Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Aussies kook ’n storm los
Masterchef Australia aanbieders; George Calombaris, Gary Mehigan en Matt Preston.

Wat sou die rede wees vir Masterchef Australia se groot welslae en Masterchef South Africa se mislukking? Dis tog sekerlik nie ’n gebrek aan talent onder plaaslike kokke nie.

Maar noudat ons weer vasgevang is in die greep van die Australiese program (M-Net, kanaal 101 op DStv) is dit die soort vrae wat my werklik hinder.

Die Suid-Afrikaanse weergawe van die program het drie seisoene beleef, asook ’n sogenaamde Celebrity Masterchef-seisoen. In Maart vanjaar het M-Net bevestig dat die program nekom gedraai is.

Die duur opnamekombuis in Nederburg se veilingsaal is uitmekaargehaal en die toerusting op ’n veiling verkoop.

Nie een van die plaaslike wenners het werklik ná hul triomf huishoudelike name geword nie – in teenstelling met die Australiese wenners. Boonop sorg die vervaardigers dat vorige deelnemers betrek word by die reeks se verskeie newe-reekse.

Dit is met die agtste seisoen opmerklik hoe die vervaardigers gesorg het dat die aanslag elke jaar vernuwe. Ek het gaan kyk na ’n opname uit die sesde reeks wat ek nog gehou het (vir ’n resep en metode, natuurlik!). Geweldig baie dinkwerk word ingesit om die reeks beter en beter te maak.

Ek het ook ’n vermoede dat die sifting vir goeie kokke wat tegelyk kameravriendelik en vindingryk agter die stoof is, baie strenger en deegliker is as ’n paar jaar gelede. Twee jaar gelede se wenner, Brent Owens, sou gesukkel het teen die toptienkokke in vanjaar se reeks.

Dit is dan ook geen wonder nie dat die drie beoordelaars, George Calombaris, Gary Mehigan en Matt Preston, verskeie kere in die agtste seisoen verklaar dat van die geregte van sulke hoë standaard is dat dit kan meeding met die werk van die wêreld se grootste sjefs.

Een van die maniere waarop die vervaardigers dubbel seker maak dat die TV-gehoor groei en groei, is deur sommige van die wêreld se beroemdste sjefs te betrek. Vanjaar het ons reeds vir Marco Pierre White, Nigella Lawson, Jason Atherton, Maggie Beer, Kylie Kwong, Luke Nguyen, Curtis Stone en Flynn McGarry in aksie gesien.

Vandeesweek is Heston Blumenthal, eienaar en sjef van die legendariese Fat Duck-restaurant in Engeland, besig om met hul gal te werk. Blumenthal het baie verbeeldingryke en ongewone idees oor hoe kos moet lyk en smaak.

Die laaste tien mededingers het met oorgawe gereageer op die uitdaging wat hy aan hulle gestel het. Een van hul skeppings was ’n nagereg wat ’n mens eers uit die lug op jou bord moes laat val voordat dit geëet kon word!

Daar is nog drie weke oor tot die eindronde. Blumenthal keer dan terug om die finale hekkie vir die twee topsjefs voor te berei en seker te maak een van die twee struikel.

Die enigste nadeel van hierdie uitsending op M-Net is dat baie tyd verloop het sedert die agtste seisoen in Australië uitgesaai is. Mens kan op die internet gaan kyk wie toe uiteindelik gewen het. (Die eindronde is op 26 Julie in Australië uitgesaai.) Iets wat ook genoem moet word, is dat die opnames wat soms buite die Masterchef-ateljee in Melbourne gemaak word, daartoe bydra dat die reeks ’n eersteklas-vertoonvenster is van alles wat goed en gaaf in Australië is.

Dit bring my terug na my kwelling heel aan die begin.

Hoe op aarde het dinge só vir Masterchef South Africa skeefgeloop dat M-Net dit gekanselleer het?

Meer oor:  Kerneels Breytenbach  |  Kos  |  Masterchef  |  Tv  |  Aussies  |  Kook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.