Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
'Boer soek 'n vrou' vanjaar anders aangepak

Boer soek ’n vrou moes vanjaar heel anders aangepak word omdat die aanbieder, Marciel Hopkins, nie self na die boere se plase kon reis om hulle te ontmoet nie.

Hopkins het Donderdagaand in die eerste episode van Boer soek ’n vrou se nuwe reeks op kykNET digitaal kennis gemaak met die tien boere wat liefde wil vind.

Marciel Hopkins
Marciel Hopkins, die aanbieder, praat op haar selfoon met een van die boere.

Sy het die boere gebel en met elkeen ’n afspraak gemaak om deur middel van ’n video-oproep te gesels.

Die eerste boer wat sy leer ken het, is Niel (32), wat met vrugte in Grabouw in die Wes-Kaap boer. Hy sê dat hy die klein oomblikke in ’n dag saam met daardie spesiale iemand koester en dat dit vir hom belangrik is om haar liefdestaal aan te leer.

“Jy moet die persoon leer ken en weet wat dit is wat die persoon se emmertjie vol hou. Dan wil ek die gewoonte kweek om dit te doen, al is dit om in die oggend ’n beker koffie en ’n blom te kry of om ’n briefie in haar handsak te los.”

Hy sê oor vyf jaar hoop hy om iemand in sy lewe te hê met wie hy alles kan deel – en dalk al ’n baba of twee.

“Ek is baie lief vir kinders, ek wil dit net sê.”

Volgende het sy vir PF (30), ’n vee-, groente- en saadboer van Laingsburg in die Wes-Kaap gebel. Hy het op sy motorfiets gespring en huis toe gery om haar op video te groet.

boer PF
Boer PF skakel in by die video-oproep met die aanbieder, Marciel Hopkins.

Hy sê dit is vir hom belangrik dat die vrou in sy lewe hom ondersteun in die gemeenskapswerk waarby hy betrokke is.

“Ek geniet dit, maar daar is baie opoffering om die gemeenskap te verbeter. Ek sê altyd, ’n man het ’n vrou se sagte hand nodig.”

Hy sê hy soek ’n liefde wat begin by ’n goeie vriendskap, maar wat ook die nodige passie en aangetrokkenheid het wat nodig is om dit te laat werk.

marciel hopkins
Boer Marthinus gesels met Marciel Hopkins op sy selfoon.

Marthinus (25) van ’n gemengde boerdery in Arlington in die Vrystaat het in ’n WhatsApp-oproep vir Hopkins meer vertel van ’n ongeluk waarin sy hond, Winston, was.

Hy sê die hond het een dag van die bakkie af gespring en sy heup op twee plekke gebreek, en ondanks behandeling kon die been nie gered word nie. “Nou is hy maar ’n tripod,” sê Marthinus.

Hy is baie lief vir diere en ’n vrou wat sy honde van die sitkamerbanke afjaag, sal nie by hom op die plaas aard nie. Hy sê hy kyk na die verhouding tussen sy oupa en ouma, en ook dié van sy ouers, as ’n voorbeeld van ’n goeie liefdesverhouding.

Hannes (52) bedryf ’n gemengde boerdery in Kroonstad in die Vrystaat en sê hy sal graag iemand wil hê om hom styf te druk en te soen.

Hy het ’n 18-jarige dogter en sê hulle twee kom baie goed oor die weg.

“Ons het ’n wonderlike verstandhouding. Alle boere wil altyd ’n seun hê, maar kyk, ek verruil nie my dogter vir 1 000 seuns nie.”

Hy sê hul persoonlikhede is baie eenders en dit veroorsaak soms wrywing.

“As sy eers vir my iets wil verduidelik, dan wil ek dit verloor, Marciel,” sê hy.

Déan (28), wat in Mbombela, Mpumalanga, met makadamianeute boer, sê hy het ’n droë sin vir humor en hou van grappe maak, maar is nie geniepsig nie.

“Ek is ook baie perfeksionisties en het ’n bietjie OCD. Ek wil alles vooruit beplan en nie sommer net inspring in ’n ding nie.”

