Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Bandelose tienerpret inspireer nuwe gruwelprent
Nicole Fortuin in ‘Rage’.

Die jaarlikse matriekpartytjie op Plettenbergbaai, die Plet Rage, was die teelaarde vir Showmax se heel eerste gruwelprent, Rage.

Die skrywer Tertius Kapp en die regisseur Jaco Bouwer (Die spreeus) het weer kragte saamgespan vir Rage.

“Die partytjie is natuurlik ’n jaarlikse viering van jeug, plesier, vryheid en alles wat daarmee saamgaan. Die gedagte was om dit te verbind met antieke seremonies en rituele. Vrugbaarheidsvieringe, seisoenale offerandes, daai soort ding.

“En ek was ook nog altyd baie geïnteresseerd in wat geword het van die hippie-tipe alternatiewe figuur in Suid-Afrika, wat verdwyn uit die samelewing in plekke soos die Tuinroete, of aan die Natalse kus,” vertel Kapp.

Bouwer glo as ’n mens oor ’n paar jaar terugkyk na die Rage-fenomeen sal dit dieselfde kulturele waarde hê as ouer rituele.

Tristan de Beer in ’n toneel uit ‘Rage’.

“In hierdie enorme hede-sonder-die-verlede-of-toekoms-partytjies drink die jeug soos visse en paar soos konyne, en eksperimenteer met dwelms met ’n vloeiendheid van geslag en seks. ’n Bacchus-agtige allegorie om die lewe te geniet asof môre nie bestaan nie en die dodelike dryfkrag van seksuele plesier.” Die rituele oor maagdelikheid, vrugbaarheid, bedwelming en dies meer verwys na, opgesom in ’n woord, rage. Die gruwelprent is ’n opwindende genre en bied baie ruimte vir eksperimentering, sê Bouwer.

“ ’n Mens kan meer waag as met ander genres; ek kon met die kamera, klank en speelstyl eksperimenteer. ’n Mens moet al jou navorsing oor die genre opsy skuif, en dan jou eie intuïsie volg. Ek hou van die ‘slow burn’-gruwels, waar jy die antagonis, die monster, omtrent nooit sien nie, want hier word die ‘karakter’ geskep in die verbeelding van die kyker self. Waar daar geen verbeelding is nie, is daar geen ‘horror’ nie.” Bouwer meen prente soos The Witch, It Comes at Night en Midsommar slaag baie goed hierin om met die verbeelding te speel.

“Daar is hier en daar subtiele sosiopolitieke kommentaar ingewerk, en daar word ’n bietjie gespeel met die konvensies van die genre, maar sonder om die gehoor se verwagtinge teleur te stel.”

Die Bouwer-Kapp-vennootskap duur al geruime tyd; hulle het al ’n vlugskrif ontwikkel om met mekaar te kommunikeer. “Ek dink hoe langer ons saamwerk, hoe meer begin ons mekaar uitdaag. My sterkpunte lê in die visuele benadering terwyl Tertius meer struktuur- en narratief-gedrewe is,” vertel Bouwer.

“Ons stem saam en verskil op die regte plekke. Dit beteken ’n mens kan op uiteenlopende maniere die uitdagings wat storie en produksie bring, oplos. Dit werk net omdat ons dieselfde eindbestemming het: Dit gaan altyd net oor die beste moontlike werk lewer,” meen Kapp.

Bouwer en Kapp was voor die Covid-19-inperking besig om ’n ekologiese gruwelprent te verfilm en moes in die middel stop.

Jaco BouwerFoto: Brendan Croft

“Dit het seker met die zeitgeist te doen, maar terwyl ons geskiet het, het sekere temas in die rolprent net meer en meer aktueel en ’n werklikheid begin word hoe dieper ons in die Covid-19-pandemie ingegaan het. Dit is fassinerend hoe die fiksionele wêreld van rolprente nou ’n werklikheid geword het.”

Die rolverdeling vir Rage moes vinnig byeenkom onder geweldige tydsdruk. “Ons het voorheen met Carel Nel, Lida Botha, David Viviers en Nicole Fortuin gewerk – ons het geweet hulle sou uitstekende werk doen,” sê Kapp.

“Daar was ook baie lekker verrassings: Shalima Mkongi, Tristan de Beer en Sihle Mnqwazana. Om hierdie karakters te ontwerp was baie lekker, en ek moes tot ’n mate ook redigeer aan die teks rondom ons casting-opsies, wat eintlik goed gewerk het,” sê Kapp. Bouwer wou die regte ensemble hê, “daar moes die regte dinamika onder die jong klomp wees”.

Tertius Kapp

Kapp gebruik die tyd van inperking om sy “gereedskap sterker te maak. Ek lees, doen navorsing en neem waar hoe die hele stelsel uitmekaargehaal word, en sekerlik weer inmekaargesit gaan word. Ek sal hopelik oor ’n week of wat weer by skryf uitkom.”

Bouwer herstel van ’n siekte en het nog nie sy kreatiwiteit laat geld onder die stilte van inperking nie. “In tye van krisis is daar die potensiaal vir groot verandering. Die pandemie forseer ons om introspeksie te doen oor ons omgang met die wêreld asook met die werk wat ons maak. As ons verby die vrees kan sien, lê daar die moontlikheid van ’n nuwe manier van wees in die wêreld, wat potensieel baie opwindend kan wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.