Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Altyd op soek na meer inligting

Dis 09:00 in die oggend wanneer die nuusjoernalis en eNuus-veldaanbieder Mia Spies (30) instap by die nuukantoor in Johannesburg waar sy en die kameravrou, saam met wie sy werk, eers ontmoet voordat hulle saam uitgaan om die dag se nuus te gaan in­samel.

Soms ry hulle kilometers agter stories aan en dikwels sit sy sommer in die motor en skryf aan die einste storie wat vanaand op kykNET se nuusprogram eNuus verskyn.

Net nog ’n gewone dag in Mia Spies, eNuus-verslaggewer, se lewe.

“Mense dink ons het ’n vreeslike glansryke werk, maar eintlik is daar niks glansend daaraan nie. Ons ry ver, ons eet meestal garage-pasteie, ek sit sommer self my gri­mering in die kar aan en wanneer ek terug is by die kantoor, is ek self verantwoordelik daarvoor om die storie aanmekaar te sit in minder as twee en ’n half minute. Mense sien altyd net die boonste deel van my lyf, maar onderaan dra ek gewoonlik ’n paar Timberland-stewels omdat ons dikwels deur stof en modder moet hardloop of ver ente moet loop.

“Maar ek is mal oor my werk! Ek werk al tien jaar in die mediabedryf en daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie van my werk hou nie,” sê sy.

Ons ontmoet een koue weeksoggend by die Whippet-koffiewinkel in Linden, waar Mia aan ’n yskoue smoothie teug.

Mia is gebore en getoë in Pretoria en hoewel sy ’n kort Kaapse draai gaan maak het, verkies sy die lewe in die Goudstad. Sy is opgewek en vrolik en haar energie is aansteeklik. Sy lag graag en vertel met oorgawe van haar werk.

“My lewe lank was daar ’n paar goed waarvan ek baie gehou het. Praat, luister en skryf en joernalistiek behels ál daardie goed,” sê sy.

Sy het eers joernalistiek aan Tukkies gestudeer en daarna is sy Stellenbosch toe, waar sy haar honneursgraad voltooi het. Haar heel eerste formele werk was juis by Beeld.

Daarna het sy by die Eyewitness News-span in Kaapstad aangesluit en sy vertel dit was ’n behoorlike vuurdoop. Sy moes in Engels hardenuus­stories doen en omdat radio so ’n vinnige pas het, moes sy al om die uur nóg ’n storie klaar hê.

“ ’n Mens is behoorlik in die diep kant ingegooi, maar jy leer vinnig hoe om te swem,” sê sy.

Van sy nege jaar oud is, hou sy al ’n dagboek waarin sy saans skryf, en sê dit is haar manier waarop sy trauma en die slegte goed wat sy soms met haar werk beleef, verwerk.

Daarna wou sy graag weer in Afrikaans werk en is sy na kyk-NET Verslag toe, waar sy baie oor die politiek verslag gedoen het.

“Ek het baie tyd in die parlement deurgebring, maar dit was ook ’n wonderlike ondervinding, want daar leer ken jy al die komitees en parlements­lede en hoe alles inmekaarsteek. Dit gee mens ’n lekker dieptekykie in die politiek in,” sê sy.

Van daar af is Mia na eNuus, waar sy steeds werk.

“Ek hou baie daarvan om groot stories te volg en dit dan van die begin tot die einde te dek. Ek het klein Poppie, die dogtertjie wat so mishandel en toe vermoor is, se storie van die eerste dag af gevolg en dit was ’n baie lekker afsluiting toe haar ouers gevonnis is.

“Vanjaar het ek die storie oor die brug wat ineengestort het by die skool in die Vaaldriehoek gedek en dit het my diep geraak. Wanneer kinders en diere betrokke is, is ’n storie altyd baie erger,” sê sy.

Van sy nege jaar oud is, hou sy al ’n dagboek waarin sy saans skryf, en sê dit is haar manier waarop sy trauma en die slegte goed wat sy soms met haar werk beleef, verwerk.

“Ek is mal oor detail en wil altyd nog meer inligting hê wanneer my vriendinne my iets vertel. Elke mens het ’n interessante storie – van die Uber­-bestuur­der wat langs jou sit tot die politikus.

“Om ’n nuusjoernalis te wees is harde werk, maar dis baie lonend. Vir baie mense is eNuus die enigste manier hoe hulle daagliks te hore kom van die nuusgebeure in die wêreld en dit is ’n groot verantwoordelikheid om dit so goed as moontlik weer te gee.

“Ons as joernaliste is die buffer tussen die gehoor en ’n toneel. Ons kry baie grafiese besonderhede en dan moet jy dit verwerk sodat dit makliker verteerbaar is vir die kykers, terwyl jy steeds die volle waarheid op ’n verantwoordelike manier deurgee.”

Sy vertel sy maak die keuse om elke dag op te staan en positief te wees.

“Ek probeer ook elke week die week afsluit met ’n lekker ligte storie wat hoop bring. Ons het onlangs so ’n lekker storie gedoen oor ’n swart vroueboer wat op 60 ’n suksesvolle sitrusplaas begin bedryf het. En die kind uit ’n kinderhuis in Krugers­dorp wat geweldig gesukkel het op skool, maar toe karate begin doen het en nou ’n kampioen is.”

Sy het vanjaar haar eerste 21 km gehardloop gedurende die Twee Oseane-marathon in die Kaap en sodoende saam met haar sussie geld help insamel ten bate van die Dierebeskermingsvereniging.

Grootste uitdagings?

Haar grootste uitdaging by die werk is om te probeer om mense nie negatief te maak met die nuus van wat in die land aangaan nie. Volgens haar moet joer­naliste dikwels maar hul eie integriteit en riglyne volg, en wanneer sy verslag doen, besluit sy doelbewus om nie sensasie te soek nie en eerder te probeer om die balans te hou.

“Die grootste voordele van my werk is dat ons die land vol reis en die wonderlikste mense ontmoet. Ek is mal oor reis en oor mense, en die mense wat nuus kyk, herken jou, so jy word dikwels genooi vir ’n koppie tee of iets te ete by iemand se huis.

“Ons het goeie mense hier in ons land. En wanneer jy hulle van aangesig tot aangesig sien, besef jy Suid-Afrika is regtig ’n mooi land.”

Sy herlaai haar batterye deur te reis.

“Ons gaan juis nou in die Kalahari kamp, in hierdie koue,” vertel sy en lag. “Ons gaan vries, maar dit gaan ’n groot avontuur wees. Ek hoop nie hierdie gaan my doodsberig wees nie,” skerts sy.

Sy is mal daaroor om oorsee te reis en was onlangs in Turkye, haar guns­telingland sover.

“Die Turke is die vriendelikste mense en die kos daar is uitstaande. Ek is ’n groot eter en mal oor lekker kos.”

Sy het vanjaar haar eerste 21 km gehardloop gedurende die Twee Oseane-marathon in die Kaap en sodoende saam met haar sussie geld help insamel ten bate van die Dierebeskermingsvereniging.

Een keer ’n week bederf sy haarself met ’n fliek, want ja, ’n mens moet ontvlugting vind.

Oor die program

eNuus bring jou onafhanklike en geloofwaardige nuusdekking in Afrikaans van gebeure plaaslik en internasionaal. Hulle lig in, laat jou dink, inspireer en vermaak. Volg eNuus op Facebook en Twitter om op die hoogte te bly van wat in die wêreld gebeur en hoe dit jou raak. Dit word daagliks om 19:00 uitgesaai.

Meer oor:  Mia Spies  |  Enuus  |  Veldaanbieder  |  Profiel  |  Joernalis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.