Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Boer en Beer ontmoet ná grappige ‘Boer soek ’n ou’-video

Ongeveer vyf jaar gelede het die akteur Beer Adriaanse in ’n grappige reeks uitsendings op kykNET die rol van ’n gay boer gespeel in ’n parodie van die TV-reeks Boer soek ’n vrou. Min het hy geweet daar sou eendag regtig ’n gay boer op die program wees en hulle sou kon hande skud.

Een van vanjaar se tien hoopvolle boere in die program, Damian Engelbrecht (37) is op soek na ’n man as pasmaat. Hy het Maandag ’n foto op Instagram geplaas van die dag toe hy vir Adriaanse, oftewel boer Giel soos hy in die grapvideo van “Boer soek ’n ou” bekend staan, ontmoet het.

Boer Damian en die akteur Beer Adriaanse, bekend vir sy rolle in Fynskrif en Hotel. Foto: Instagram

“Beer het lank terug ’n komedieskets gedoen genaamd ‘Boer soek ’n ou’,” skryf Engelbrecht in ’n plasing op Instagram.

“En gister sit boer Giel en boer Damian toe en gesels!”

Daar is ook ’n foto van hulle twee saam met ’n skermgreep van Adriaanse se video.

Volgens Adriaanse was die ontmoeting heel toevallig.

“Ek het in Kloofstraat (Kaapstad) af gestap en toe bel een van my vriende en sê ek moet omdraai, want hy wil my aan iemand bekendstel. En toe ek omdraai, sit hy oorkant boer Damian. Ek het hom dadelik herken.”

Hulle het nie eintlik oor sy komedieskets van 2014 gepraat nie, maar meer oor hoe snaaks dinge soms uitwerk.

“Dit het gewys die werklikheid is soms vreemder as fiksie. Ons het ook ’n bietjie gesels oor die eenderse kommentaar wat ons albei ontvang het,” sê Adriaanse.

“Hoewel my video heeltemal ’n grap was en ek nie regtig gay is nie, het ek destyds nogal baie haatpos gekry van mense wat probleme het met ander se identiteit. Damian het al baie sulke boodskappe ontvang en ek dink hy verwag nog meer sodra die reeks begin.”

Engelbrecht, ’n bees-en-skaapboer van Bapsfontein in Gauteng, is een van die tien boere in vanjaar se reeks wat briewe van moontlike pasmaats ontvang het.

Donderdag sal kykers uitvind wie die vyf boere is wat die meeste briewe ontvang het, met talle wat wonder of Engelbrecht onder dié vyf sal wees.

Adriaanse beskryf Engelbrecht as ’n “awesome” persoon.

“Ek en hy sal definitief kan braai en ’n biertjie kan drink, hoewel ek nie weet wanneer ek op Bapsfontein gaan uitkom nie,” sê Adriaanse laggend.

“Ek sal beslis hierdie seisoen volg. Ek sien uit daarna. Dit klink soos ’n mylpaal vir die program.”

Vanjaar se boere is tussen 26 en 51 jaar oud, waarvan vyf van die Wes-Kaap, twee van die Noord-Kaap, twee van die Oos-Kaap en een van Gauteng kom.

In Donderdag se episode ontmoet die aanbieder, Leah, die tien boere om meer uit te vind oor hul boerdery, hul drome en belangrikste van alles – watter eienskappe hulle in ’n metgesel en toekomstige lewensmaat soek.

Die tien boere is:

  • Albert (29), ’n skaap-en-wildboer van Noupoort in die Noord-Kaap
  • Brandon (31), ’n skaap-en-beesboer van Stutterheim in die Oos-Kaap
  • Damian (37), ’n bees-en-skaapboer van Bapsfontein in Gauteng
  • Franco (30) van ’n gemengde boerdery op Moorreesburg in die Wes-Kaap
  • Gerrit (31), ’n sitrusboer van Citrusdal in die Wes-Kaap
  • Graham (26), ’n melk-en-beesboer van Cradock in die Oos-Kaap
  • Hentie (51), ’n rooibosboer van Clanwilliam in die Wes-Kaap
  • Rohan (31), ’n tafeldruifboer van Augrabies in die Noord-Kaap
  • Theunis (36), ’n tafeldruifboer van De Doorns in die Wes-Kaap
  • Willem (29), ’n rooibosboer van Clanwilliam in die Wes-Kaap
* Kyk al die vorige reekse van Boer soek ’n vrou op Showmax hier

Kyk die oorspronklike “Boer soek ’n ou” video hier: 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.