Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Binnelanders’ se Louis nooi mense om saam te kom sing
Germandt Geldenhuys. Foto: Vernondo Boshoff Photography

Kykers ken hom as Louis in Binnelanders wat gereeld musikante laat optree in die kroeg wat hy bestuur, maar die akteur Germandt Geldenhuys is nou sélf op die verhoog met ’n informele soiree.

Parlour Songs word op 24 September by die Redhill School in Morningside, Johannesburg, aangebied as deel van die skool se jaarlikse RedFest-kunstefees.

“Die plan is om dieselfde gevoel van ’n huiskonsert te skep,” sê Geldenhuys, “waar mense wat lief is vir allerhande soorte musiek bymekaar kan kom en luister en saamsing as hulle sou wou.

“ ’n ‘Parlour song’ is tradisioneel ’n liedjie wat kenmerkend is van huiskonserte en soirees,” sê Geldenhuys.

“Hier sou musikante en musiekliefhebbers bymekaarkom en mekaar bekoor met liedjies, sommerso in hulle sitkamers – dis nou voor CD-spelers, iPods en dies meer.”

Mense kan uitsien na musiek van Elton John, Freddie Mercury, Bon Jovi en uit The Phantom of the Opera. Daar is ook musiek wat die gehoor dalk nie sal ken nie, sê Geldenhuys. Dít wat hulle wel sal ken, word op ’n heel ander manier vertolk.

Drew en Rowan Bakker is die mense agter Parlour Songs, ’n reeks konserte met plaaslike kunstenaars wat hulle jaarliks aanbied.

Volgens Geldenhuys word die konserte as ’n soiree of kabaret met ’n klein orkes aangebied.

“Die sangers kies dan materiaal wat hulle na aan die hart lê. Gewoonlik sal die kunstenaar staaltjies vertel, wat verduidelik hoekom die spesifieke liedjie gekies is en watter invloed dit op die kunstenaar se lewe gehad het.”

Hy is tans meer as akteur doenig, maar musiek was vroeg in sy lewe. Hy het selfs onlangs ’n klankopname ontdek waar hy as driejarige sing. Sy ouers is ook goeie sangers. Hy sê hy het sy ouers lank nageboots, maar uiteindelik sy eie styl en klank ontwikkel.

Hy het drama en musiekteater aan die Waterfront Theatre School in Kaapstad gestudeer en dié kombinasie van toneelspel en sang is dikwels deel van sy repertorium.

Hy was in musiekspele soos Sweeney Todd en Sneeuwitjie.

Sy eerste optrede in ’n rolprent het ook ’n musiekelement. “Christiaan Olwagen is die regisseur van Kanarie (wat nog nie uitgereik is nie), wat in 1985 afspeel oor die eskapades van agt jong mans in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-kerkkoor en -orkes, of die Kanaries, soos hulle bekend gestaan het.”

Geldenhuys sal straks ’n munt moet opskiet om tussen sang en toneelspeel as sy grootste liefde te kies, maar met albei kan hy wel sy heel grootste passie uitleef.

“Wanneer ek die geleentheid kry om albei saam te kan doen, is dit ’n bonus. Uiteindelik is albei eintlik maar net ‘takke’ van dieselfde uitvoerende kunsteboom. Albei vertel stories, die een met musiek en die ander daarsonder. En dit is waar my groot passie lê – stories vertel.”

* Die vertoning begin om 20:00 en kaartjies kos R70. Bespreek by Webtickets.

* Die adres: Summitweg 20, Morningside, Sandton, Johannesburg. Volgende optredes van dié konsert is nog nie beplan nie, maar is moontlik.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.