Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Boer Damian maak oop: my ma dink soms gay-wees is sonde

Donderdagaand op die werklikheidsreeks Boer soek ’n Vrou op kykNET het Damian sy hart oopgemaak oor sy familie en hoe hulle dit hanteer dat hy gay is.

“My ma gaan elke paar jaar deur so ’n ding waar sy weer eens dink om gay te wees is sonde,” sê Damian.

Boer Damian stel vir Ivan en Andrew aan sy vriende en familie voor.

“Al die res van my familie aanvaar my en is fine daarmee,” sê hy.

“My pa is oorlede ’n jaar gelede, in Februarie. As daar een persoon is wat ek hier sou wou gehad het, is dit my pa,” sê hy en vee die trane af.

“My pa sou net goeie goed gehad het om te sê.”

Donderdagaand het die boere se moontlike pasmaats hul vriende en familie ontmoet. Damian se niggie Danielle het gesê hy is die enigste seun in sy gesin en daar is definitief van sy familielede wat hom nie ondersteun nie.

“Maar ek voel dit help nie om almal tevrede te probeer stel nie,” sê sy.

Andrew, ’n moontlike pasmaat vir boer Damian, het opgemerk dat Damian se vriende baie lief is vir hom en vir hom omgee.

“Hulle wil nie hê hy moet seerkry nie en hulle wil seker maak, ‘wie is jy, en wat doen jy hier’,” sê Andrew. Damian het te kenne gegee dat een van die manne vir hom uitstaan en selfs die ete met vriende en familie het nie sy besluit verander nie.

“Ek dink Damian se vorige partners was heeltemal anders as hierdie twee seuns,” merk ’n vriend, Allan, op. “Maar ek dink nie hy het ooit regtig die regte persoon vir hom ontmoet nie.”

’n Ander vriendin, Judy, meen Andrew en Damian pas beter by mekaar as Damian en Ivan. “Andrew staan vir my meer uit en hy pas beter by hom,” sê sy.

Ilne, Graham en Nikola op die plaas.

Boer Hentie

Van Hentie, wat ook as Carel bekendstaan, se vriende het Hantie as ’n spontane persoon opgesom, terwyl ander haar weer as ’n “natuurkind” bestempel het.

Een van Hentie se vriendinne Ina het grappig opgemerk dat dit gerieflik sal wees as Hester op die plaas sou bly omdat die skool op Clanwilliam binnekort ’n Afrikaansonderwyser sal nodig kry.

Hester het weer opgemerk dat Hantie en Hentie stywer langs mekaar gesit het en het gesê sy kry beslis die indruk dat die twee meer vatterig was.

Boer Willem het ook gesig gewys by Hentie se braai, aangesien die twee op buurplase werk. Ook toe Willem vir Sanel en Carissa aan sy mense voorgestel het, het Hentie saam kom kuier.

Theunis, Marcia en Renette klink ’n glasie.

Boer Willem

Willem se vriend Aubrey het vertel dat Willem sedert die meisies op die plaas aangekom het, breed glimlag.

“Sanel is ’n baie oulike meisietjie. Ek het sommer aan die begin, toe ek haar sien, baie van haar gehou,” vertel Willem se ma, Annetjie.

“Sy het ’n mooi, oop gesig, en sy kyk jou in jou gesig as sy met jou praat.”

Annetjie gaan voort: “Carissa is ook ’n baie vriendelike mensie, en baie spontaan.

’n Vriendin, Monique, het gesê sy dink Sanel pas die beste by Willem. Sy is egter nog nie honderd persent seker oor hom nie.

“Ek sal sê ek hou van Willem, maar ek is beslis nog nie verlief op Willem nie. Ek is nie iemand wat vinnig verlief raak nie,” sê sy. “Ek kyk eers die kat goed uit die boom uit.

“As daar potensiaal is vir die toekoms, sal dit goed wees as daar eers ’n vriendskapsbasis is. Maar in die stadium is ek nog glad nie verlief nie,” verklap Sanel.

Boer Theunis

Theunis se ma, Annette, het tyd gehad om Marcia en Renette beter te leer ken terwyl hulle saam slaai gemaak het.

“In die een opsig is Marcia, ook soos hy, saggeaard. Sy sal hom dalk goed verstaan,” sê Annette. “Renette is bietjie meer lewendig en sy is baie gesellig, wat nou weer vir hom ’n bietjie sal wakkerskud.”

Theunis se pa, Rian, sê: “Ek het nog altyd gesê, as hy met die regte vrou in aanraking kom, is daar baie potensiaal dat hy ’n bietjie kan ontwaak.

Carissa voer vir Willem ’n stukkie piesangbrood.

Van Theunis se vriende het ook opgemerk dat ’n man soms ’n vrou nodig het om hom bietjie uit sy gemaksone te “klap”.

Renette het opgemerk dat Theunis en Marcia “ ’n baie beter konneksie” het as hulle twee. Sy sê sy het dit agtergekom toe hy langs Marica gaan sit het aan tafel en nie tussen hulle twee nie.

Theunis het laat val dat hy terughou omdat hy in die verlede sy kop gestamp het en nou meer “skugter” is.

Boer Graham

Graham het vir Ilne en Nikola voorgestel aan ongeveer 100 vriende en familie.

Mart-Marié, Graham se suster, sê sy sal graag eendag ’n goeie verhouding met haar skoonsuster wil hê, en dit is vir haar baie belangrik dat die persoon by hul gehegte gesin inpas.

Celest, sy ma, sê: “Ek wil regtig vir haar lief wees. Ek wil amper by haar gatkruip. Ek wil só lief wees vir my skoondogter, so dit sal lekker wees as sy inpas.”

Graham se vriende meen Nikola pas die beste by hom. “Sy is bietjie arty. Graham kort iemand wat hom so bietjie op sy plek kan sit,” sê Jan-Hendrik, ’n vriend van Graham.

Baila, ’n niggie van Graham, sê Ilne is glad nie skaam nie en hou van tussen mense wees en gesels. “Dit is ’n goeie ding in ons groot familie. Sy pas goed aan tussen mense.”

In volgende week se episode is dit die laaste dag van kuier op die plaas. Die spanning laai op, want elke boer moet binnekort weer ’n keuse maak tussen die laaste twee. Dit is die pasmaats se laaste kans om die boer se hart te wen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.