Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Belinda’ beloof om besonderse reeks te wees
Die hoofrolle in Lui maar op, Belinda word vertolk deur van links, Duncan Johnson (Ian), Carmen Maarman (Maggie), Wian Taljaard (Dirkie), Brümilda van Rensburg (Belinda), Annelisa Weiland (Annetjie) en Eric Nobbs (Frans). Foto: Verskaf

As daar ’n volledige biblioteek was van elke Afrikaanse TV-program wat nog ooit gemaak was, sou die rakke met komedies gekreun het. Hoeveel van hulle ons oor die dekades heen werklik aan die lag gekry het, bly egter ’n ope vraag.

My mening: Daar’s nie veel komedie in Afrikaanse komedies nie. Die genre is gereduseer tot poepgrappe en flou jokes. ’n Verspotte resep waaroor ons al baie gekla het, maar wat oor en oor voorberei en weer net so vir ons gevoer word. ’n Groot grap wat meer pyn as plesier is.

Kort voor ’n onlangse mediavoorskou van die eerste en derde episodes van die nuwe kykNET-komedie Lui maar op, Belinda, kon ek weens al die bogenoemde nie help om myself byna outomaties teen nog ’n potensiële ramp te staal nie.

Maar my denkbeeldige pantser was dié keer wonderbaarlik onnodig – geheel en al – en ek is daaraan herinner dat daar in ’n moeras van middelmatigheid soms tog ook ’n diamant versteek lê.

Die reeks speel af in Ian en Ander, ’n klein algemene handelaar op George in die Suid-Kaap. Belinda Swanepoel (Brümilda van Rensburg) werk as kassier in die winkel, en verlang terug na die dae toe sy Suid-Afrika se grootste rolprentster was. Die winkel se bakker, Annetjie (Annelisa Weiland), kan net haar kop vir Belinda skud.

Wanneer Annetjie nie bak of vir Belinda vasvat nie, verdeel sy haar aandag tussen Frans (Eric Nobbs), nog ’n kollega, en haar baas, Ian (Duncan Johnson), wat sy probeer ompraat om die jong Dirkie (Wian Taljaard) in die winkel aan te stel. Wanneer Ian hom die groen lig gee sonder sy vrou, Maggie (Carmen Maarman), se goedkeuring, begin die poppe dans.

Die spanwerk tussen hulle (die akteurs) kan ’n mens nie opmaak of koop of genoeg oorvertel nie.

As die res van die reeks voortbou op die twee episodes wat ek gesien het, kan ek onomwonde sê dat dit slim is sonder om hoogdrawend te wees; stout is sonder om ’n skurwe draai te neem, en – die allerbelangrikste – boonop snaaks is.

Dit is ook hartseer, wat draaiboekskrywers in Afrikaanse komedie gereeld oorsien. Belinda se verlange na ’n lewe wat was en Frans se onwil om aan te beweeg (ek los dit vir eers net daar) is menslik en hartverskeurend. Volpunte vir die skryfspan onder leiding van Chris Vorster.

Dit is ook belangrik om die akteurs hier uit te sonder. Die spanwerk tussen hulle kan ’n mens nie opmaak of koop of genoeg oorvertel nie. Saam vorm die sesstuks binne ’n werkverband ’n familie – oupa, ouma, pa, ma, kinders – wat mekaar ondersteun en liefhet. Jy mag dit dalk nie dadelik oplet nie, want hul liefde vir mekaar is toegedraai in ’n lag, ook ’n traan, bitsigheid en die soms oordramatiese, soos dit maar in die meeste families gaan.

Ek voorspel dat die reeks besonders gaan wees – en ek kan net vra vir nog ’n episode en nog een en nog een, asseblief.

< Lui maar op, Belinda begin op 8 Julie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Meer oor:  Kyknet  |  Komedie  |  Tv  |  Lui Maar Op Belinda  |  Annelisa Weiland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.