Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
'Boer soek 'n vrou': Vonk nie oral ewe sterk
Boer Niel van Grabouw in die Wes-Kaap soen Chereze van Hopefield. Foto: Verskaf

Sommige paartjies in Donderdagaand se episode van Boer soek ’n vrou op kykNET het in hul vakansieweek in die Oos-Kaap vordering gemaak.

Boer Niel van die Wes-Kaap en sy pasmaat, Chereze, het mekaar ’n romantiese soen gegee op ’n piekniek langs ’n rivier, terwyl Marné en boer Déan van Mpumalanga ’n skelm piksoentjie gesteel het toe die ander nie kyk nie.

Die vakansieweek was, anders as in vorige reekse, die eerste keer dat die boere mekaar ontmoet en hulle het lekker oor hul indrukke van mekaar en van hul pasmaats gesels.

“Ek dink Marné is te plain vir Déan,” het Albert van die Wes-Kaap laat val. “Ek dink sy sal ’n goeie vrou maak en alles, maar ek dink hy soek iemand ’n bietjie meer high society.”

Ook Kobus van Gauteng het sy mening gelug: “Marné stel definitief meer in Déan belang as wat Déan in Marné belang stel.”

Dit lyk egter of talle dinge tussen dié twee ongesê gelaat is aangesien Déan meen hulle is in ’n verhouding, terwyl Marné oënskynlik die teendeel glo.

Sy het byna onseker gesê daar is ’n “tentatiewe plan van wat ons sal wil hê moet gebeur”. Hy het gesê: “Ek sien ’n langtermynpad saam met Marné, daai vonk is 100% daar.”

Daarenteen was daar geen teken van ’n vonkie tussen Albert en sy pasmaat, Marlia, nie, en hulle het ooreengekom om net vriende te bly.

Boer Déan van Mbombela, Mpumalanga, en sy pasmaat, Marné. Foto: Verskaf

Albert het gesê hy voel niks anders as vriendskap vir Marlia nie, en die vakansie het dit bevestig. Hulle het ook gesê dat hulle mekaar vyf weke lank – tussen die laaste familiebraai en die vakansie – glad nie gesien het nie. Albert het dit aan werkverpligtinge toegeskryf.

Marlia het gesê dit pla haar dat Albert nie vroeër gesê het hy wil net vriende wees nie. “As ek voor die tyd geweet het dat dit net by vriendskap gaan bly, sou my uitkyk hierdie week anders gewees het, en ek sou beter voorbereid gewees het.”

Sy het gesê sy dink Albert ken haar nie goed genoeg nie en het nie juis moeite gedoen nie. Sy het opgelet dat hy nie eintlik luister wanneer sy praat nie en dit is ’n geval van “by die een oor in en by die ander een uit”. Sy het ook gesê hy het haar onderskat.

Albert het gesê hy gaan beslis alleen by die reünie opdaag.

Kobus het gesê hy gaan waarskynlik iemand aan sy sy hê, en dit is nie een van die vroue wat die kykers op die program leer ken het nie.

“Ná die plaasweek het ek ’n boodskap gekry wat my baie, baie beïndruk het,” sê Kobus. “Sy het my op Boer soek ’n vrou gesien en my nommer by iemand van Randfontein gekry.

“Sy het gesê as ek haar ’n geleentheid kan gee om my lewe te verryk, en sy kom eendag dalk in die hemel, sal my oorlede vrou vir haar dankie sê vir dit wat sy vir my vir die res van my tyd op die aarde gedoen het.”

Albert van Citrusdal in die Wes-Kaap en Marlia. Die twee het besluit hulle gaan net vriende bly. Foto: Verskaf

Volgens Kobus het sy vir hom gesê hy moet die proses voltooi, maar “moenie sy hart vir ’n Delila gee nie”. Hy het gesê hy wil die vrou graag na die reünie bring, hoewel sy skaam is en dit heelwat oortuiging gaan vat.

Kobus het ’n voorspelling gemaak en gesê hy dink Niel en Chereze gaan trou. Volgens hom is daar “baie groot potensiaal” vir hulle. “Ek dink Niel moet daar vashou. Daai is regtig ’n diamantjie.”

Niel het gesê hy geniet Chereze se persoonlikheid en dat sy rustig is en hom rustig laat voel. “Sy bly dieselfde mens, sy sê hoe sy voel, sy sê wat haar pla, sy vra reguit en nie met ompaadjies nie.

“Dit is vir my so lekker om by iemand te wees wat nie my energie tap nie. Sy is die kalmte wat ek nodig het.”

Chereze het gesê sy dink nie dit gaan lank wees voordat dinge tussen hulle ernstig raak nie.

Richann van Vredefort in die Vrystaat en sy pasmaat, René, roei op die rivier. Foto: Verskaf

Déan meen Richann van die Vrystaat en sy pasmaat, René, is ’n baie goeie paartjie. “Sy is die vroulike weergawe van Richann,” het Marné gesê.

Albert het gesê Richann het die skoot hoog deur. “Hy het gesê sy was van die begin af verlief,” het Albert gesê. Richann en René het reeds in die vorige episode verklap dat hulle in ’n verhouding is.

Richann het gesê hy en René leer mekaar nog ken en vind uit hoe hul persoonlikhede verskil. René het gesê: “Ek dink hy gaan my leer om nie ’n beheervraat te wees nie, en ek gaan hom help om nie so loskop te wees nie.”

Die twee is ook albei musikante en kon al heerlik saam musiek maak, het Richann gesê.

Volgende week is die reünie-episode, waar kykers sal uitvind watter boere se verhoudings hou en wie van hulle steeds die pad alleen stap. Kykers sal ook hoor wat gebeur het met die ander vyf boere wat self verder na liefde gesoek het.

Boer soek ’n vrou word Donderdae van 20:00-21:00 op kykNET uitgesaai.

Meer oor:  Boers Soek 'N Vrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.