Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Boer Damian soek net 'n 'doodgewone ou'
Leah, die sangeres en aktrise wat ook die aanbieder van Boer Soek ’n Vrou se twaalfde seisoen is. Foto: Verskaf

Die 12de reeks van die gewilde TV-program Boer Soek ’n Vrou op kykNET het Donderdagaand begin waar die sangeres Leah, wat ook die program aanbied, ’n draai gaan maak by elkeen van die tien deelnemende boere.

Kykers sal die vyf boere wat die meeste briewe kry, oor die res van die seisoen beter leer ken.

Aan die einde van die tweede episode op 24 Oktober vind kykers uit watter vyf boere die meeste briewe gekry het en elkeen tien pasmaats hieruit moet kies om in die daaropvolgende episode op blitsafsprake te ontmoet.

Leah loer in by die Engelse boer Brandon (31) van Stutterheim in die Oos-Kaap, waar sy familie al presies 100 jaar lank boer.

Hy sê daar kan dalk klein verskille wees in hoe Engelse en Afrikaanse mense verhoudings benader, maar hy glo almal soek uiteindelik dieselfde ding.

“Hoe jy daar kom, maak nie regtig saak nie.” Hy sê hy het al in die verlede seergekry en speel soms ’n bietjie veiliger.

Boer Damian (37) van Bapsfontein in Gauteng, wat op soek is na ’n manlike pasmaat, sê hy weet wie hy is en het op ’n jong ouderdom al geleer om homself te aanvaar.

“Ek het maar ’n moeilike pad gestap, maar ek is ’n sterk persoon en het besluit om my geluk eerste te stel bo ander mense se verwagtinge,” sê hy.

“Ek dink nie ek soek iets baie anders as ander mense nie. Ek soek maar net liefde en ’n gelukkige lewe.”

Hy en Leah deel hul liefde vir musiek as hy sy trekklavier uithaal en hulle saam sing. Hy verklap skaam dat hy al vir iemand ’n serenade gespeel het.

“Ek soek maar ’n doodgewone ou wat lekker op die plaas sal inskakel. Ek is na genoeg aan die stad dat sy lewe nog normaal sal voortgaan.”

Boer Hentie (51) van Clanwilliam wys vir Leah hoe rooibos verwerk word. Hy sê hy glo mense kry tweede kanse. Hy wil graag weer ’n maat hê om die lewe mee te deel. “Dit is maar net ’n lekker gevoel. Ek weet niks is gewaarborg nie, maar ek moet ’n kans vat,” sê hy.

Hy sê ook hy wens hy vind geluk, en dat hy nie alleen sal oud word nie. “Ek ken daai vrees om alleen oud te word. Baie mense is bang daarvoor,” sê hy.

Leah ontmoet boer Franco (30) op ’n mistige Moorreesburg in die Wes-Kaap, waar sy hom uitvra oor sy reise na Australië en Brasilië.

Hy verklap dat hy “eintlik ’n baie klein hartjie het” en baie liefde het om te gee. Hy sê hy dink hy sal eendag baie goed na sy vrou kan kyk.

Ook boer Albert (29) van Noupoort in die Noord-Kaap het tyd oorsee deurgebring toe hy vir ses seisoene in Amerika gewerk het. Hy sê hy het vir die program ingeskryf omdat twee van sy vriende al liefde in dié reeks gevind het en nou op trou staan.

“Ek is nie teruggetrokke nie, en ek dink as ’n mens die regte persoon ontmoet, sal jy dit weet. Dan moet jy haar laat weet jy stel belang en moeite doen om jou emosies te wys,” sê hy.

Leah gaan op ’n helikopter-rit saam met boer Albert en sien pragtige wild op die plaas.

Boer Theunis (36), ’n tafeldruiweboer van De Doorns in die Wes-Kaap, vertel hy was ’n ruk lank weg van die plaas, maar het sy onafhanklikheid gevind en besluit om terug te kom.

“Ek beskou die reeks as ’n leerproses,” sê boer Theunis, wat erken dit neem hom ’n rukkie om gemaklik te voel by nuwe mense. “ ’n Mens groei net wanneer jy buite jou gemaksone is,” sê hy.

Eerlikheid is vir hom belangrik, en hy soek iemand wat oor alles kan praat sonder om goed weg te steek.

Wanneer Leah inloer by boer Gerrit (31) van Citrusdal, is hy besig om ’n laerskool-rugbyspannetjie af te rig. Die seuns omhels haar heelhartig en sy gooi saam met hulle bal.

Boer Gerrit maak oop oor sy vorige huwelik wat nie uitgewerk het nie, en sê hy is reg om weer te probeer. “As ek my vriende en familie sien, verlang ek na daai intimiteit met jou beste maat,” sê hy.

Boer Graham (26), dié reeks se jongste boer van Cradock in die Oos-Kaap, sê hy wil ’n reguit mens wees, en soek ook iemand wat lekker kan kommunikeer.

Hy vertel tong in die kies dat sy ma ’n stadsmeisie is, en dat sy die dag toe sy plaas toe getrek het nie die verskil tussen ’n skaap en bok geken het nie.

Boer Rohan (31) van Augrabies in die Noord-Kaap neem vir Leah op ’n uitstappie op die Oranjerivier, en sê hy is ’n sosiale mens wat ’n gebalanseerde verhouding soek.

Hy beskryf sy vorige verhoudings as “goud” en sê dit is jammer dat afstand sy mees onlangse een in die wiele gery het.

Boer Willem (29), ook ’n rooibostee-boer van Clanwilliam, sê hy is reg om die perfekte pasmaat te vind nadat hy al tien jaar op die plaas werk. Hy wys sy hond, Tessa, wat sy “beste vriend op die plaas” is.

Hy sê hy het geleer dat verhoudings geduld en kommunikasie verg. Hy sê hy “kry die gevoel dit is nou tyd” om die regte vrou te ontmoet.

* Boer Soek ’n Vrou word Donderdae om 20:00 op kykNET, kanaal 144 op DStv, uitgesaai.

* Kyk ál die vorige reekse van Boer Soek ’n Vrou op Showmax!

Meer oor:  Boer Soek 'N Vrou  |  Boer Damian
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.