Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Almal soek nou Afrikaanse kêrel danksy webreeks

Suid-Afrikaners se harte klop omtrent tjoklits vir ’n nuwe webreeks wat die skreeusnaakse taalversperring tussen ’n Afrikaanssprekende man en sy Engelssprekende meisie bekyk.

Die eerste drie episodes van Living with Afrikaans is sedert 19 Oktober reeds meer as 850 000 keer op YouTube gekyk en het meer as 2 750 kommentare van aanhangers gelok.

Die reeks is geskep deur Lasizwe Dambuza, waarskynlik Suid-Afrika se grootste YouTube-ster, wat die rol van die gefrustreerde Nomatriquency vertolk. Haar kêrel, die naïewe dog liefdevolle Dirkie (Divan Laing), praat net Afrikaans – ’n taal wat sy op skool “met vlieënde vaandels gedop het”, sê sy.

In die eerste episode vra Nomatriquency vir Dirkie om meer Engels te praat, wat hy self nie magtig is nie, maar wanneer sy in die tweede episode Afrikaans in ’n werkonderhoud moet inspan, vra sy hom om haar te leer. Hul liefdesbootjie begin egter in die derde episode wankel wanneer Dirkie en sy niggie (Augusta Zietsman) kuier en Nomatriquency weens ’n misverstand dink hy het ’n affair met haar.

Laing, wat ook die rol van Harry in 7de Laan vertolk, sê hy is “absoluut in ekstase” oor die yslike reaksie op die webreeks, ook oor duisende aanhangers wat op YouTube skryf dat hulle nou ook ’n aantreklike Afrikaanse kêrel soos Dirkie soek.

“Van die kommentaar laat my so ’n bietjie bloos, soos byvoorbeeld iemand wat gesê het ek is nou die boyfriend of the people,” sê hy laggend.

Laing is aanvanklik op Instagram gekontak om die rol van Dirkie in Dambuza se webreeks te vertolk. Dambuza, wat meer as 221 000 volgelinge op YouTube het en wie se videos sedert Januarie 2017 meer as 22 miljoen keer gekyk is, is skreeusnaaks op stel, sê Laing.

“Lasizwe is ’n karakter en ’n half! Die hele reeks word geïmproviseer, so alles wat in die reeks gebeur het ons saam op die plek opgemaak.”

Volgens Laing sal daar nege episodes in die webreeks wees. “Dit het wel ’n oop einde, so ons sal maar moet wag en sien of daar dalk ’n tweede seisoen is.”

Die reeks het wyd en syd lof van kykers op YouTube gekry.

“Dít is wat Nelson Mandela vir Suid-Afrikaners wou hê,” skryf Neal Bantham.

“Ag, hy is so oulik met sy Afrikaans,” meen Tina Barclays. “Hy maak selfs vir haar ontbyt en sê heeltyd ‘ek is lief vir jou’. Liewe Kersvader . . .”

Christopher Green skryf: “Hy is tog so oulik met haar. As alle mans maar net soos Dirkie kon wees.”

’n YouTube-gebruiker bekend as kid_urban_kid_urban sê: “Suid-Afrika het dít nodig. Hulle moet ’n komediereeks hiervan vir TV maak – klaar gepraat.”

Meer oor:  Lasizwe Dambuza  |  Tv  |  Divan Laing  |  Webreeks  |  Augusta Zietsman  |  Living With Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.