Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Binnelanders maak draai in Kongo’

Van Woensdag bevat die kykNET-sepie Binnelanders tonele in die buitelug wat boonop in die Kongo afspeel.

Ilne Nienaber as dr. Elana Bester in Binnelanders.

Twee dokters van die Binneland-kliniek in Pretoria, Elana Bester (Ilne Nienaber) en Steve Abrahams (Clint Brink), gaan hulp verleen aan ’n veldhospitaal in die middel van nêrens en mediese krisisse is nie al wat hulle moet trotseer nie.

Vegtende faksies, ’n geslote kabinet, twee onbekende dokters, en ’n rowwe landskap is waarmee dié twee dokters gaan kennis maak sodra hulle in die Kongo land.

Elana en Steve gaan blitsvinnig gewoond moet raak aan hul nuwe omstandighede indien hulle van enige nut gaan wees vir dié veldhospitaal en sy pasiënte – en indien hulle dit wil oorleef gaan hulle hare op hul tande moet hê.

Niks is soos wat dit lyk in die Kongo nie, en oplaas is daar nie veel ontvlugting vir die twee dokters nie.

Op eie bodem het die karakters in Pretoria ook hul probleme, hetsy professioneel of persoonlik, maar in die Kongo gaan dit om oorlewing. Dit is dalk net hier waar Steve en Elana gaan besef dat die stadslewe nie so sleg was nie.

Clint Brink as dr. Steve Abrahams

Hulle is egter nie alleen in hierdie ding nie. Daar is reeds twee dokters by die veldhospitaal wat hulle kan bystaan. Charles Feeny (Conrad Kemp) is ’n geharde dokter wat weet wat hy doen in die vreemde, maar hy gaan beslis nie Elana of Steve se hande vashou in die onstuimige politieke landskap nie.

Charles is reeds gewoond aan die daaglikse gevare van die omgewing en hy is ook ’n ou hand wanneer dit kom by die hantering van trauma.

Jax Davids (Kim Syster), aan die anderkant, draai nie doekies om nie. Sy staan nie ’n tree terug vir die rebelle of die moeilike omstandighede waarin hulle probeer om mense se lewe te red nie.

Elana vertrou egter nie vir Jax nie, en ’n mens moet maar net hoop dat hierdie twee vroue mekaar sal vind voor dit te laat is.

Jax en Charles het ook geheime van hul eie wat hulle probeer hanteer (en beskerm) te midde van die hitte en die lewensgevaar waarin hulle verkeer.

Elana en Steve kry al met die intrapslag te doen met van die rebelle.

Odyn (Nyaniso Dzedze) is die soort leier wat wreedheid ken, en dit gebruik om vrees in te boesem, terwyl Mbo (Perebo George) en Richard (Lowembo Takoy) nie ver agter hul gevreesde leier staan wanneer dit kom by intimidasie en rampokkery nie. Hulle het hul eie missie waarop hulle fokus, en die dokters in die middel van hul speelgrond maak dinge meer ingewikkeld.

Die Kongo-storielyn, asook die renosterhoring-storielyn wat onlangs uitgesaai is, is alles op een plaas (naby aan die Hennopsrivier) geskiet. Die plaas se ligging was nie net perfek nie, maar die verskillende soorte plantegroei op die terrein, en die veelsydigheid van die terrein, het dit moontlik gemaak om die plaas te gebruik om die twee verskillende storielyne te verfilm.

* Binnelanders word elke weeksaand om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Meer oor:  Kyknet  |  Clint Brink  |  Binnelanders  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.