teks regdeur die reeks aangrypend is en sy het die geleentheid geniet om met ’n klomp nuwe mense saam te werk. As alles volgens plan verloop, sal hulle eerskomende Sondag klaar geskiet wees aan die reeks wat September op M-Net uitgesaai word.

“Die Covid-19-pandemie het elke uitdaging denkbaar na die vervaardigers gegooi. Dit voel letterlik of elkeen van ons in ’n oorlog was. Om ’n reeks soos dié in normale omstandighede te skiet is klaar moeilik genoeg, maar om dit onder Covid-omstandighede te skiet was ’n verskriklike groot uitdaging en die onmoontlike is vermag,” sê sy.

Sy was al veronderstel om 25 Mei terug te keer huis toe, maar die pandemie het haar planne lelik omvergewerp.

“Ek mis my huis en my honde, maar wat kan mens nou maak?”

Wees bedagsaam, maar nie bang

Op die vraag of sy bang is om siek te word met Covid-19, antwoord sy ’n besliste “Glad nie!”

“Ek besef ook ek is in ’n unieke situasie dat ek nie kinders het nie en ek bly nie saam met ’n bejaarde ouer of iemand wat ’n hoë risiko is nie. Ek werk 12 tot 14 uur ’n dag in baie streng gereguleerde omstandighede waar ons hande die hele tyd ontsmet word en almal dra maskers, so ek lewe tans baie geïsoleer.”

Volgens haar is dit interessant om te sien hoe elkeen van die 60 tot 80 mense saam met wie sy werk, anders voel oor die virus. Daar is baie uiteenlopende menings en emosies.

“Maar soms moet ons maar net lag ook. Ons sal byvoorbeeld ’n hele toneel skiet en dan later agterkom iemand doer agter het sy masker aan vergeet!”

Sy vertel in Hollywood werk die meeste akteurs nog glad nie en juis daarom voel sy baie bevoorreg om elke dag te kan werk.

“Ek haal my hoed af vir die vervaardigers van Inconceivable en ook vir M-Net. Hierdie hele storie het my net weer laat besef dat ons Suid-Afrikaners planmakers is wat dinge kan laat gebeur.

“As hulle die verfilming van die reeks gestop het, het 80 van ons nou sonder werk gesit.”

Meer oor:  M-Net  |  Anel Alexander  |  Inconceivable  |  Dramareeks  |  Aktrise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.