Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Boer soek vrou: ‘Al die vroue wat kyk wil stukkie hê’

“Al die vroue wat dit gekyk het wil dan ’n stukkie hê van hierdie famous boer,” skerts Ina Wentzel.

Sy is in 2014 met Jacobus Wentzel getroud nadat die paartjie mekaar in die derde reeks van die realiteitsprogram Boer soek ’n vrou ontmoet het.

Die tiende reeks van die program het Donderdag afgeskop en in die eerste episode het die vervaardigers gaan inloer by vier boere wat aan vorige reekse deelgeneem het.

Jacobus en Ina

Dit het kykers ’n blik gegee op hul lewens noudat die kameras ophou rol het.

Ina sê paartjies wat op Boer soek ’n vrou ontmoet, moet hulle voorberei op ’n moeilike tyd as die opnames eers verby is, maar gelukkig het Jacobus net oë vir haar.

Hulle het twee kinders, ’n dogtertjie, Marina, wat op pad 2 toe is, en ’n baba, Jacobus. Hulle wil sommer gou nog ’n kind hê.

“As jy ’n lewensmaat kies moet dit iemand wees wat, as jou kind heelnag wakker is, julle mekaar steeds kan verstaan en nie verskree nie. Jy moet geduld aan die dag kan lê, jy moet ’n pad kan stap met daai vrou en saam kan lag. En as al daai goed in plek val, dan raak daai vrou seker die mooiste vrou ooit,” sê Jacobus.

Boer Luwdig Oberholzer van Ficksburg in die Vrystaat wat aan die tweede reeks deelgeneem het, sê vroue het ’n wanpersepsie oor wat die plaaslewe werklik behels.

Sy vrou, Zelma, wat hom lank voor die televisiereeks geken het, stem saam met hom.

Zelma en Ludwig

“Vroue dink dis net maanskyn en rose en kolwyntjies bak”.

Hulle het mekaar by die Fauresmith-uithouwedren in 2005 ontmoet en is in 2013 getroud.

Zelma, wat swanger is met die egpaar se tweede kind, sê sy het geweet sy het nie ’n maklike perd opgesaal nie.

“Daar gaan baie ure in die plaas in en dis harde werk. Ek dink dit stel ’n goeie voorbeeld vir jou kind om te wys hard werk gaan jou iewers bring en als val nie net in ’n mens se skoot nie,” sê Zelma.

Boer Hubert Adendorff en Angelique se liefdesverhaal het wel nie voor die kameras afgespeel nie, maar selfs al het dit, en met die mededinging wat daarmee saamgaan, glo sy daar sou ’n gelukkige einde gewees het.

Adendorff was nie onder die top-5-boere van die vyfde reeks nie, maar hy het Angelique se brief eerste opgetel toe hy die program moes groet, haar gebel, en die res is geskiedenis.

Hubert en Angelique

“Soms is ek dankbaar daarvoor, maar ek glo dit sou nog steeds so uitgewerk het,” sê sy.

“Jy kan 300 briewe kry en nie regkom nie, maar jy kan ook net vier kry en dan kan jy steeds Die Een vind,” het Adendorff in Donderdagaand se episode gesê.

Hulle het kort nadat hulle getroud is, hul eersteling, Hubert, verwag en het intussen ook ’n dogter, Catharine, ryker geword. “Ek dink nie dit word beter as dit nie,” sê Adendorff.

’n Hoogswanger Carna en haar boer-man Gerrie Rossouw het geskaterlag tydens die vervaardigers se besoek vir die opname van Donderdag se episode. Hul dogter, Sanri, is sowat ’n maand gelede gebore. Hulle is in 2015 getroud nadat hulle mekaar in die sewende reeks van die program ontmoet het.

Gerrie en Carna

“Almal soek net ’n gelukkige einde,” sê Gerrie, wat in die Bothaville-distrik boer, oor die feit dat hul verhouding soveel openbare belangstelling lok. “Toe ek ingeskryf het, het ek regtig nie gedink ek gaan hier sit nie; getroud en met ’n dogtertjie op pad, al het ek natuurlik daarvoor gehoop. ’n Mens kan sê dis ’n sprokiesverhaal wat uitgewerk het.”

Daar gaan in die volgende twee episodes van Boer soek ’n vrou by nog vorige deelnemers aangeklop word voordat die nuwe tien boere hul soeke na liefde op 2 November begin.

* Boer soek ’n vrou word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.