Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Boer soek vrou’: Onsekerheid, jaloesie steek kop uit

Ná die vroue se eerste aand op die boere se plase het twyfel en jaloesie begin kop uitsteek en die vroue het in Donderdagaand se episode van Boer soek ’n vrou bespiegel dat die boere reeds hul keuses gemaak het.

“Ons kon nie regtig gesels nie,” het Michellé (50) gesê die eerste oggend wat hulle wakker geword het op Kobus (53) se plaas in Randfontein, Gauteng.

“Op pad (na die ontbytplek) het ons gesels. Of, nie ons nie. Hy en Maxie,” het sy gesê.

Kobus van Randfontein, Gauteng, saam met Maxie en Michellé. Foto: Verskaf

“Direkte kommunikasie met Kobus is in hierdie stadium ’n struikelblok,” het Michellé later die dag herhaal.

“Ek probeer ook maar my bes om hierdie band met hom te sluit, maar as ek iets begin sê dan praat Maxie my dood.”

Maxie sê dat sy en Kobus op die eerste aand op die plaas met ’n koppie koffie gesit en gesels het terwyl die ander twee, Michellé en Lynette (48), gaan bad en stort het.

“Hy was so ’n gentleman om vir my ’n skuimbad in te tap,” sê sy.

Kobus en die vroue geniet ontbyt. Foto: Verskaf

Ook Lynette het gesê sy merk op dat Maxie en Kobus lekker gesels en dat hy skynbaar ’n bietjie meer aandag aan haar gee.

“As ek eerlik en reguit moet wees kan ek nie Kobus en Michellé sien as ’n paar nie. Definitief nie.”

Michellé sê: “Ek sal baklei vir Kobus en om hom te kry waar ek hom wil hê. So ek dink daar is krapperigheid tussen my en Maxie. Maar ek sal nie daai lelik laat uitkom nie. Ek is nie daai tipe mens nie.”

In Grabouw in die Wes-Kaap het Sheri (26) te kenne gegee dat die egskeiding in boer Niel (33) se verlede “ ’n bitter pil is” vir haar om te sluk.

Niel van Grabouw in die Wes-Kaap. Foto: Verskaf

Niel het op die eerste aand wat die vroue op die plaas gekuier het, teenoor hulle oopgemaak oor sy egskeiding en hulle vertel wat daartoe aanleiding gegee het. Daar was nie kameras teenwoordig nie.

Dit het ook bekend geword dat twee van die vroue, klaarblyklik Chereze en Monique, voorheen verloof was.

“Daar is bietjie van ’n tweestryd,” het Sheri gesê.

“Ek dink hy het baie potensiaal in sy karakter en ek hou baie daarvan. Ek dink net omrede die ander ook al seer gehad het in hul verlede kan hulle Niel se seer ook verstaan.

Niel maak saam met Chereze, Monique en Sheri skemerkelkies. Foto: Verskaf

“Vir my is dit nog ’n swaar pil om te sluk om meer te weet van sy egskeiding. Ja, ek het dit aan die begin geweet, maar ons het nie geweet wat die hele storie is nie. Dit is vir my moeilik om so baie inligting in ’n kort tydjie te verwerk.”

Monique het gesê sy het dit geniet om ’n dieper gesprek met Niel te hê omdat daar baie gelyke te tref is tussen hulle.

Chereze het gesê “in ’n mate voel ek ek gaan huis toe vanaand. Daar is iets wat vir my sê ek moet myself voorberei.”

Niel het erken: “Daar is twee persone wat vir my meer uitstaan wat ek dink ek sal verder wil leer ken.”

Geld en welvaart was ’n besprekingspunt op Déan (29) se plaas in Mbombela, Mpumalanga, nadat hy Megan, Marné en Marinel op ’n helikopterrit geneem het.

Déan neem Megan en Marinel (agter) en Marné op ’n rit in ’n helikopter. Foto: Verskaf

“Ek het nie geweet hulle het ’n vliegtuig of ’n groot huis nie,” sê Marné.

“Dit is baie belangriker om ’n persoonlike konneksie met iemand te hê. Die persoon is baie belangriker as die dinge wat jy het.”

Megan sê: “Ek dink ons kom van baie dieselfde omgewing en leefstyl. Ek sal definitief kan inpas, maar jy kan die rykste mens op aarde wees en die meeste geld hê, maar leefstyl kan jou ook net só ver bring. Dit is wat binne is wat saak maak.”

Marinel wou by Déan weet: “Is jy bederf?” Hy het geantwoord: “Ek is bederf, maar nie op ’n lelike manier nie. Ek is nie iemand wat misbruik maak van enigiets nie.”

Hy het later gesê daar is een van die meisies wat veral vir hom uitstaan tussen die drie en wat gaan bly tot die einde, en die vroue het gegis dat dit Megan is.

Ook die vroue op die plaas van Richann (30) in Vredefort in die Vrystaat het kommentaar gelewer oor wie gaan bly en wie gaan gly.

Richann speel kitaar vir René, Marizel en Annemien. Foto: Verskaf

“Ek dink nie ek en Richann sal so goed bymekaar pas soos die ander dames nie,” het Marizel (23) gesê.

“Hulle het baie meer belangstellings in gemeen.”

Annemien sê: “Ek dink hy is ’n baie oulike en ’n goeie ou. Ek dink net hier is ander dames wat beter pas by hom as ek.”

René wou nie bespiegel oor wie die beste by hom pas nie. “Ek wil nie sê ék pas die beste by hom nie, want dit is nie noodwendig waar nie.”

Albert (25) van Clanwilliam in die Wes-Kaap se moontlike pasmaat, Mariska (25), het gesê sy dink hy leun meer na Marlia se kant toe. “Ek is nie blind nie, ook nie dom nie.”

Marlia en Albert by die Clanwilliamdam. Foto: Verskaf

Trudie (23) het ook opgemerk dat Marlia en Albert “baie dieselfde tipe mense is” en volgens haar op dieselfde manier dink.

Marlia het weer gesê sy dink Albert en Mariska kom beter oor die weg, want Mariska het ook op ’n plaas grootgeword en hulle het baie in gemeen.

Boer soek ’n vrou word Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.

Meer oor:  Boer Soek N Vrou  |  Reeks 13
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.