Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Boer Damian se suster: Só het ons hom aanvaar
Boer Damian en sy ouer suster, Desire Coetzee.Foto: Verskaf

Niemand in hul gesin het geweet hy is gay nie, sê boer Damian van Boer Soek ’n Vrou se ouer suster, Desire Coetzee.

“Maar ek het ’n gevoel gehad dat dit die geval is. Dit was maar moeilik, omdat baie dinge in ons huis taboe was,” sê Coetzee wat in Bela-Bela in Limpopo bly.

Hulle het in Pretoria grootgeword en hul pa, Tommy, was jare lank ’n busbestuurder. Hy was 74 jaar oud toe hy in Februarie 2019 aan kanker dood is.

“Hy was vreeslik lief vir ons en ’n baie saggeaarde mens. Hy het ons nooit pak gegee nie – net baie ernstig gepraat en vir ons lewenslesse geleer,” sê sy.

Coetzee sê nadat Damian op 17-jarige ouderdom vir haar vertel het dat hy gay is, het hulle die nuus aan hul pa oorgedra. Hy het Damian se seksualiteit dadelik aanvaar, sê Coetzee, wat sewe jaar ouer is as Damian.

“Pappie het ons opreg liefgehad. Ons het ’n baie gehegte familieband en ons liefde vir mekaar was altyd onvoorwaardelik,” sê sy.

Tommy en hul ma, Irene, is al baie jare geskei, sê Coetzee. “Vir ma was dit ’n bietjie moeiliker om te aanvaar dat haar seun gay is. Dit was maar ’n aan-en-af situasie.”

Damian het in Donderdagaand se episode van die kykNET-werklikheidsreeksBoer Soek ’n Vrou gesê sy ma gaan so nou en dan deur ’n stadium dat sy dink gay-wees is sonde.

Vir ma was dit ’n bietjie moeiliker om te aanvaar dat haar seun gay is. Dit was maar ’n aan-en-af situasie.

“As daar een mens is wat ek hier sou wou gehad het, is dit my pa,” het hy gesê en sy trane afgevee.

Coetzee sê hulle het Damian se keuse aanvaar en niemand het ultimatums gestel nie.

“Baie mense word onterf deur hul ouers wat hulle nie aanvaar nie. My pa was vir Damian lief tot op sy sterfbed,” sê Coetzee.

“Dít was nou ’n hartseer dag.”

Maar niemand verwyt hul ma vir haar gevoelens oor Damian se seksualiteit nie.

“Ons het liefde in oorvloed vir my ma. Sy is ’n fantastiese, sterk vrou. Ons verstaan ’n ouer se wens vir hul kind om perfek te wees, maar die lewe werk nie altyd so uit nie.”

Ons het liefde in oorvloed vir my ma. Sy is ’n fantastiese, sterk vrou. Ons verstaan ’n ouer se wens vir hul kind om perfek te wees, maar die lewe werk nie altyd so uit nie.

Coetzee sê sy was uiters verbaas toe sy hoor Damian gaan op die program verskyn.

“Boet, wat gaan jy met die vroumense maak?” wou sy by hom weet. Hy het gelag en haar verseker dat hulle nie vir hom vroue sal stuur nie.

Coetzee sê sy en haar broer is baie na aan mekaar en was deurentyd in kontak terwyl die seisoen verfilm is. Toe die eerste episode uitgesaai is, het hulle saam voor die TV gesit en vir mekaar gesê “brace yourself!”

Coetzee sê as ’n klein seuntjie wou Damian altyd ’n boer wees.

“Hy het met plaas-speelgoed soos plastiektrekkers en draadkarre gespeel, en so lank soos ek kan onthou, wou hy ’n plaas hê,” sê Coetzee, die naasoudste van die vier kinders. Damian is die jongste en die enigste seun.

“Hy het al ’n hele paar plase gehad, en dit elke keer verkoop vir ’n beter een. Hy doen regtig uitstekend.”

Sy kon weens gesondheidsprobleme nie by die braai wees waar Damian se vriende en familie sy moontlike pasmaats ontmoet het nie, en sê sy het nog nie die manne wat op die plaas kuier, ontmoet nie.

Sy wou ook niks verklap oor wat in die komende episodes gaan gebeur, en of Damian wel liefde gaan vind nie.

In volgende week se episode is dit die laaste dag van kuier op die plaas. Die spanning laai op, want elke boer moet binnekort weer kies tussen die laaste twee. Dit is die pasmaats se laaste kans om die boer se hart te wen.

  • Kyk ál die vorige reekse van Boer Soek ’n Vrou op Showmax. http://pubads.g.doubleclick.net/gampad/clk?id=5196953734&iu=/8900/24.com/Web/Netwerk24
Meer oor:  Boer Soek 'N Vrou  |  Gay  |  Boer Damian
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.