Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Boer Rèan wys sy nuwe liefie, Waltela
Rèan Classen en Waltela Zeinstra Maree.Foto: Foto: Facebook/Rèan Classen

Hy is nie spyt dat hy aan Boer soek ’n vrou deelgeneem het nie, want daarsonder sou hy nie die huidige liefde in sy lewe ontmoet het nie.

So het Rèan Classen, ’n boer van Groblershoop, op 12 Desember laat blyk toe hy die eerste keer ná Boer soek ’n vrou weer op televisie verskyn het in ’n episode van die kykNET-reeks #OnsBoereOnsInspirasie. Dit was ook die eerste keer dat hy en sy nuwe liefde, Waltela Zeinstra Maree, saam voor die kameras te siene was.

Rèan en sy vorige liefde, Rox-Zee Veldhuizen, was in 2018 een van Boer soek ’n vrou se gewildste paartjies.

Rèan was ’n deelnemer aan die 11de reeks van die werklikheidsreeks waarin die beeldskone Rox-Zee sy hart gesteel het.

Op kamera was hulle smoorverlief en het verloof geraak, maar in April vanjaar het Rox-Zee op Instagram aangekondig dat die verlowing tot niet is omdat sy ouers nie hul verhouding goedkeur nie. Rèan wou niks sê toe hy destyds om kommentaar genader is nie.

Rèan Classen en Rox-Zee Veldhuizen.Foto: Facebook/Rox-Zee Veldhuizen

In Julie het Rox-Zee, ’n boorling van KwaZulu-Natal, ’n nuwe lewe in Kaapstad begin. Sy het in trourokke geposeer vir ’n fotosessie en haar nuwe blyplek en liefde vir Huisgenoot gewys. Op 24 Augustus het sy bekend gemaak sy is in ’n verhouding met JJ Stander, ’n boer van Piketberg. Maar in November het sy stil-stil foto’s van hom en haar van haar Instagram-profiel verwyder.

By navraag het sy toe laat blyk sy wil niks sê nie en haar lewe voortaan “meer privaat hou”. Die twee het mekaar volgens Huisgenoot op Tinder ontmoet.

Sowel haar as JJ se Facebook-profiel het die afgelope tyd geen inligting oor hul verhoudingstatus nie.

Rox-Zee het nie op oproepe of WhatsApp-boodskappe van Netwerk24 gereageer oor navrae hoe haar lewe tans daar uitsien nie. Rèan het ook geswyg. “Ek is by die werk,” is al wou hy wou sê toe hy per selfoon bereik is.

In die episode van #OnsBoereOnsInspirasie is Waltela onder meer saam met Rèan en sy geliefde Jack Russel, Lielie, gewys.

Hy het ’n vreemde pad gestap om liefde te kry, het Rèan op #OnsBoereOnsInspirasie vertel. Hy is glad nie spyt dat hy op daardie manier (Boer soek ’n vrou) liefde gesoek het nie: “ . . . ek is hier op Groblershoop en doen wat ek doen, dit het vir my gevoel ek werk vir my uit ’n vrou uit. Ek moes êrens plan maak om myself net ’n bietjie te adverteer en te sê ek is daarbuite en single. As ek dit nie gedoen het nie, sou ek nooit die meisie gehad het wat ek nou het nie.”

Hy het gesê dit is lekker want Waltela kom kuier baie, kom ook van ’n plaas en verstaan dit daar (waar hy is).

Die twee se verhouding is op 24 September op Rèan se Facebookblad aangekondig. Sy is van Hartswater.

Op 16 November het hy by ’n foto van hom en Waltela geskryf “ooogh die groot lief”. Sy het dit met ’n rooi hartjie in kommentaar daarop beaam. Op Rèan se Facebookblad het mense Waltela as “ ’n regte plaasnooientjie”, “die mooiste meisie ooit, ’n sterretjie en ’n pragtige blom” beskryf.

Rox-Zee het self niks op Facebook geplaas die aand wat Rèan weer vir die eerste keer ná Boer soek ’n vrou op televisie verskyn het nie.

Meer oor:  Rox-Zee  |  Boer Soek 'N Vrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.