Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Boer Damian op ‘Kwêla’: ‘Moeilik om te sien hoe kerk gays aanval’
Boer Damian op die ‘Kwêla’-bank.Foto: Verskaf

In Sondagaand se episode van Kwêla op kykNET maak boer Damian van Boer soek ’n vrou sy hart oop oor sy geloof en sy pad in die werklikheidsprogram tot dusver.

“Dit is partykeer nog vir my moeilik om te sien hoe mense, veral uit die kerk, gay mense aanval,” sê hy in gesprek met Hannes van Wyk, Kwêla-aanbieder.

“Ek hoop om mense te kan help om die twee te versoen, want op die ou einde gaan dit net oor liefde,” sê hy.

“Ek vra niemand se goedkeuring vir my lewe nie, maar om net ’n bietjie meer liefde vir jou naaste te hê, net ’n bietjie meer aanvaarding, sal jou wys dat daar eintlik ’n baie mooi lewe vorentoe kan wees.”

Damian vra mense om ander net ’n plekkie in die son te gun.

“Nie almal is al daar om gay mense te aanvaar nie, en ek dink baie mense loop nog met die persepsie dat gay mense op ’n sekere manier moet lyk,” sê Damian.

“Ek dink noudat hulle agterkom normale ouens is ook gay, was dit ’n bietjie van ’n skok.”

Damian sê hy het baie ondersteunende familie en vriende, maar hulle raak ontsteld wanneer mense negatiewe, afbrekende kommentaar lewer.

“My familie ken my, en hulle weet wie ek is, en vir hulle is dit ook sleg om te sien hoe mense dit hanteer. So ek kan sê ek het baie nader aan my vriende en familie geword omdat hulle die pad saam met my loop.”

Die aanbieder Hannes van Wyk gesels met boer Damian.Foto: Verskaf

Hy het net ingeskryf vir Boer soek ’n vrou om liefde te vind, sê hy.

Damian vertel dat hy ’n baie groot liefde vir musiek het, en Sondae in die kerk speel hy orrel. In een van die eerste episodes van Boer soek ’n vrou speel hy trekklavier en hy en Leah, die program se aanbieder, sing saam.

“My ouers het ’n klavier gekoop, eintlik vir my susters, want ek het oorspronklik tromme gespeel.

“Nou speel ek klavier, orrel, tromme – eintlik enige ding.”

Behalwe musiek, is geloof vir hom baie belangrik, sê hy.

Boer soek ’n vrou word Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.