Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Beer laat dinge gebeur

Beer Adriaanse, wat tans in die fliek Wonderlus en later vanjaar in die kykNET-reeks Fynskrif te sien is en nou skiet aan die derde reeks van die gewilde kykNET-komediereeks Hotel, skryf nou aan sy eerste gruwelfliek en sien uit daarna om meer regie te doen.

Beer Adriaanse Foto: Edrea Du Toit

Kleintyd was die draaiboekskrywer en akteur Beer Adriaanse glo skaam, maar kyk jy vandag na sy CV, is dit moeilik om te glo.

In sy rustige, diep stem, vertel hy van al sy projekte.

Wonderlus was ’n ongelooflike ervaring. Johan Cronjé, die skrywer en regisseur, het ons gehelp om by die regte emosies uit te kom. Al die akteurs was deel van die proses. Dit was nie ’n paint by numbers-benadering nie, eerder ’n spanpoging,” vertel hy.

Hy het die rol van Lukas vertolk. “Dit was ’n uitdagende rol. Ek bewonder hom, omdat hy deur sosiale norme sny en ongemaklike eerlikhede uitwys. ’n Bietjie van ’n hofnar, wat agter sy maskers wegkruip, maar ook sy hartseer versteek.”

Hy sê: “Dit was ongelooflik lekker om in dié fliek met van my beste vriende toneel te speel. Ons het probeer om iets nuuts op die tafel te sit. Anders as in die weermagfliek Kanaries (hopelik vanjaar op die kykNET-Silwerskermfees) met Christiaan Olwagen in die regisseurstoel, waar my karakter ver van my persoonlikheid verwyder was, kon ek met Lukas weer ’n bietjie in myself ronddelf.”

Hy glo drama en komedie is fyn verweef.

Hotel, geskep deur Bennie Fourie en Stiaan Smith, is een van die lekkerste televisieprojekte waaraan ek nóg gewerk het.”

Hulle skiet nou die derde reeks.

“Dit is heerlik om aweregse humor te pleeg.”

Hy speel die idioot “wat dink hy is cooler as wat hy eintlik is”.

“In die tweede reeks het ons al ’n bietjie brieke afgehaal. Ek is mál oor drama, maar daar is altyd drama in komedie en andersom.’’

Hy help ook hieraan skryf.

Kyk hier na hoogtepunte uit Hotel se vorige seisoen:

Sy laaste “law show” wat hy op televisie gekyk het, was Ally McBeal. Nou is hy opgewonde oor Fynskrif, wat later vanjaar op kykNET begin.

“Louis Pretorius en Albert Snyman, wat dit geskep het, is twee van my vriende.’’

Hulle is veral bekend vir die kykNET-televisiereeks Die Boland Moorde en Die Boekklub.

“Hulle is ’n bietjie ouer as ek, maar toe ek nog op Stellenbosch gewoon het, het ons een keer per week oor ’n koppie koffie gepraat oor hoe moeilik dit is om te skryf. Ek respekteer hulle.”

Hy het ’n BA en Phil in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) en daarna ’n M Phil in film en media aan die Universiteit van Kaapstad behaal.

Adriaanse sê kykers kan met Fynskrif interessante siviele regsake verwag. Hy vertolk die karakter van Corné Hanekom.

“Hy is iets tussen ’n pit bull en ’n puppy. Soms brutaal en soms baie onseker.’’

Die room van die Suid-Afrikaanse akteurs speel daarin: Tinarie van Wyk Loots, Kim Cloete, Neels van Jaarsveld, Chris van Niekerk, Edwin van der Walt, Cintaine Schutte, en Charlton George.

“Ek kan nie glo ek speel saam met hulle nie. Dis bef*k.”

Naas toneelspeel, wil hy meer regie doen. Hy skryf tans aan ’n gruwelfliek waarin hy plaaslike akteurs geleentheid wil gee om te speel. Dalk speel hy ’n klein rolletjie. Gruwelflieks soos Friday the 13th, die springmielie- en blood and guts-tipe, was sy ontsnapping op hoërskool.

Maar deesdae dink hy daar is uitstekende rillers wat maatskaplike kommentaar lewer, sonder om te preek. Hy sonder onder meer It, oor die angswekkende nar wat die boeliekultuur aanpak, en Get Out, wat rassisme takel, uit.

Adriaanse word geïnspireer deur mede-kreatiewes.

“Baie van my vriende hustle moerse hard en hou 17 potte tegelykertyd aan die kook. Ek voel soms amper lui! Daar is so baie mense wat uitstaan . . .”

Hy vind dit baie interessant om ’n karakterakteur te wees. “Ek is oukei daarmee dat ek nie die leading man is nie. As kind het ek nie akteurs soos die ontslape Philip Seymour Hoffman en William H. Macy geken nie, want hulle was nie supersterre nie. Vandag besef ek dié method actors betree met elke rol ’n ander dimensie.”

Dít is ook Beer se begeerte.

Meer oor:  Kyknet  |  Televisie  |  Wonderlus  |  Hotel  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.