Déan is ook ’n vlieënier en sê hy voel die vryste wanneer hy vlieg.

“Daar is niks, behalwe soms ’n voël, wat in jou pad kan staan of jou kan terughou nie. Dit is amper moeilik om te beskryf.”

Kobus (52), van ’n gemengde boerdery in Randfontein, Gauteng, is ’n oudpolisieman en was al twee keer getroud. “Ek dink ’n mens kry verskeie kanse op liefde, maar ’n mens moet op die regte liefde afkom. Ek was 27 jaar met ’n wonderlike vrou getroud, en daarna weer vir ses jaar, maar dinge het nie uitgewerk nie,” sê hy.

“Ek is nou weer reg om aan te gaan, veral om langs daardie spesiale persoon wakker te word. ’n Man wat lank saam met iemand was, is nie gewoond om alleen te wees nie. Ek sien uit na daai eerste oggend, sjoe. Om saam met ’n mooi mens wakker te word.”

Mathys (25), wat met skape, beeste en bosbou in Dullstroom, Mpumalanga, boer, sê dat die vrou wat na sy plaas toe kom, die plaaslewe moet ken en daarvoor moet lief wees.

“Die plaaslewe is lekker en dit is mooi, maar dit is ook ’n besigheid. Die plaas gee baie, maar dit vra ook baie.”

Hy sê sy ideale pasmaat moet weet, sy gaan dans.

“As sy nie kan dans nie, sal ek haar leer. Maar dans, sal sy dans.”

Richann (29), wat met skilderbokke in Vredefort in die Vrystaat boer, is ook ’n musikant in sy vrye tyd.

boer richann
Boer Richann op ’n video-oproep met Marciel Hopkins.

“Ek gaan nie uit my pad om anders te wees nie,” sê hy. “Maar dit is lekker as daar iets anders is aan jou identiteit. Ek sal nooit ophou musiek maak nie.”

Skryf hy soms ’n liedjie vir iemand?

“Ek sal nie sommer vir elke tweede mens ’n liedjie skryf nie. Dit kom nogal uit ’n diep plek uit.”

Hopkins het vir Richann gevra of hy iets met sy lewe wil doen waarvoor mense hom sal onthou.

“Ek dink nie ek wil noodwendig deur ander mense onthou word nie, maar ek wil ’n paar mense se lewe raak en die tyd wat ek het saam met mense geniet.”

Stephan (40), ’n bees- en saaiboer in Lichtenburg, Noordwes, sê hy was nog altyd ’n bietjie skaam om iemand uit te vra of om te wys hy stel belang.

Hy glo sy reis op die program sal dalk vir ander wys hy is reg vir liefde ná al sy reise. Hy het voorheen in Amerika, Londen en verskeie Afrika-lande gewerk.

Volgens hom is alles anders reg, nog net die regte persoon in sy lewe ontbreek. Hy sê hy is ook mal oor kinders en sal graag ’n goeie pa wil wees wat sy kinders empatie met ander leer.

Die Boer soek ’n vrou-span is weer vanjaar in Clanwilliam, die keer by Albert (24) wat met rooibostee, sitrus en skape boer. Hy het ’n liefde vir fotografie en het selfs sy eie fotografie-onderneming gehad waar hy troues en ander gesellighede afgeneem het.

Hy sê hy het al voorheen oorweeg om in te skryf vir die program, maar sy huis se kombuis was nog nie klaar nie. “Die kombuis is beslis vir my toekomstige vrou,” skerts hy.

“Ek hou van kosmaak, maar nie so baie nie.”

Hy sê ’n verhouding sal net werk as daar kommunikasie en wedersydse respek is. Sy sal ook moet aard op die plaas, sê hy.

Boer soek ’n vrou word Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai. Kykers wat nie genoeg van Boer soek ’n vrou kan kry nie, kan nou op die DSTV NOW-app deelneem aan aktiwiteite wat verband hou met die gewilde werklikheidsreeks. Dit sluit speletjies en vasvrae in, terwyl kykers ook in aanmerking kan kom om ’n Hilux-bakkie te wen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.