Nisboere is terug vir ’n nuwe seisoen op VIA (DStv-kanaal 147) – en dié keer kuier bekendes saam in elke episode van dié inspirerende landbouprogram.
En maak maar gereed vir groot name wat kom kyk wat Suid-Afrika se voorste nisboere vermag. Van die Springbok-rugbyspeler Victor Matfield en die aktrise Angelique Gerber tot sangers soos Bok van Blerk en Gerhard Steyn gaan by dié nisboere kers opsteek – en die kollig laat val op boerderye, nisgewasse en -produkte.

Victor Matfield
In episode 1 van seisoen 6 kuier Gerhard Steyn, ‘n bekende gesig op VIA, saam met die Nisboere-aanbieder Phillip Venter op die kiwi-plaas Blueberry Heights op Magoebaskloof in Limpopo. Hier boer Jonathan Trusler met organiese Gold-kiwi-vrugte. Hy is die enigste gesertifiseerde organiese Gold-kiwi-produsent in Suid-Afrika. Jonathan was eers in die IT-bedryf, maar het later begin boer.
Gerhard het geen bekendstelling nodig nie. Sy treffer "Baby Tjoklits" het hom in 2008 ‘n vertroude naam gemaak. Deesdae boer sy liedjie "Groter as Goliat" op die treffersparade en dié sanger is saam met Alvin Bruinders en Melinda Bam te sien in ’n nuwe VIA-dieetprogram, Skud dit af.
Maar het jy geweet Gerhard is op ’n plaas gebore?
“Ek het op ‘n plaas in die Putfontein-Vlakfontein-omgewing naby Benoni grootgeword en kon trekker bestuur lank voordat ek kon fietsry,” vertel hy. Om besoek af te lê op dié kiwi-plaas, was daarom vir hom ‘n spesiale ervaring – maar ook leersaam!

Gerhard Steyn
“Ek het nie geweet kiwi-boerdery is so ’n tydsame proses nie,” vertel Gerhard. “Dit kan tot vyf jaar neem vandat jy jou kiwi’s geplant het totdat jy jou eerste vrugte kan oes. Jonathan se geduld het ‘n groot induk op my gelaat. En dat hy die moeiliker roete volg – organiese vrugteverbouing – vat baie guts!”
Skakel in!
Nisboere begin Woensdag 7 April om 19:30, met herhalings op Sondae om 18:00 en Donderdae om 22:00 vanaf 15 April. Dié program word aangbied in vennootskap met Laeveld Agrochem.